Mag meer gemeentes Die Strand se voorbeeld volg

Mag meer gemeentes Die Strand se voorbeeld volg | Netwerk24

Deur Dr. Ferdie Mulder, Winchester, Engeland

21 Julie 2021

Dr. Christo Benadé se skrywe “ ’n Brief aan die NG gemeente Die Strand” (16.07) en ander soortgelyke briewe het betrekking.

Saam met baie gelowiges is ek totaal uit die veld geslaan dat Benadé beweer “daar bestaan geen feitelike gronde” vir die aanspraak dat die algemene sinode “dwaal” omdat gelowiges nie “hoef te glo in die maagdelike geboorte en fisieke opstanding (van Jesus) nie . . .”

Daar is ’n stortvloed van “feitelike gronde”. Hier is enkele voorbeelde:

  • “Argeoloë . . . begin om grafkelders in en om Jerusalem te fynkam vir die beendere van Jesus . . . die moontlikheid is daar dat wetenskaplikes kan bevind dat die beendere van Jesus ontdek is. Sou ons geloof sulke bevindings kan oorleef? As ons nie onderskei tussen geloofs- en wetenskaplike aansprake nie, sal ons geloof dit nie kan oorleef nie.” – prof. Julian Müller, NG gemeente Suidoos-Pretoria, 20 Junie 2011;
  • “Die tyd is eintlik verby om . . . (predikante) af te sny wat . . . nie meer glo in die letterlike opstanding van Jesus nie” – dr. Willem Nicol, NG kerk Skuilkrans, Pretoria, 20 Mei 2003; en
  • “Eksperimenteel sou ek as verklaring van die leë graf, wou beweer dat . . . Die lyk van Jesus verwyder is na aanleiding van ’n sekere begrafnisgebruik van daardie tyd . . . die versamel van die beendere was ’n daad van die grootste piëteit . . .” – dr. Daniel Veldsman, Hervormde Teologiese Studies, Pretoria, 1993.

NG teoloë wat hierdie soort uitsprake gemaak het, is in die afgelope 20 jaar onskuldig bevind deur hul ringe, wat pertinent die algemene sinode se verslae oor Skrifgesag as kriterium gebruik het. Selfs dr. Ben du Toit, wat die maagdelike verwekking en liggaamlike opstanding reeds in 2000 ontken het, is onskuldig bevind.

Anders as talle ander skeptiese predikante is Du Toit ten minste uiteindelik ná aftrede eerlik deur te bedank nadat hy langer as ’n dekade aan die hoof van die algemene sinode se kommissie oor Skrifinterpretasie was, waar hy sy teologies liberale stempel afgedruk het.

Soos Müller, is Du Toit ook nou post-teïsties, wat beteken hulle het afskeid geneem van “enige geloof in ’n transendente, metafisiese wêreld” en ’n persoonlike God.

Ek praat weekliks met talle gewone Christene wat lankal nie meer die algemene sinode van die NG Kerk vertrou nie. Maar hoekom? Twee teologiese reuse en profete van die NG Kerk, proff. Johan Heyns en Willie Jonker, kan help. Reeds in 1977 skryf hulle: “Wanneer die teologiese opleiding die toekomstige predikante . . . met allerlei onsekerhede en selfs met afwykende beskouinge die toekoms instuur, kan dit vir die kerklike lewe vernietigende gevolge hê.”

Die NG Kerk pluk vandag die wrang vrugte van 20 jaar se hardnekkige onwilligheid om Jonker en Heyns se profetiese waarskuwings oor leervryheid ernstig op te neem. Die Strand se dolering moet verstaan word teen die agtergrond van die vernietiging waarna Jonker en Heyns verwys. Mag die Here gee dat meer en meer gemeentes die voorbeeld van Die Strand sal volg.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui