Ring van Pretoria-Oos bevinding van ondersoekkommissie oor klag teen prof Jurie Le Roux

Die volgende is ’n verslag oor die bevindinge oor die klag van Ferdie Mulder teen Jurie le Roux.

Let op dat die besluite van die Algemene Sinode in 1998, 2000 en 2002 gebruik is om Jurie onskuldig te bewys:

Dit was vir die kommissie duidelik dat prof Le Roux nie van die hermeneutiese verstaanraamwerk, soos neergelê deur die Algemene Sinode (1998, 2000 en 2002) rakende: Die Gesag Van Die Skrif, Belydenisskrifte As Historiese Dokumente, Die Messiaanse Tekste, Die Verstaan En Funksie Van Die Ou Testament In Die Kerk, afgewyk het nie.

*********

Ring van Pretoria-Oos bevinding van ondersoekkommissie oor klag teen Prof. Jurie Le Roux

(Gekopieër vanaf kerkweb.org)

Datum: 10 April 2006

Bevinding van die gevolmagtigde kommissie van ondersoek van die Ring van Pretoria-Oos met betrekking tot die klag van leerdwaling teen Professor JH le Roux (K.O. 2004: Artikel 63.8.9).

1. Inleiding:

Die Kuratorium het op grond van die Kerkorde (2004) Reglement 14, par 2.2.2.3.1, Artikel 62.3, 63.1.2 – 4, die klag van leerdwaling wat op 6 Augustus 2005 deur die NG Gemeente Middelburg-Wes en 10 Augustus 2005 ds E Maritz (Koppies-Weltevreden) ingedien is, asook gerugte van leerdwaling teen prof JH le Roux, op 29 Augustus 2005 na die Ring van Pretoria-Oos vir ondersoek verwys.

Kragtens Artikel 63.1.1 en 63.1.4 is die volgende persone op 19 September 2005 aangestel om, as gevolmagtigde kommissie (hierna die kommissie genoem) van die Ring van Pretoria, die saak teen prof Le Roux te ondersoek: – dr NE Lamprecht (Pretoria-Oos), dr AK le Roux (Pretoria), dr DP Veldsman (Pretoria), ds DSR du Toit (Waterkloof) en ds C Jansen van Vuuren (Sesmylspruit).

Die kommissie het op 14 Oktober 2005 die stukke ter tafel geneem, en nadat daar aan artikel 63.3.1.1 en 63.3.1.2 van die Kerkorde 2004 voldoen is, is voortgegaan om ook uitvoering te gee aan Artikel 63 van die Kerkorde.

Gedurende die ondersoekproses het die kommissie ook skriftelik op 26 Januarie 2006 opdrag van die Ringskommissie van Pretoria-Oos ontvang om die klag van leerdwaaling soos ingedien op 29 November 2005 deur mnr Ferdie Mulder (student UP) en op 13 Februarie 2006 soos ingedien op 06 Februarie 2006 deur dr J Grey (NG Pretoria-Oosterlig) te ondersoek.

Hierdie klag, deur die genoemde persone, is as ontvanklik beskou omdat dit reeds as gerug deel van die stukke was wat deur die kuratorium aan die ring deurgestuur is en omdat dit in wese ooreengestem het met die klag soos ingedien deur NG Gemeente Middelburg-Wes en ds Maritz. Die gerugte van leerdwaling wat van die kuratorium ontvang is, het in wese ooreengekom met die klag wat teen prof Le Roux ingebring is. Daar was geen wesenlike nuwe getuienis wat aangebied is in hierdie stukke nie. Die kommissie het daarom volstaan om hierdie saak vanuit die klag wat ontvang is, te hanteer.

2. Amptelike Klag: Prof JH le Roux

Ná onderhandeling met die klaers, naamlik die NG Gemeente Middelburg-Wes, dr Grey, ds Maritz en mnr Mulder – is daar ooreengekom op die volgende eenvormige klag wat aan prof Le Roux deurgegee is:

“Professor Jurie le Roux is ontrou aan die plegtige legitimasie-verklaring van die NG Kerk asook aan die Gereformeerde leer en belydenisskrifte van die NG Kerk nl. die Drie Formuliere van eenheid.”

Hierdie klag van ontrouheid is deur die klaers aan die hand van ses punte geformuleer. Die ses punte en die bronverwysings wat as getuienis na hulle oordeel kon dien, is soos volg:

1. Prof. Le Roux se siening van die Goddelike inspirasie van die Skrif is in stryd met een of meer van die Drie Formuliere van eenheid.

Die volgende bronverwysings is deur die klaers as ter saaklik aangedui: *

  • JH le Roux 1994. God se brug na die mens: iets goddeliks of iets mensliks? (‘n Kort woord oor Johan Heyns se Skrifleer). Skrif en Kerk. Universiteit van Pretoria. p27-47;
  • Johan Heyns 1994. Weerwoord. Skrif en Kerk. Universiteit van Pretoria. p156, 160-163;
  • Jurie le Roux 2004. “Die Bybel is die produk van die gekonkel van mense”. Stelling gemaak tydens lesing. Junie 2004; Geesteswetenskappe gebou. Kamer 1:12. Universiteit van Pretoria.

2. Prof. Le Roux se siening van die genoegsaamheid van die Skrif is in stryd met een of meer van die Drie Formuliere van eenheid.

Die volgende bronverwysings is deur die klaers as ter saaklik aangedui: *

  • Jurie H le Roux 2002. Andries van Aarde se vaderlose Jesus. Hervormde Teologiese Studies 58(1). Departement Ou-Testamentiese Wetenskap. Universiteit van Pretoria p77-99;
  • Jurie le Roux 2004. “Die Bybel is die produk van die gekonkel van mense”. Stelling gemaak tydens lesing. Junie 2004; Geesteswetenskappe gebou. Kamer 1:12. Universiteit van Pretoria.

3. Prof. Le Roux se siening van die opstanding van Jesus Christus is in stryd met een of meer van die Drie Formuliere van Eenheid.

Die volgende bronverwysings is deur die klaers as ter saaklik aangedui: *

  • Jurie le Roux se kommentaar aan die Ondersoekliggaam van Pretoria Oos, 22 Januarie 2006, Pretoria;
  • Jurie H le Roux 2002. Andries van Aarde se vaderlose Jesus Hervormde Teologiese Studies 58(1). Departement Ou-Testamentiese Wetenskap. Universiteit van Pretoria p77-99;
  • Jurie H le Roux 2002. Van Aarde and the fatherless Jesus. www.otnet.co.za 10 Mei 2002 Nr 15. Pretoria. Boekbespreking;
  • Jurie H le Roux 2000. Pieter Craffert se “Meeting the living among the dead. Burials, tombs and the afterlife”. www.otnet.co.za Julie 2000. Nr 15. Pretoria. Boekbespreking;
  • “Vir die eerste eeuse Christene het Jesus opgestaan omdat dit deel van hul wêreldbeeld was, vandag kan ons dit nie meer so verstaan nie.” Jurie le Roux 2004. Na OTW Pentateugkritiek vraestel aan Ferdie Mulder gesê. 19/06/2004; GW 1:12; 11h30. Universiteit van Pretoria.

4. Prof. Le Roux ontken die bestaan van die satan en die bose. Dit is in stryd met een of meer van die Drie Formuliere van eenheid.

Die volgende bronverwysings is deur die klaers as ter saaklik aangedui: *

  • Jurie le Roux se kommentaar aan die Ondersoekliggaam van Pretoria Oos, 22 Januarie 2006, Pretoria.

5. Prof. Le Roux se siening van Jesus se maagdelike geboorte is in stryd met een of meer van die Drie Formuliere van eenheid.

Die volgende bronverwysings is deur die klaers as ter saaklik aangedui: *

  • Jurie le Roux se kommentaar aan die Ondersoekliggaam van Pretoria Oos, 22 Januarie 2006, Pretoria;
  • Jurie H le Roux 2002. Andries van Aarde se vaderlose Jesus. Hervormde Teologiese Studies 58(1). Departement Ou-Testamentiese Wetenskap. Universiteit van Pretoria p77-99;

6. Die standpunt van Prof JH le Roux dat die erkende Messiaanse profesieë soos Jes 53 nie na Christus verwys nie en dat die Nuwe Testamentiese Skrywers nie die wetenskaplike kennis gehad het om die Ou Testament in die verband korrek uit te lê nie, is ’n ernstige dwaling wat die hart van die kerk se belydenis aantas sodat dit ooreenstem met die Joodse ongeloof in Christus en ook die inspirasie leer met betrekking tot die Nuwe Testamentiese Skrywers aantas.

* (Verwysings is behou soos die klaers dit aangedui het. Al die bronne is nie as bewystukke by die kommissie ingedien nie.)

3. Reaksie van Prof Le Roux

Aan prof Le Roux is die geleentheid gegee om op die aanklagte te reageer. Prof Le Roux het op 22 Januarie 2006 hierop skriftelik gereageer voor die ondersoek begin het. Tydens die ondersoek het hy mondelings en skriftelik verder hierop uitgebrei.

4. Ondersoekvergadering

Die ondersoek het plaasgevind op die volgende datums te NG Gemeente Pretoria-Oos: 06 Maart 2006 en 10 April 2006.

Tydens die vergaderings is daar breedvoerig uitvoering gegee aan die Kerkorde Artikel 63 en het die klaers en die aangeklaagde voldoende tyd gekry om hul standpunte te stel.

Die volgende persone was by die vergaderings betrokke:

06 Maart 2006 – Kommissielede:

Dr AK le Roux (Pretoria) – Voorsitter,
dr NE Lamprecht (Pretoria-Oos)- Skriba,
dr DP Veldsman (Pretoria),
ds DSR. Du Toit (Waterkloof) en
ds C. Jansen van Vuuren (Sesmylspruit).

Verweerder:

prof JH Le Roux (Professor Ou Testament.UP Teologie Fakulteit),

Klaers:

dr J Grey (Pretoria-Oosterlig),
ds E. Maritz (Koppies-Weltevrede),
mnr J Pretorius (Middelburg-Wes),
dr K Visser (Middelburg-Wes),
F Mulder (Student UP Teologie Fakulteit – Klaer),
mnr R Roussouw (Student UP – Ondersteuner),
ds P Coetzee (Ondersteuner)
me I Beetge (Stenograaf).

10 April 2006 – Kommissielede –

Dr AK le Roux (Pretoria) – Voorsitter,
dr NE Lamprecht (Pretoria-Oos)- Skriba,
dr DP Veldsman (Pretoria),
ds DSR. Du Toit (Waterkloof) en
ds C. Jansen van Vuuren (Sesmylspruit).

Verweerder:

Prof J Le Roux (Professor Ou Testament.UP Teologie Fakulteit), me J Le Roux (Ondersteuner: Prof Le Roux),

Klaers:

dr J Grey (Pretoria-Oosterlig) Afwesig (in lig van Art 6.3.8.6.besluit die kommissie met medewete en toestemming van dr Grey, om in sy afwesigheid voort te gaan),

ds E. Maritz (Koppies-Weltevrede),
mnr J Pretorius (Middelburg-Wes),
Dr K Visser (Middelburg-Wes),
mnr F Mulder (Student UP Teologie Fakulteit – Klaer),
mnr T. Danzfuss (Ondersteuner – mnr Mulder),
ds P Coetzee (Ondersteuner- Middelburg-Wes),
me H Beetge (Stenograaf).

Die volgende getuies is gedurende die vergadering geroep:

Dr W Rautenbach en mnr D Coetzee, albei studente aan die Universiteit van Pretoria.

In sy verweer, het prof Le Roux breedvoerig skriftelik en mondelings ter verdediging ten opsigte van die bogenoemde beweringe soos volg (hier as opsomming weergegee) gereageer:

Prof Le Roux het aangevoer dat die klaers, maar dan spesifiek mnr Mulder, hom skuldig maak ongekontroleerde uitlatinge, wanvoorstellinge, blatante onwaarhede rakende prof Le Roux se optrede en akademiese werk. Mnr Mulder sien homself as teologiese norm en verketter enigiemand wat van hom verskil aldus prof Le Roux. Vir prof Le Roux lê die akademiese kommunikasie kloof tussen homself , mnr Mulder en die ander klaers in hulle benaderingswyse tot die bedryf en verstaan van akademiese navorsing.

Teenoor hulle benaderingswyse van “buite na binne”, verdedig prof Le Roux (bl 5) sy benaderingswyse van “binne na buite” soos volg:;

“Daar is ook ’n ander moontlikheid. Die beweging van binne na buite. In die binneste sirkel besef die teoloog dat sy sekerhede in die lig van God se grootsheid en andersheid slegs voorlopig is en dat hy elke dag opnuut moet probeer om oor God en sy Woord te praat. In die daaglikse ontmoeting met God en die ervaring met die Opgestane Christus word die eie sieninge soms radikaal omvergegooi en verkrummel intellektuele sekerhede gou. En in die proses word die gelowige kleiner, en nederiger, want sy intellektuele greep na God skiet altyd te kort”.

Vanuit hierdie benaderingswyse voer prof Le Roux aan dat hy nie die opstanding of maagdelike geboorte misken of ontken nie, maar wel protes aanteken teenoor hulle wat wil voorskryf presies hoe dit verstaan moet word. Dit beskou hy as ’n “brutale greep” op die belydenisse. Dit moet met ’n historiese bewussyn vanuit die gegroeide geloofsinterpretasie van hulle wat dit ervaar en oorvertel het, verstaan word. So ook die begrippe “inspirasie” en “genoegsaamheid” van die skrif.

Hiervolgens voer prof Le Roux aan dat die Bybel in God se hart begin het, dat die Heilige Gees ons daaraan vasbind en versterk. Dit vra van ons om ons daarin te verloor soos wat ons op die weg van die OT en NT gaan van interpretasie en herinterpretasie (met die Messiaanse profesieë as voorbeeld). Ons weet (en kry hieruit) genoeg vir ons daaglikse lewens en geluk.

Vanuit die aard van die ou en nuwe testamentiese getuienis, asook die voortgaande proses van kerklike herinterpretasie, voer prof Le Roux spesifiek aan ten opsigte van die bestaan van die satan en die bose, dat hy dit nie nodig ag om op grond van die “oorwinnings-/ verlossingsboodskap van die kruis” dit te bely nie. Satan is boonop ’n mag wat nie maklik omskrywe kan word nie.

Met betrekking tot sy gebruik van die woord “konkel” ten opsigte van die totstandkoming van die bybelse geskrifte, voer prof Le Roux aan dat mnr Mulder – wat op die betrokke dag van die betrokke insident self nie in die klas was nie – sy eie konstruksie gemaak het van die geleentheid waar dit deur prof Le Roux in die klaskamer gebruik is asook die betrokke inhoud wat deur prof Le Roux daaraan gegee is. Mnr Mulder verstaan onder die woord konkel “bedrogspul”. Dit is nie wat prof Le Roux daaronder verstaan nie. Prof Le Roux voer aan dat hy hierdie begrip as ’n tegniese term gebruik en dat dit slegs in terme van mensewerk gebruik word. Dit word egter altyd gebruik in teenstelling tot God se besturing. Prof Le Roux voer aan dat sy verstaan van die begrip “konkel” met die volgende omskrywing verduidelik kan word: “Ten spyte van al die menslike magspeletjies het God ons nogtans ’n Boek gegee waaruit die kerk nog leef”.

Kommentaar van ondersoekvergadering t o v bogenoemde:

In sy verweer as aangeklaagde op die beweringe soos aangevoer deur die klaers, was die kommissie tevrede dat prof Le Roux op elkeen van die beweringe met betrekking tot inspirasie, genoegsaamheid van die skrif, die opstanding, maagdelike geboorte van Jesus, Messiaanse profesieë en die bestaan van die satan en bose geantwoord het.

5. Bevinding van die ondersoekkommissie

In die lig van prof Le Roux se verweer, verduideliking, sowel as eie getuienis en belydenis het die kommissie t o v hierdie ses stellinge en brongetuienis soos aangevoer deur die klaers, tot die volgende bevinding gekom.

Dit was vir die kommissie duidelik dat prof Le Roux nie van die hermeneutiese verstaanraamwerk, soos neergelê deur die Algemene Sinode (1998, 2000 en 2002) rakende: Die Gesag Van Die Skrif, Belydenisskrifte As Historiese Dokumente, Die Messiaanse Tekste, Die Verstaan En Funksie Van Die Ou Testament In Die Kerk, afgewyk het nie.

Ná aanhoor van die getuienis van die klaers en die aangeklaagde, en in die lig van bogenoemde sinodale besluite, bevind die kommissie eenparig dat daar geen rede bestaan om Prof JH Le Roux op die klag “ Professor Jurie le Roux is ontrou aan die plegtige legitimasie-verklaring van die NG Kerk asook aan die Gereformeerde leer en belydenisskrifte van die NG Kerk nl. die Drie Formuliere van eenheid” skuldig te bevind nie.

SUBSTANSIERING VAN DIE KOMMISSIE SE BESLUIT.

Met betrekking tot die verskillende sake wat aangevoer is as redes vir die klag, het die kommissie die volgende in ag geneem as substansiëring van die besluit.

Duidelik het prof le Roux gesê dat hy die werklikheid en die feitelikheid van die opstanding erken en die belydenis van die maagdelike geboorte gelowig aanvaar en onderskryf.

Hy erken dat hy ook graag by die belydenisskrifte wil bly, maar dat hy nie wil hê dit moet deur die klaers vir hom uitgelê word nie. Hy is gemaklik met die bewoording van die belydennisskrifte en volstaan daarmee.

Hy wil nie ontken dat die opstanding of maagdelike geboorte nie gebeur het nie, maar hy wil beklemtoon dat die menslike rede dit nie volkome kan verstaan of beskryf nie. Soos vermeld, maak hy beswaar teen wat hy noem die positiwistiese teologie en brutale terme waarop die klaers aandring in die beskrywing van die opstanding.

Die kommissie kan in die lig van prof le Roux se aanvaarding van die belydennisskrifte en persoonlike geloofsverantwoording ten opsigte van die belydenisse rondom die opstanding en die maagdelike geboorte nie saamstem met die klaers dat hy dwaalleer verkondig nie.

Prof le Roux se antwoord op die klag ten opsigte van skrifbeskouing is breedvoerig deur hom behandel en sy verstaan van die inspirasie en genoegsaamheid van die skrif is breedvoerig verduidelik. Hy neem sy vertrekpunt in die belydenisskrifte en beklemtoon dat dieselfde Gees wat die bybelskrywers geïnspireer het, ons vandag nog bind aan die boeke van die bybel. Die gesag van die bybel is in hierdie persoonlike verbondenheid geleë. Die kommissie kon dus geen gronde vind vir ’n klag van dwaallering nie en oordeel dat sy hantering daarvan nie in stryd is met bogenoemde sinodale besluite in verband met die gesag van die skrif nie. Sy hantering van die sogenaamde messiaanse tekste in die Ou Testament is ook heeltemal in pas met genoemde sinodale besluite.

Die beskuldiging ten opsigte van die ontkenning van die bestaan van die satan en die bose berus nie op substansiële getuienis nie. Die enigste bron waarna verwys word, is prof le Roux se reaksie op die klaers. Die kommissie is van oordeel dat die reaksie nie gronde vir ’n klag van leerdwaling is nie. Prof le Roux beklemtoon in sy reaksie die feit dat die bose ’n mag is, maar ’n mag wat oorwin is. Hy wil hom nie verder daaroor uitspreek nie.

Die kommissie het tot die slotsom gekom dat die getuienis wat teen prof prof le Roux aangevoer is nie ’n klag van leerdwaling kan begrond nie. In dié verband kan gelet word op die feit dat slegs een van die klaers, mnr Mulder, ’n poging aangewend het om klagtes teen prof le Roux te substansieer. In die proses het hy slegs enkele aanhalings uit ’n paar geskrewe bronne gemaak (sien bronverwysings) asook verwys na terloopse mondelinge opmerkings. Die kommissie is oortuig dat hierdie paar aanhalings en terloopse uitsprake geen gronde bied vir die klag nie. In sy antwoord het prof le Roux ook in sy verduideliking daarin geslaag om op die klagtes te reageer met sy persoonlike geloofsverklaring en voortgesette verbondenheid aan sy legitimasie-eed.

Bevinding:

Die kommissie bevind prof JH le Roux onskuldig aan die klag dat hy ontrou is aan die plegtige legitimasie-verklaring van die NG kerk asook aan die Gereformeerde leer en belydenisskrifte van die NG Kerk nl. die Drie Formuliere van eenheid.

Gevolmagtigde Kommissie van die Ring van Pretoria-Oos.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui