Verdediging van Die Strand se sewe aantygings

Die NG gemeente Die Strand het op 9 Junie 2021 tydens hulle kerkraadsvergadering besluit om te doleer en het ’n brief aan die gemeente gestuur waarin gesê word dat daar tans ruimte is in die NG Kerk oor die volgende geloofskwessies:

  1. God is deur mense uitgedink en alles het deur evolusie tot stand gekom.
  2. Satan se bestaan en die sondeval as historiese gebeurtenis.
  3. Jesus se maagdelike verwekking en fisiese opstanding.
  4. Mense van ander gelowe kan ook gered word.
  5. Die Bybel is nie God se Woord nie, maar mensewoorde oor God. Dis ‘n boek wat geskryf is vir die mense van daardie tyd, en ons hoef net dit wat vir ons relevant is, te glo. Aanpassings om die gees van die tyd te pas, mag ingelees word.
  6. Verdraagsaamheid is belangriker as wat die Bybel duidelik sê.
  7. Elke mens self sy eie geslag kan bepaal.

Beide die moderator, Nelis Janse van Rensburg en die voorsitter van die Ring van Somerset-Wes, Christo Benadé het op hierdie brief reageer en ontken dat die beweringe waar is (kyk HIER en HIER).

Nelis gaan so ver as om te sê:

…daar is geen standpunt of besluit van die Algemene Sinode van die NG Kerk, of van enige ander van die deelnemende sinodes van die Algemene Sinode wat enige van die stellings wat gemaak word, ondersteun nie. Die kerkraad se stellings is onverstaanbaar aangesien dit nie moontlik is om op ‘n redelike wyse tot so ‘n interpretasie van die helder besluite en duidelike standpunte van die Algemene Sinode oor elkeen van hierdie sake te kom nie.

‘n Mens moet begin deur te sê dat Die Strand se brief NIE pertinent sê dat al bogenoemde amptelike sinodebesluite is nie. Die feit is egter dat daar baie lidmate en predikante in die NG Kerk is wat hierdie dwaalleringe aanhang en niks word aan hulle gedoen nie (kyk Reëls help niks as jy dit nie toepas).

Kom ons beoordeel die sewe stellings wat Die Strand gemaak het:

  1. Dwaling 1: God ’n afbeelding. Alles van evolusie.
  2. Dwaling 2: Satan, sondeval bestaan nie
  3. Dwaling 3: Maagdelike verwekking en opstanding
  4. Dwaling 4: Redding moontlik vir ander gelowe
  5. Dwaling 5: Gesag van die Bybel
  6. Dwaling 6: Verdraagsaamheid belangriker
  7. Dwaling 7: Mens bepaal eie geslag

**********

Dwaling 1. God is maar net ‘n afbeelding van dit wat ons wil glo en alles het deur evolusie tot stand gekom.

In God: uitgedink deur mense word gewys hoe sewe mense in die kerk (waarvan drie of vier van hulle in die NG Kerk is) sê dat mense self god uitgedink het om byvoorbeeld onverklaarbare dinge te probeer verklaar.

Tydens die 2013 Algemene Sinode is amptelik besluit om Louis Jonker se ses gesprekspamflette “Oor geloof en die wetenskap” te ondersteun. In hierdie dokument word onder andere die volgende gesê:

  • Genesis 1 is die eerste keer tydens ballingskap (ongeveer 600 vC) geskryf.
  • Genesis 1-3 word gesien as nie-letterlike verhale. Daarmee word ‘n streep deur die sondeval getrek.
  • Daar word voorgestel dat die integriteit van die natuurwetenskappe (wat die oerknal en evolusie insluit) aanvaar word as “hoogs-ontwikkelde kennisvelde”. Daar word geïnsinueer dat enige ander geloof oor die skepping “kwasi-wetenskaplik” is.
  • Daar word onderhoude gevoer met Jurie van den Heever en Hendrik Geyser. Jurie sê dat intelligente ontwerp “op verskeie vlakke geweeg en te lig bevind” is. Die implikasie hiervan is dat daar nie ‘n Ontwerper nodig was om die heelal te skep nie, maar dat dit vanself (kon) ontstaan. Hy sê ook dat die mens dierlike voorvaders gehad het. Die dokument probeer hoegenaamd nie hierdie idees te weerlê nie.

Tydens die 2015 Algemene Sinode is weer ’n dokument (Geloof en die wetenskap 2015) ondersteun wat basies op dieselfde neerkom as Louis Jonker se gesprekspamflette.

Ook tydens die AS 2013 het die Eietydse Uitleg van die Apostoliese Geloofsbelydenis gedien. Die Sinode het besluit:

Die Algemene Sinode bedank die teoloë uit die NG Kerkfamilie wat die dokument, Die Apostoliese Geloofsbelydenis – ’n Eietydse uitleg, as geskenk vir die Kerkfamilie voorberei het. Bybel-Media, wat ’n sewe-weke gespreksgids, gerig op lidmate, oor die dokument ontwikkel, word ook bedank.

By par 90 staan daar:

“Die belydenis van God as Skepper kom ’n lang pad. Van die vroegste tye het mense gewonder: Waar kom die wêreld nou eintlik vandaan? Was dit nog altyd daar? Waar kom ons as mense vandaan? Jode, Christene en Moslems, saam met baie ander godsdienstige tradisies, ook vanuit verskillende Afrika-kontekste, beantwoord hierdie soort vrae deur te sê dat die wêreld uiteindelik van God af kom. Dit is nie die enigste moontlike antwoord nie, want mens kan ook glo dat dit nog altyd daar was, dat dit bloot toevallig ontstaan het of dat die wêreld die noodwendige produk van iets anders is. Waar hierdie opvatting dat alles van ’n skepper afkomstig is oorspronklik vandaan kom, is onseker. Dit het waarskynlik te make daarmee dat vroeë opvattings van plaaslike godhede (wat jou voorspoed moet help verseker) lang-samerhand uitgebrei het tot ’n godheid wie se heerskappy universeel is.

Dwaling 2. Die satan bestaan net as jy in hom wil glo en sondeval, erfsonde hoef nie deel van jou bestaan te wees nie.

Beide die AS besluit van 2011 en 2013 maak amptelik ruimte vir mense om nie in die duiwel te glo nie. Hier is die bewoording van punt 7:

Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.

In 2013 is die bewoording van punt 7 ietwat verander, maar dit sê steeds presies dieselfde:

Daar is lidmate wat die persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar, en daar is lidmate wat die nie-persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar. Albei standpunte erken die realiteit van die bose.

Dit is oor hierdie besluite waarvoor 10 beswaarskrifte ingedien is. Dit is hierdie besluite wat Ben du Toit beskerm het toe Wynand Louw hom aangekla het van leerdwaling omdat hy nie in die duiwel geglo het nie. Na hierdie mislukte poging kon Ben du Toit steeds in sy pos in die NG Kerk aanbly tot sy aftrede in 2018 en uiteindelik in 2020 erken dat hy nie aan ’n god glo nie. Dit is ook hierdie besluite wat maak dat Julian Müller die duiwel baie blatant kan ontken soos hy dit hier gedoen het:

Kyk ook die dokument Geloof en die wetenskap 2015 wat tydens die 2015 AS goedgekeur is as gespreksdokument. Daarin word onder andere gesê dat Jesus nie werklike bose geeste in varke ingejaag het volgens Markus 5:1-21 nie. Dit is ook slegs voorwetenskaplike mense wat aan die bestaan van bose en onrein geeste/figure/wesens glo.

Dit is onnodig om te sê dat hierdie besluite baie duidelik teenstrydig met die Bybel én die NG Kerk se belydenisskrifte is. Vir meer hieroor, kyk:

Dwaling 3. Omdat Jesus se maagdelike verwekking en fisiese opstanding nie wetenskaplik moontlik is of bewys kan word nie, hoef jy dit nie te glo as jy nie wil nie. Elkeen kan self besluit of dit vir jou sin maak.

Hier gaan dit moontlik nie soseer oor wat die amptelike siening van die NG Kerk is nie, maar eerder wat word gedoen aan predikante en teoloë wat van hierdie siening afwyk? (As ons aanvaar dat ons hier van Jesus se liggaamlike of fisiese opstanding praat en nie sommer net ’n metaforiese opstanding nie.)

  • Reeds in 2000 bevraagteken Ben du Toit beide die maagdelike verwekking en Jesus se liggaamlike opstanding in sy boek God? Geloof in ’n postmoderne tyd. En daarvoor ontvang hy die Andrew Murrayprys.
  • In 2003 verbreek die hele Sinode van Noord-Transvaal hulle legitimasie-eed toe hulle nie ’n kategoriese uitspraak wou lewer oor die geskiedkundigheid van die maagdelike geboorte of Jesus se liggaamlike opstanding nie (kyk Sinode vir eers stil oor maagdelike geboorte).
  • Ferdie Mulder het in 2006 drie van sy dosente, Julian Müller, Jurie le Roux en Dirk Human van teologiese dwaalleer aangekla omdat hulle Jesus se liggaamlike opstanding verwerp het. In sy ywer vir die saak het hy foute gemaak en is lewenslank geskors. Al drie professore het egter losgekom. Lees meer hieroor in sy boek Opgestaan. Studente se stryd om geloof by Tukkies in die jare 2001 tot 2006.
  • In 2003 het Julian Müller in ‘n openbare lesing tot die konklusie gekom dat daar meer ruimte moet wees vir verskeidenheid binne die kerk, wat blykbaar die opstanding insluit. Willem Nicol het daarby aangesluit en beweer dat enigiemand nou welkom is om predikant in die NG Kerk te word, ook diegene wat Jesus se letterlike opstanding uit die dood (dus ook die leë graf) verwerp (kyk Wie is Willem Nicol?).
  • In Februarie 2009 publiseer Adrio König sy boek Die evangelie is op die spel. Die hooftema van die boek is dat indien Jesus se opstanding ontken word, is die evangelie op die spel. Waarom ‘n hele boek daaroor skryf as dit nie ‘n kwessie in die NG Kerk is nie?
  • In 2012 skryf Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk, in ‘n Facebookgesprek (Wie val wie aan) hoe belangrik die opstanding is. Toe hy egter gevra word of hy hom dan by Ferdie Mulder skaar of by Julian Müller en Jurie le Roux, toe wil hy nie kant kies nie. In ’n persoonlike e-pos sê Ferdie egter dat Nelus deur dik en dun by Müller en Le Roux gestaan het in 2005.
  • In 2014 bevraagteken Dr Willie Cilliers van NG Kerk Kuilsrivier Moedergemeente openlik die maagdelike verwekking in ’n uitdeelstuk.

Om terug te kom na die saak van Ferdie Mulder teen Julian Müller, Jurie le Roux en Dirk Human:

Ten spyte van baie duidelike getuienis wat die klaers aangebied het oor die uitsprake van Jurie le Roux en Julian Müller is hulle nogtans onskuldig bevind in 2006. Dit lyk of die belangrikste bevinding van die kommissie(s) was dat die aangeklaagdes nie van bestaande besluite van die Algemene Sinodes afgewyk het nie:

“Dit was vir die kommissie duidelik dat prof Le Roux nie van die hermeneutiese verstaanraamwerk, soos neergelê deur die Algemene Sinode (1998, 2000 en 2002) rakende: Die Gesag Van Die Skrif, Belydenisskrifte As Historiese Dokumente, Die Messiaanse Tekste, Die Verstaan En Funksie Van Die Ou Testament In Die Kerk, afgewyk het nie”

(Uit Kerk se onreg teen Ferdie Mulder en Ring van Pretoria-Oos Bevinding van ondersoekkommissie oor klag teen Prof. Jurie Le Roux).

In die uitspraak teen Julian Müller het die Tukkiesverhoor die volgende bevind:

“Na ’n bykans vierdaglange verhoor, ’n transkripsie van bykans 1 000 bladsye, en die voorlegging van bundels van 623 bladsye, kan hierdie Tribunaal met absolute oortuiging, sonder die geringste twyfel, die volgende bevinding maak: daar is geen reël in die NG Kerk wat verg dat iemand moet glo in terme dat Jesus Christus histories-letterlik en liggaamlik uit die dood opgestaan het nie. Geen enkele Bybelteks is voorgelê vir die proposisie nie. Geen belydenisskrif, geen Sinodebesluit, geen direktief, geen geskrif, geen teologies gefundeerde artikel, is voorgelê om hierdie stelling te onderskryf nie. Daar hoef slegs in die opstanding geglo te word – die geloof in die wyse van opstanding is nie voorgeskryf nie”(Uitspraak, 20 November 2006: 38).

(Uit Opgestaan, bladsy 189)

Dus kan mens ook hier redeneer dat ’n amptelike liggaam van die NG Kerk (die Ring van Pretoria) besluit het dat daar ruimte is vir mense in die NG Kerk om nie in Jesus se liggaamlike opstanding te glo nie.

Kyk ook:

Dwaling 4. Ons het nie die alleenreg op redding nie en elkeen kan deur hulle eie gode te dien of godsdienstige reels nakom, in die hemel uitkom. Daarom kan ons mense van alle gelowe ons broers en suster in die geloof noem.

In ‘n RSG-gesprek op 5 Mei 2019 sê professor Louis Jonker die volgende:

  • “Baie keer is mense onthits om te hoor dat Abraham nie ’n Christen was nie”
  • “Ek dink dit is die verkeerde vraag om te vra: “Wie se god is die regte god?” Ek dink ons moet ’n tree terug gee om te sê dat ons as mense bewus raak van ’n opperwese op verskillende maniere.”
  • “Ek dink nie mens neem iets van die Christendom weg om ook te sê dat Christus se reddingswerk kan ook wyer strek as net diegene wat binne die Christendom is en wat Christus geken het nie.”

Frits Gaum het ook die volgende gesê:

“Ek het ’n baie goeie antwoord by hom gekry (Desmond Tutu) . . . hy het gesê dis nie die enigste pad nie, maar dis ’n unieke pad na God.”

(Kyk Bestaan daar net een pad na God?)

Daar is heelwat meer teoloë wat soortgelyke universalistiese uitsprake gemaak het. Kyk Lys van teoloë wat liberale uitsprake gemaak het onder die kolom “Red” in die tabel.

Dwaling 5. Die Bybel is mense se woorde oor God en dele daarvan moet as mites verstaan word en is dus nie nodig om te glo nie. Dis ‘n boek wat geskryf is vir die mense van daardie tyd, en ons hoef net dit wat vir ons relevant is, te glo. Aanpassings om die gees van die tyd te pas, mag ingelees word.

Die amptelike 2002 besluit oor skrifgesag bevat woorde soos:

  • “menslike karakter van die Skrif”
  • “gewone mensewoorde”
  • “die Bybel as menslike boek”
  • “menslike “foute” in die Bybel”
  • “wetenskaplike “swakheid”
  • “geen aanspraak op historiese eksaktheid nie”

Dit is op grond van onder andere hierdie besluit dat Jurie le Roux onskuldig bevind is (soos hierbo gesê).

In ’n baie groot mate sê die twee dokumente oor die wetenskap en geloof wat deur die Algemene Sinode ondersteun is in 2013 en 2015, ook dieselfde.

Dwaling 6. Die AS plaas klem op diversiteit en verskil van menings en haal etlike Bybel tekste aan om aan te toon dat daar verdraagsaamheid en aanvaarding van meningsverskille in die vroegste Kerk was. Nie een van daardie kwessies kan van toepassing gemaak word op SGV wat by implikasie afgemaak word as ‘n randsaak.

Die afgelope jare het kerkleiers, veral Nelus Niemandt, menigmale na die NG Kerk as ’n “ruim huis” verwys. Daarmee word bedoel dat ’n verskeidenheid van sieninge in die NG Kerk geakkommodeer (moet) word. Kyk Moderator besing NG “suksesse”, maar oor heelwat besware swyg hy.

Die Algemene Sinodale Moderamen het amptelik ‘n Gids oor selfdegeslagverhoudings (9 Oktober 2020) uitgereik wat lidmate “leiding gee” oor selfdegeslagverhoudings. In paragraaf 3.1.1 en 3.1.2 word Handelinge 15 en Romeine 14 op bedrieglike manier ingespan om te redeneer dat ons in die kerk mag verskil oor selfdegeslagverhoudings. Kyk Beoordeling van ASM se “Gids” oor selfdegeslagverhoudings, paragraaf 6.

In ‘n video op 18 Januarie 2021 gebruik Nelis Janse van Rensburg dieselfde argumente as wat in die Gids verskyn.

In dieselfde gids oor SGVs word daar in paragraaf 3.3 aangevoer dat SGVs ’n randsaak is.

Kyk ook Handelinge 15 gebruik om homoseksualiteit in die kerk te normaliseer.

Dwaling 7. Dat elke mens self sy eie geslag kan bepaal en verander kan na gelang van omstandighede

Punt 6.5 van die amptelike besluit oor selfdegeslagverhoudings in 2019 lui soos volg:

ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en -identiteit.

Die woorde “seksuele oriëntasie en -identiteit” beteken dat dit die hele spektrum van LGBTQIA+ insluit. “T” staan vir transgender/transseksueel. Dit is mense wat gewoonlik geslagsoperasies ondergaan.

Die moderator, Nelis Janse van Rensburg, het self gesê:

Ek is oortuig dat seksuele oriëntasie ’n goeie gawe uit God se hand is wat ons met dankbaarheid mag ontvang en met sorg moet koester.

**************

‘n Mens sou as jy wou, nog ’n kwessie by hierdie sewe punte byvoeg:

Dwaling 8: God kan ook as ’n vrou gesien word

Die kuratorium van Stellenbosch se teologiese fakulteit het die siening verdedig dat God ook as vroulik gesien en aangespreek kan word – kyk Opsomming: God is vrou, “Heilige prisma” tydens legitimasiediens op 29 Maart 2021. Dit is ten spyte van ’n lang gesprek met Stefaan de Jager.

Ten slotte

Dit is baie duidelik dat Nelis totaal verkeerd is met sy stelling.

In Nelis se brief sê hy verder:

Dit is hartseer dat die kerkraad hierdie posisie inneem in weerwil van al die opsies om met verteenwoordigers van die kerkverband, hetsy op rings- of sinodale vlak, in gesprek te tree en op grond van ‘n korrekte feitestel standpunt in te neem.

Die rede hoekom Die Strand nie van hierdie opsie gebruik gemaak het nie is omdat etlike voorbeelde in die geskiedenis gewys het dat hierdie roete absoluut niks help nie – kyk Lys van pleitskrifte aan NG Kerk leierskap en Lys van leerdwaling aanklagtes.

1 thought on “Verdediging van Die Strand se sewe aantygings”

  1. Baie dankie Daniel vir hierdie monumentale stuk werk!! Puik gedoen– ek sou graag die verweer hierteen wou sien. Ek kan nie sien watter argumente hierteen ingebring kan word nie. Stilswyend is daar al die jare goedkeuring verleen aan al hierdie dwalinge.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui