Reëls help niks as jy dit nie toepas

Die volgende brief is aan Rapport ingestuur na aanleiding daarvan dat die moderator, Nelis Janse van Rensburg, reeds drie keer hewig beswaar aangeteken het teen aantygings dat die NG Kerk van haar belydenis afwyk. Nie in enige van hierdie reaksies het hy erken dat daar enige bekommernis oor die NG Kerk is nie. Kyk:

Sy woorde was skaars koud, toe daar berig is dat meer as die helfte van die predikante in Namibië wil doleer (kyk Namibiese leraars verwerp NG kerk se ‘dwalinge’ oor gays (15 Aug 2021)).

Die brief hieronder is egter nie op 22 Augustus geplaas nie.

Kyk Gays ‘nog meer onveilig’ in kerk (22 Aug 2021).

**********

NG Kerk staan níé by belydenis

Deur Daniel Louw

22 Augustus 2021

Die moderator van die NG Kerk, ds Nelis Janse van Rensburg het alreeds drie keer in die openbaar (15.07, 28.07[Youtube] en 08.08) ontken dat daar enige waarheid steek in enige van die sewe punte wat die Strand NGK gelys het as dwaalleer en het dit afgemaak as “verdagmakery”. Hy beweer dat die NG Kerk steeds by haar belydenis, Die Drie Formuliere van Eenheid, staan. Daarom was dit baie ironies dat sy woorde skaars koud was toe daar berig is (15.08) dat meer as die helfte van die predikante in Namibië wil doleer oor die dwaalleer “wat oor jare die kerk binnegesypel het”.

Wanneer ’n werknemer by ’n vervaardigingsaanleg sonder sy veiligheidshoed loop en iets val op sy kop en hy is dood, kan die bestuurder van die aanleg gedeeltelik aanspreeklik gehou word vir die insident en selfs tronk toe gaan indien die Departement van Beroepsveiligheid vind dat dit algemeen is dat werknemers veiligheidsreëls oortree en daar nie teen hulle opgetree word nie.

Dit help veel die NG Kerk het ’n suiwer belydenis, maar daar word nie teen hulle opgetree nie. Daar is etlike voorbeelde van kerkleiers wat baie duidelik afwyk van die kerk se belydenis, maar niks word aan hulle gedoen nie. Om ’n klag van dwaalleer teen hierdie mense te lê het geblyk ’n futiele oefening te wees – kyk byvoorbeeld “Lys van leerdwaling aanklagtes” op www.glodiebybel.co.za.

Daarom is die NG Kerk skuldig en sal die leierskap verantwoording moet doen daarvoor.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui