Kerk se onreg teen Ferdie Mulder

Kyk ook:

Die volgende kom uit Voorlegging aan die SDK – Jan Louw, 10 Oktober 2012, deur Jan Louw.

**********

Ek wil die tragiese gebeure by die Teologiese Fakulteit Pretoria in 2005 onder hierdie hofie te berde bring. Ek doen dit omdat dit vir my wil lyk of ons kerkleiers hulle bes doen om daardie gebeure onder die mat in te vee. Die werklikheid is dat die gebeure by Tukkies in 2005 waarskynlik in die geskiedenis van die NG Kerk aangeteken sal word as een van skandelikste gebeurtenisse in die geskiedenis van ons Kerk.

’n Groep studente onder leiding van Ferdie Mulder het, na jarelange gesprekke, onbeantwoorde briewe en kommer, beswaar aangeteken teen die uitsprake van sommige dosente, veral oor die opstanding van Jesus. Ferdie het uiteindelik saam met senior studente soos Johannes Mahne en Riaan Rossouw met ’n petisie begin onder die studente. Hulle aksie het op hulle geboemerang. Die dosenteraad onder leiding van prof Cas Vos het met mening op hulle toegeslaan. Die skriba van die kuratorium, Flip du Toit, het die studente met moontlike regsaksies per SMS gewaarsku. Selfs swart studente van die Presbiteriaanse kerk is gewaarsku deur Prof Graham Duncan nadat hy met dr Flip du Toit gesels het. Dit is opgevolg met nog SMSe en ’n amptelike brief met die sanksie van die kuratorium. Die studente het onder al die dreigemente van hulle owerhede, die een na die ander onttrek en uiteindelik het net Ferdie oorgebly. Een student het later die volgende oor die gebeure geskryf:

Ek het in 2005 by Tukkies begin teologie swot, en was een van die wat destyds Ferdie Mulder se verklaring onderteken het (en ONGELUKKIG daarvan onttrek het uit onkunde, nadat ons met regstappe gedreig is).

Ferdie het toe voortgegaan deur die dosente volgens die Kerkorde by die onderskeie Ringe waar hulle ingeskakel was, aan te kla. Daar was klagtes teen Proff. Julian Müller, Dirk Human en Jurie le Roux. Die Ringe het al die klagtes van die hand gewys.

Die Universiteit het toe onder aansporing van die dosente ’n tugondersoek teen Ferdie begin, wat gelei is deur regter Buddy Swart en advokate het die betrokke partye bygestaan. Advokaat Du Toit het namens Müller getuig: “Daar is geen reël in die NG Kerk wat verg dat iemand moet glo dat Jesus Christus histories-letterlik en liggaamlik uit die dood opgestaan het nie” (Opgestaan, bl 189). Dit was verklaar ondanks ’n groot hoeveelheid getuienis oor die liggaamlike opstanding van Jesus wat Ferdie ingedien het.

Regter Swart het uiteindelik beslis dat Ferdie die voorreg ontsê word om weer as student by die Teologiese Fakulteit (nie by die Universiteit nie!) te registreer. As motivering vir die besluit het die regter woorde gebruik soos: “In die lig van die geskiedenis, vir die moontlike bring van vrede en berusting in die Fakulteit.” (Opgestaan, bl 270).

Wat moet mens hiervan dink? Wanneer daar vandag navraag gedoen word oor die gebeure, is die antwoord, dat die kerk die saak amptelik ondersoek het en Ferdie is as die skuldige aangewys. Daar is sprake van klagtes wat weens tegniese redes nie geslaag het nie, maar die uitkoms en hantering van die saak wat Ferdie en sy vriende met soveel dapperheid in belang van die waarheid en teologiese integriteit aangeroer het, laat mens steeds met ’n gevoel van diepe onvergenoegdheid.

Ten spyte van baie duidelike getuienis wat die klaers aangebied het oor die uitsprake van die dosente is hulle nogtans onskuldig bevind. Dit lyk of die belangrikste bevinding van die kommissie(s) was dat die aangeklaagdes nie van bestaande besluite van die Algemene Sinodes afgewyk het nie: “Dit was vir die kommissie duidelik dat prof Le Roux nie van die hermeneutiese verstaanraamwerk, soos neergelê deur die Algemene Sinode (1998, 2000 en 2002) rakende: Die Gesag Van Die Skrif, Belydenisskrifte As Historiese Dokumente, Die Messiaanse Tekste, Die Verstaan En Funksie Van Die Ou Testament In Die Kerk, afgewyk het nie” (kyk Ring van Pretoria-Oos Bevinding van ondersoekkommissie oor klag teen Prof. Jurie Le Roux). Hieruit moet mens aflei dat die skrywers van die boek, Die Trojaanse Perd in die NG Kerk, nie onnodig beswaar aangeteken het, teen besluite van die Algemene Sinodes nie (TP, bl 29). Mense met afwykende beskouings beroep hulle nou op daardie besluite om hulleself te regverdig en met hulle leringe voort te gaan.

Een van die lede van die kommissie wat die klagtes beoordeel het was dr Danie Veldsman. Dit is bekend dat Veldsman self ’n standpunt oor die opstanding verdedig, wat neerkom daarop dat hy die opstanding ontken. Hy het in 1993 al geskryf:

“Eksperimenteel sou ek as verklaring van die leë graf, wou beweer dat: (1) Die lyk van Jesus verwyder is na aanleiding van ’n sekere begrafnisgebruik van daardie tyd … die versamel van die beendere was ’n daad van die grootste piëteit en het as gebruik die eskatologiese hoop van die gemeenskap versterk. Sou hierdie nie moontlik as agtergrond kon dien vir die verwydering van die lyk nie?” (HTS 49/4, 1993: 995-996).

Ten spyte van hierdie afwykende beskouing het hy deelgeneem aan die ondersoek en die beoordeling van die klagtes teen Müller en le Roux. Die Kerkorde bepaal: “Niemand met ’n botsende belang ten opsigte van die saak wat ondersoek word, mag deel wees van ’n liggaam wat ’n tugondersoek doen en besluite daaroor neem nie” (Kerkorde, 2004, p28).

Veldsman is kort na die leerdwaling ondersoeke van Müller en Le Roux aangestel as dosent by die Teologiese Fakulteit, waar hy toe saam met Müller verantwoordelik was vir die opleiding van predikante. Nie een van hulle het ooit, sover ek bewus is, in die openbaar te kenne gegee dat hulle van standpunt verander het en verklaar het dat Jesus liggaamlik opgestaan het, en dat die graf leeg is soos ons in die kerk bely nie. Die enigste wat die professore bereid is om te sê, is dat hulle Sondae saam met die gemeente die “opstanding” bely.

Hierdie manier van redeneer het terloops ’n kragtige stuk gereedskap van die duiwel geword om dwaalleer in die kerk in te dra. Dit is nl die idee dat teoloë die reg het om in twee wêrelde te kan lewe. Ons praat van die wêreld van die kateder en die preekstoel, die akademie en die kerk, die wetenskap en geloof. Hulle gee voor dat dit twee denksisteme, twee tale is, wat dualisties langs mekaar kan bestaan.

In die sielkunde word mense wat so lewe gediagnoseer met ’n persoonlikheidsgebrek, wat skizofrenie genoem word. Sulke mense leef in twee wêrelde wat nie in kontak met mekaar is nie. Hulle het nie ’n geïntegreerde persoonlikheid nie en in die hof word hulle nie geag as betroubare getuies nie. Ons moet vir onsself duidelikheid kry, dat die voorstelling dat ons in twee wêrelde kan leef, reeds ’n dwaling is en dit mag nie as ’n basis vir beoordeling van teologiese gesprek gebruik word nie.

Prof Julian Müller het intussen verder gegaan en openlik in die koerante en op die Teologiese Fakulteit se webblad www.teo.co.za sy toenadering tot die panenteïsme en post-teïsme bekend gemaak. Hy het ook ’n boek met die titel: Om te mag Twyfel die lig laat sien, waarin hy sy vroeëre sieninge herbevestig het. Niemand het agterna weer die moeite gedoen om hom kerklik aan te kla nie. Die Kuratorium vind dit blykbaar in orde dat ons studente aan sulke God-onterende oortuigings blootgestel word.

2 thoughts on “Kerk se onreg teen Ferdie Mulder”

  1. Hi Ferdie, as kind van die Here het ek by Bybelstudie groepe aangesluit en oor tyd agtergekom dat “Christene” baie min van die Here weet. Ek het die verval van die kerk begin beleef en toe die gays die kerk begin aanval en die traagheid van die AS beleef om die probleem op te los het rooiligte vir my begin opgaan.
    Daar was n stadium dat ek baie eensaam begin voel het tot ek jou raakgeloop het. Jou inligting is vir my goud werd.
    Ek het vir dertig jaar Openbaring ontleed en die vernietiging van die Bybel wat daar voorspel word beleef ek vandag (Opb 11).
    Ek sal graag my onteologiese ontleding met jou wil deel, as jy sou belangstel.
    Ek ontleed op die oomblik Genesis om te bewys dat Genesis nie n mite is nie, maar n werklikheid wat nog in ons tyd lewe.
    Ek het my eie ontleding en ontwikkel van die siel gedoen, ek dink nie daar is predicate wat die siel verstaan nie.
    Jou werk en lesings is vir my n bron van krag en ek beleef die Heilige Gees in jou werk.
    Baie dankie vir wat jy doen om die aanslag teen die Here bekend te maak.
    Die Here seën jou.
    Groete Connie

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui