NGK: Verval begin al in Nelus se tyd

Kyk ook:

NGK: Verval begin al in Nelus se tyd | Netwerk24

Jan Louw

19 Mei 2019

Nelus Niemandt sê die redes waarom Moreleta die NG Kerk wil verlaat, moet toegeskryf word aan ’n tendens van die Afrikaner om laer te trek omdat ons glo oor dinge bedreigd voel.

Bog Nelus! Ek moet jou herinner aan jou bydraes tot die toestand waarin die NG Kerk nou verval het.

  • Toe jy moderator was het die koerant jou vóór die berugte 2015 Sinode aangehaal: “My hoop is dat die lesbiese, gay, biseksuele en transseksuele (oriëntasie) genormaliseer sal word (binne die kerk).”
  • Toe die NG Kerk (2011) besluit het dat ons ruimte maak vir lidmate wat nie in die duiwel glo nie, het jy die besluit as moderator verdedig.
  • Jy het ’n boek geskryf waarin jy gedroom het van gemeentes wat in pas is met die postmoderne wêreld (’n wêreld waarin daar onder meer ’n aversie teen dogma en waarheid is).
  • Jy het gevra vir die sogenaamde “ruim huis” benadering in die kerk, waar ons nie met mekaar rusie maak oor geloofsverskille nie.

Nelus, jy gee voor dat jy hierdie liberale denke in die Bybel kry en jy dink dat volwasse Christene dit alles vir soetkoek opeet. Jou opvolger Nelis Janse van Rensburg bou lustig voort op die fondamente wat jy gelê het. Hy was opgewonde om die eerste gay-leraar in die NG Kerk te verwelkom. Hy sou ook die eerste moderator van die NG Kerk geword het, wat aan ’n gebedsbyeenkoms in ’n moskee deelgeneem het, as mense hom nie daarteen gewaarsku het nie.

Ek is nie in Moreleta nie, maar ek kan jou verseker Nelus, daar is baie meer lidmate van die NG Kerk wat diep ontsteld is oor die dinge wat in ons kerk aan die gang is en lankal nie meer deel van hierdie onheiligheid wil wees nie.

(Ds) Jan Louw

Reitz

1 thought on “NGK: Verval begin al in Nelus se tyd”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui