Koinonia sê NG Kerk wil gemeentes intimideer

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Koinonia sê NG Kerk wil gemeentes intimideer | Rapport

Johan Eybers

Rapport, 3 Maart 2024

Die NG Kerk se aankondiging dat wegbreek-gemeentes die kerkorde oortree en nie meer die kerk se naam mag dra nie, is niks anders nie as ’n poging om hulle te intimideer.

So voer die behoudende Koinonia-sinode aan nadat die algemene sinodale moderamen (ASM) – die NG Kerk se hoogste besluitnemingsliggaam tussen byeenkomste van die algemene sinode – die afgelope week op sy sitting in Benoni ’n regsmening aanvaar het wat daarop dui dat gemeentes nie eensydig hul kerkverband mag opskort nie.

Ds. Jan Lubbe, moderator van die NG Kerk, ontken egter ten sterkste dat die ASM gemeentes en kerkrade intimideer.

Hy sê dit was vir die ASM noodsaaklik om regsekerheid te kry oor die posisies van gemeentes wanneer hul kerkrade besluit om hul kerkverband op te skort.

Die ASM se regsadvies dui daarop dat die “akte van opskorting” van die ring van Standerton en ses gemeentes geen regskrag het nie en “beskou kan word as ’n handeling wat volgens ons kerkorde onwettig en misleidend is”.

Die Tafelberg-gemeente in Kaapstad se middestad was in Junie die eerste gemeente wat besluit het om sy kerkverband op te skort.

Die gemeentes van Leeuwberg, Vanstadensrus en Kestell in die Vrystaat het gevolg. Daarna het die gemeentes Kempton Krag en Die Strand hulle onderskeidelik in Desember en Januarie van die algemene sinode losgemaak.

Die ASM sê in sy skrywe hy aanvaar die advies wat deur die kerk se algemene taakspan regte (ATR) by twee senior advokate ingewin is.

Die ATR benadruk in sy verslag dat die kerk uit tien spesifieke streeksinodes bestaan wat ingevolge art. 37 van die kerkorde uit algemene sinodale verband kan tree.

Die Koinonia-sinode, wat die tuiste is vir dolerende gemeentes, waarvan daar bykans 100 is, het ingevolge die kerkorde geen bestaansreg nie.

Die hoofrede vir dié gemeentes se dolering (om te rou) is dat selfdegeslagverbintenisse toenemend binne die NG Kerk aanvaar word.

“Daardie moontlikheid (om uit verband te tree) bestaan nie vir ringe of gemeentes nie,” lui die verslag. “ ’n Gemeente kan vanuit ’n gemeenregtelike hoek nie eensydig besluit om die verband met die kerk op te skort nie. Dit word geag as ’n eensydige kansellasie of verbreking van die kontrak.”

Volgens die ATR het ’n kerkraad nie die bevoegdheid om die kerkorde te verander of te ignoreer nie.

Die ATR sê bestaande reg­spraak wat deur die howe aanvaar is, dui daarop dat ’n gemeente slegs uit kerkverband kan tree indien dit ’n eenparige besluit van al die lidmate van daardie gemeente is.

“Sou ’n wegbreekgroep volhard met die narratief dat hulle die kerkverband opskort en hulself beskou as ’n onafhanklike gemeente, beteken dit hulle doen dit met die wete dat hulle hulself buite die NG Kerkverband plaas en dus die NG Kerkverband verlaat het. Hulle kan nie verder die naam van die NG Kerk gebruik nie.”

Die ATR sê indien ’n groep lidmate sonder eenparige instemming van al die lidmate wel sou wegbreek van ’n gemeente of die kerkverband, sal die oorblywende lidmate steeds as die oorspronklike gemeente voortbestaan.

“Alle eiendom, asook die naam van die kerk, behoort steeds aan die oorspronklike gemeente.

“ ’n Predikant wie se gemeente met ’n eenparige stem wettig uit kerkverband tree, verloor outomaties sy predikantsbevoegdheid en hy of sy kan nie meer deel wees van die NG Kerk se pensioenfondse nie.”

Die ASM vra streeksinodes om ringe aan te moedig en te ondersteun “om kerklike orde te herstel in gemeentes waar hierdie ‘opskorting’ van die kerkverband deur ’n kerkraad onregmatig geskied het”.

Dr. Anton Knoetze en ds. Norma Rossouw, onderskeidelik voorsitter en skriba van die Koinonia-sinode, sê in ’n gesamentlike verklaring dat hulle al geruime tyd met senior regslui oorleg pleeg.

Hulle het die versekering gekry dat gemeentes wat hul kerkverband opskort dié stap met sukses “in enige hof” sal kan verdedig.

“Skrifgetroue gemeentes word aangemoedig om nie te skrik vir dreigemente van wêreldse regsgedinge deur diegene wat nie bereid is om die kerklike weg te volg nie. Juis in tye soos hierdie moet behoudende lidmate hande vat en mekaar ondersteun om getrou te bly aan die Here se Woord en die gereformeerde belydenis.”

Lubbe sê die NG Kerk is nie net besorg oor gemeentes wat hul lidmaatskap “onwettig” opskort nie, “maar is net so bekommerd oor lidmate wie se stemme nie gehoor word nie.

“Daarom sê ek neem tyd en wees versigtig voor besluite oor kerkverband en kerkskeuring geneem word.”

Hy sê kerkrade kan nie besluite oor gemeentes se kerkverband neem as alle lidmate nie hul stem laat hoor het nie.

“Ons doen ’n beroep op ons hele kerkverband om binne die veilige ruimte van ons ooreengekome kerkorde te bly en ter wille van ons eenheid in Christus eerder verder met mekaar te praat.”

2 thoughts on “Koinonia sê NG Kerk wil gemeentes intimideer”

  1. Ja, dis duidelik ook uit ons plaaslike gemeente se dolering dat ons ‘n krisis beleef. Almal stem nie saam nie. Ek glo ook nie een voet kan op land en die ander een op ‘n eiland staan nie. Daar sal wel beweging plaasvind. Die vraag is dus wat die visie is van Koinonia. Dit js nie heeltemal duidelik nie. Ek dink nie die Koinonia sinode is die oplossing nie. En hulle praat ook nie met die gemeentes nie, is hulle ooit in gesprek met mekaar?

  2. Onthou net dat mense sal volg as daar leiding is. En dit het ek nog nie gesien of gehoor van Koinonia nie. Ook nie in die plaaslike NG Kerk nie. En ek is wel daarvoor dat daar weggebreek word, weens die baie dwalinge van die NG sekte.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui