Christina Landman: Dié politiek is beslis nie die kerk se werk

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Christina Landman: Dié politiek is beslis nie die kerk se werk | Netwerk24

Christina Landman

10 April 2024

’n Jong man sê nou die dag daar’s ’n deel in die Bybel wat hy baie laaik. Dis waar Jesus so lank in die woestyn sit. Toe kom die duiwel en begin Jesus te pes. Toe gee Jesus hom die silent treatment. En daar vat Jesus­ die pad met sy engele. Dit, sê die jong man, is wat hy ook doen met mense wat hom pes. Hy hou sy mond en hy fopop.

So wonder ek toe oor politieke leiers wat in die verkiesingstyd kerke besoek. Ek wil natuurlik nie politieke leiers die duiwel noem nie. Ek wonder maar net hoe kerke dit moet hanteer wanneer hulle so deur die politiek gepes word. Wanneer die politici die kerk as ’n politieke gemeenskap sien.

Dit laat my terugdink aan 14 April 1994 – twee weke voor die algemene verkiesing. Op daardie dag het die NG Sendingkerk (toe vir bruin mense) en die NG Kerk in Afrika (toe vir swart mense) saamgesmelt en die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGKSA) geword. Geluk dus aan die VGK, wat Sondag 30 jaar oud is.

Maar ’n tweede gelukwensing is dalk in orde. Want op 14 April 1994 stap Nelson Mandela by die sinode in waar die vereniging plaasgevind het. Die besoek was nie op die agenda nie. Piet Meiring het Mandela gebring. Ek dink Meiring wou hom net verlustig in al die versoening wat daar en oral in die land aan die gebeur was.

Maar merkwaardig was dat Mandela nie toegelaat is om die sinode toe te spreek nie, want hy was ’n politieke leier. En die kerk het dit nie geduld nie. Ja, twee weke later sou Mandela die president van Suid-Afrika word. Maar by die sinode sou hy nie ’n spreekbeurt kry nie.

So vra ek die kerkraad: As ’n politieke leier hier in ons kerk wil kom praat met ’n Sondagdiens, gaan ons hom toelaat? Die koppe skud almal gelyk. Dis ’n besliste nee. Antie Frederik sê ook nee. Die rede? Politici kan vreeslik lieg. En ’n mens mag nie in die kerk lieg nie. Politici belowe om iets te doen, maar hulle doen bokdrol. Dis lieg en dit hoort nie in die kerk nie.

En watter politiek mag die dominee praat? Ek vra rond – en hoor meestal twee beskuldigings.

Die swart argument is dat die NG Kerk tot 1962 baie politiek in die kerk gepraat het. En toe opgehou het omdat apartheid toe reeds goed genoeg gevestig was. En nou maak hulle of ’n mens politiek uit die kerk moet hou. Maar, sê die swart argument, dis juis omdat die swart kerke en die bevrydingsteoloë hulle met die politiek bemoei het, dat ons vandag vry is. Daarom hoort politiek juis in die kerk.

Die wit argument sê politiek hoort nie in die huis van die Here nie. En hulle sal veral nie dat politiek die kerk insluip deur iets soos die Belydenis van Belhar nie. Een dominee sê hulle sal wel hul saal uithuur vir ’n politieke party. Maar hulle sal dit keur. Politieke partye met aanhangers wat hulle goed sal breek, sal nie daar toegelaat word nie.

Wat my betref, is die kerk nie ’n politieke gemeenskap nie. Dit is ’n geestelike gemeenskap. Mense in die kerk is wel politieke wesens. Maar hulle moet hul politieke kruisie trek volgens hul gewete. En volgens die waardes wat die kerk hulle leer. En dis die waardes van gelykheid en geregtigheid. Maar om politici te kry om kerkgangers te kom pes om jou kruisie vir hulle te trek – dis nie die kerk se werk nie.

• Landman is ’n professor in teologie verbonde aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Kommentaar

xxx

1 thought on “Christina Landman: Dié politiek is beslis nie die kerk se werk”

  1. Politieke leiers hóórt in die kerk. Dit is ruggraatlose leraars- soos Christina Landman – wat nie politieke leiers se leuentonge en hebsug en diefstal en geknoeierye en valse profeetwoorde en leë beloftes, voor almal wil ontbloot nie. Want hulsélf as leraars, sit met dieselfde probleem as Mnr. Politiek : my 🧠 eerder as die VOLLE Skrif.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui