Laat strydendes hul saak stel en gemeentes stem

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Laat strydendes hul saak stel en gemeentes stem | Netwerk24

Daan Nortier, Bloemfontein

15 Maart 2024

’n Volkstragedie? Die Afrikaner se vernaamste geloofstuiste vir 359 jaar steier omstrede.

Die NG Kerk se wortels het saam met Jan van Riebeeck gearriveer met die eerste gemeente in 1655. Die kerk het ontstaan uit die belydenis van die Hervormers, wat die Protestantisme ingelei het. Hul geloofsverband is op vyf teologiese pilare gebou, sola scriptura, sola fide, sola gratia, solus Christus, Soli Deo Gloria.

Die inhoud bly vir die Protestantes staan: Die Bybel is die oppergesag, verlossing is slegs deur Jesus en uniek uit God se genade en Christus alléén is Here. Daarby: Ons tot Sy eer op aarde.

Die kerkkrisis waarin skeuring dreig, is die gevolg van omstrede keuses.

Daar moet onderskei word tussen die sinode, ’n menslike skepping as regeerliggaam, en die gemeente, kragtens die Bybel as die liggaam van Christus.

Sinodebesluite het ’n bepalende invloed op die liggaam se geloofslewe. Dít is die bron van die woedende debat oor ’n onbybelse knieknak voor die vrysinnighede van die postmodernisme waar waarheid bloot ’n keuse is. Dit tref die liggaam in die hart.

Die sinode het oënskynlik Bybelse waardes herdefinieer, sodat dit lyk asof die Bybel nie meer God se woord is nie, maar bloot ’n boek deur mense oor God. Jesus se persoon word in twyfel gestel en die huwelik is nie meer volgens God se skepping daarvan uniek tussen één man en één vrou nie. Daar skyn nóg wasige herdefinisies te wees, waarvan die vreemdste gesamentlike aanbidding. Wie bid tot wie, hoe en waarvoor?

Dié veranderings wek die vraag of die vyf solas nog deel is van die kerk se belydenis. Is die kerk steeds gereformeerd? Dit kort ’n saaklike ja of nee.

’n Skeuring dreig en die sinode raadpleeg advokate? Wat is van groter belang? Die geboue, poste, pensioene en so meer, of die oppergesag van die Bybel? Wat afspeel, is ’n broedertwis. Kragtens die Bybel is so iets teen God se wil. Dit oneer Hom en is sonde, maar sonde is nêrens in die gesprek aanwesig nie.

Die kern van die probleem wentel om die Bybel. Waar laat die twis lidmate? Binne hul kerk is twee stelle teoloë met mekaar oor die Bybel in stryd. Wie het die waarheid beet?

Lidmate is aan die ontvangkant van ingrypende veranderings waaroor vir hulle besluit is. Hulle is toeskouers. Was daar vóór die gevolge wat lidmate impakteer enige gesprek met enige gemeente oor wat aan die kom was?

As die gemenereg hoegenaamd enige plek in hierdie debat kon hê, is die audi alteram partem-reël die enigste. Dit verg óók die een wie se regte in die spel is se inspraak, dus die gemeentes s’n.

Die proses is eenvoudig. Die twis wentel om die Bybel. Daarin is twee partye betrokke, die sinode en Koinonia. Laat elkeen van hulle hul belydenis en beleid oor die Bybel publiseer. Lê dit aan die gemeentes voor.

Laat die gemeentes daaroor stem, want dis die lidmate se Bybels wat in die spervuur is, wat stellig véél hul kosbaarste bate op aarde is.

Kommentaar

Daniel Louw

Kyk Kan ‘n referendum ‘n oplossing bied vir die NG Kerk? (Daniel Louw)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui