NGK in VS hou 2de buitengewone sinode, volg ‘weg van vrede en versoening’

*******

NGK in VS hou 2de buitengewone sinode, volg ‘weg van vrede en versoening’ | Netwerk24

09 April 2024

Die buitengewone sinodesitting wat verlede jaar deur die NG Kerk Vrystaat se algemene sinode in die vooruitsig gestel is, sal voorlopig op 3 Oktober vanjaar plaasvind, sê die moderamen.

Die moderamen sal hierdie datum by sy eersvolgende vergadering einde Mei bekragtig, verdere logistieke reëlings hiervoor begin tref en dit aan die gemeentes kommunikeer.

So lui ’n brief van ds. Jan Lubbe, voorsitter van die moderamen van die NG Kerk Vrystaat, aan alle gemeentes, wat ’n verklaring oor die “weg van vrede en versoening” vorentoe vergesel.

Die moderamen het ’n “Verklaring van welwillende voorneme” opgestel en aan gemeentes gestuur as samevatting en raamwerk vir die verdere hantering van die gesprek “oor ’n welwillende weg vorentoe vir die hele NG Kerk in die Vrystaat”.

Die moderamen se besluit oor ’n buitengewone sinodesitting en die voorneme om vrede en versoening in die Vrystaatse kerk na te streef, kom ná ’n soortgelyke buitengewone sinodesitting ’n jaar gelede waar besluit is die NGK Vrystaat gaan nie uit verband met die groter NG Kerk se algemene sinode (AS) tree nie.

Hulle sou op die algemene sinodesitting in Oktober met die AS in gesprek tree.

Dit volg in die lig van die geskil in die kerk oor selfdegeslagverbintenisse en gemeentes wat hieroor doleer of wil wegbreek.

In die verklaring aan gemeentes sê die moderamen die standpunt van die NGK Vrystaat oor menslike seksualiteit, die huwelik en selfdegeslagverbintenisse is “dat die huwelik vir ons ’n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou is, ’n Godgegewe veilige ruimte waarin die waardes van liefde en trou, wedersydse respek en versorging tot vervulling kan kom; dat dit nie vir ons dieselfde is as ’n selfdegeslagverbintenis nie en dat alle vorme van losbandigheid en promiskuïteit verwerp word”. Die moderamen skryf ook dat hy hierdie aangeleentheid pastoraal in gemeentes wil hanteer waar “ons mekaar as medegelowiges liefhet, bemoedig en God saam dien” en dat dit verlede jaar aan die algemene sinode deurgegee is en in ’n groot mate daar aanvaar is.

Lubbe sê in sy brief die besluit van die algemene sinode om artikel 32 van die kerkorde te wysig sodat gemeentes by ’n ander (geografiese) sinode van die NG Kerk kan inskakel, is deur die algemene taakspan regte (ATR) bestudeer en ’n prosedure is daarvoor voorgestel en na die onderskeie sinodes deurgegee.

Dit word in die Vrystaat deur die sinodale taakspan kerkorde (STK) en die interimkomitee bestudeer om die kommentaar daarop voor 30 April na die ATR deur te gee. Dié sal dan al die terugvoer van die sinodes verwerk en aan die AS-moderamen vir goedkeuring voorlê sodat dit as ’n opsie vir gemeentes geïmplementeer word in die tweede helfte van 2024, lui die verklaring.

Die advies wat deur die ATR gegee is rakende (aktes van) “opskorting van die verband” is deur die STK ontvang en verwerk en deur die moderamen bespreek. Dit word hiermee as ’n afsonderlike advies na al die ringe in die NGK Vrystaat deurgegee.

Lubbe sê dit kom daarop neer dat die kerkorde nie voorsiening maak vir ’n eensydige besluit of handeling deur ’n leraar of kerkraad nie, met die gevolg dat die NGK Vrystaat so ’n gemeente steeds as deel van die verband in ringe en die sinode ag en dat die voorregte van lidmaatskap en die bevoegdhede en verantwoordelikhede van lidmate en leraars onveranderd bly.

“Wat wél in gedrang kom – sou ’n kerkraad of leraar hierin volhard – is ons onderlinge meelewing, eensgesindheid (2 Korintiërs 13:11, Filippense 4:2, 7-9), ons getuienis en ons samewerking. Daarom het die moderamen besluit dat die dagbestuur van die STK (met reg tot koöpsie) op 4 April 2024 met die drie ringskommissies wat sulke ‘aktes’ ontvang het (ringe van Suidoos-Bloemfontein, Smithfield en Bethlehem) vergader en reik ons hiermee weer eens uit na al daardie lidmate, kerkrade en leraars in die betrokke gemeentes,” skryf hy.

“Dit is ’n ope uitnodiging: Die weg waarvoor ons kies is een van vrede en versoening, en om op ’n ordelike en liefdevolle wyse saam te werk in die herstel van ons kerkverband, die heling in onderlinge verhoudinge en om ons roeping hier saam te vervul.”

“Laat ons praat en saam ‘n plan maak”Die moderamen van die NG Kerk Vrystaat het met kommer kennis geneem dat 40 gemeentes in die Vrystaat nie gereeld hul maandelikse pro rata-vorms indien nie, en onder hulle is ook 38 gemeentes wat geen bydraes vir sinodale werksaamhede aan die NGK Vrystaat oorbetaal nie.

“Ons verstaan dat daar verskillende redes hiervoor is, onder meer dat ‘n aantal gemeentes klein geword het en finansieel regtig swaarkry en daarom het die raad vir ondersteuning en moderamen besluit om opnuut na al hierdie gemeentes uit te reik en saam oor elk se situasie te besin,” lui Lubbe se brief.

“Behalwe dat sulke maandelikse pro rata-vorms al in die verlede waardevol was as ‘n goeie kontrole-instrument vir die gemeente om hul eie finansiële sake te bestuur, ly ons hele kerkverband in die Vrystaat onder die niebetaling van hierdie bydraes: Netwerke in belang van gemeentes en hul opbou; die bestuur van fondse in belang van leraars en gemeentes; projekte vir noodleniging en ons getuienis in die breër gemeenskap, ook saam met ons familiekerke (die NGKA en VGK). Kom, laat ons praat en saam ‘n plan maak.”

1 thought on “NGK in VS hou 2de buitengewone sinode, volg ‘weg van vrede en versoening’”

  1. en onder hulle is ook 38 gemeentes wat geen bydraes vir sinodale werksaamhede aan die NGK Vrystaat oorbetaal nie…… DIS REG !! hulle moet nie n sent kry nie …… die besluite wat die hoenner sinodes maak is pateties ….. word gedryf deur subtiele en onnaakbare geeste

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui