Strandgemeente doleer

NG gemeente Die Strand het tydens ’n kerkraadsvergadering op 9 Junie 2021 besluit om ook te doleer (hulle is die 76ste gemeente wat doleer) en hulle sinodale bydrae terug te hou. Hier volg die volledige besluit wat aan die gemeente gekommunikeer is.

Opdatering: Op 23 Julie 2021 het Die Strand ’n opgedateerde brief gepubliseer:

***********

Brief aan gemeente

Liewe gemeentelid van die NG Gemeente Die Strand,

Die kerkraad van Die Strandgemeente het op die Kerkraadvergadering van 9 Junie 2021 die volgende aanbevelings en besluite geneem wat ons as gemeente se posisie uitspel.

Die kerkraad het by verskeie vergaderings die huidige invloed van uitsprake en implimentering van besluite en aanbevelings van die AS (Algemene Sinode) bestudeer met betrekking tot verskeie aangeleenthede soos hieronder genoem word, waarmee hierdie gemeente onsself nie kan vereenselwig nie.

Aan die kern lê die besluit dat elkeen self kan besluit wat vir hom/haar reg en verkeerd is en hoe jy dit in jou lewe wil toepas.

Kern geloofsake:

1. Die Woord sê: God is die Skepper en Hy het alles geskep en hou dit instand.

Dwaalleer: Hy is maar net ‘n afbeelding van dit wat ons wil glo en alles het deur evolusie tot stand gekom.

2. Die Woord sê: Die Sondeval het die wêreld ingekom deur die Satan wat God se skepping vernietig en aanhou vernietig.

Dwaalleer: Die satan bestaan net as jy in hom wil glo en sondeval, erfsonde hoef nie deel van jou bestaan te wees nie.

3. Die Woord sê: Die maagdelike geboorte van Jesus en Sy fisiese opstanding soos voorspel in die OT en volbring is in die NT en bevestig is deur verskeie betroubare getuies, is en bly die waarheid.

Dwaalleer: Omdat dit nie wetenskaplik moontlik is of bewys kan word nie, hoef jy dit nie te glo as jy nie wil nie. Elkeen kan self besluit of dit vir jou sin maak.

4. Die Woord sê: Jy kan net gered word deur Jesus Christus aan te neem as jou Verlosser.

Dwaalleer: Ons het nie die alleenreg op redding nie en elkeen kan deur hulle eie gode te dien of godsdienstige reels nakom, in die hemel uitkom. Daarom kan ons mense van alle gelowe ons broers en suster in die geloof noem.

5. Die Woord sê: Die hele Woord is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwalinge te bestry en verkeerdhede reg te stel en ‘n goeie lewenswyse aan te kweek.

Dwaalleer: Die bybel is mense se woorde oor God en dele daarvan moet as mites verstaan word en is dus nie nodig om te glo nie. Dis ‘n boek wat geskryf is vir die mense van daardie tyd, en ons hoef net dit wat vir ons relevant is, te glo. Aanpassings om die gees van die tyd te pas, mag ingelees word.

6. Die Woord sê: Die huwelik is deur God ingestel as heilige samevoeging van een man en een vrou. Gen 2:23-25, Ef 5:21-31

Dwaalleer: Die AS plaas klem op diversiteit en verskil van menings en haal etlike Bybel tekste aan om aan te toon dat daar verdraagsaamheid en aanvaarding van meningsverskille in die vroegste Kerk was. Nie een van daardie kwessies kan van toepassing gemaak word op SGV wat by implikasie afgemaak word as ‘n randsaak (paragraaf 3.3 van AS se Gids).

Die Gids verwys geensins na Bybeltekste wat SGV ten sterkste afkeur nie en maak dit maar eenvoudig af as meningsverskille in Skrifhantering. Die amptelike standpunt is dat die betrokke Bybeltekste net wys op losbandige verhoudings.

7. Die Woord sê: God het die mens geskep, manlik en vroulik het Hy hulle geskep.

Dwaalleer: Dat elke mens self sy eie geslag kan bepaal en verander kan na gelang van omstandighede

Uitvloeisel:

Bogenoemde sake is van die punte wat al by verskeie meerdere vergaderings van die NG Kerk uitgelig is, waaroor daar gedebateer is, en besluite geneem is dat die finale besluite by gemeentes en lidmate berus om self te besluit wat hulle dink reg en verkeerd is, en dit dan ook so toepas.

Hierdie tipe leiding wat vanaf die AS deurgegee word en vir die wêreld voorgehou word, spreek van ‘n algemene verbrokkeling van die fondasie waarop Christus Sy kerk hier op aarde gegrondves het.

Hierdie tipe beluitneming waar geen fondasie van reg en verkeerd soos God in bv. Eks 20 gegee het, en Jesus self kom bevestig het, lei noodwendig tot ‘n “selfverheerlikende en sondelose” bestaan waarin die mense en per implikasie, die kerk van Jesus, self kan besluit wat vir hom/haar reg en verkeerd is.

Daar is ‘n wêreldwye aanslag om die Godgegewe skeppingsorde tot niet te maak deur die wêreld se regerings en howe en die stem van die Kerk van Christus te probeer bind onder die vaandel van menseregte.

Dit het ons uitgebring by die sogenaamde “vasgelopendheid” van die AS waar ons onsself nou bevind.

Sake wat relevant is in die tyd waarin ons leef en agv die Kerk se sanksionering van sondige lewenspraktyke, het tot gevolg dat die kerk sy reg tot tug en sy stem in die samelewing verloor het omdat die aanvaarbaar geword het dat die kerk uit twee monde mag praat.

In Ef 5:6-20 deel Paulus baie duidelik hiermee en lê hy klem daarop dat hierdie sondige praktyke nie eers oor ons lippe mag kom nie.

Aanbeveling:

Die kerkraad van Die Strand Gemeente is ernstig bekommerd en hartseer oor die stand van sake in die kerk en die samelewing, en het daarom ‘n besluit geneem dat ons nie met die genoemde besluite van die AS saamstem of dit in hierdie gemeente sal leer of sal toelaat dat dit geleer word nie.

Die Kerkraad het na deeglike bestudering en oorweging van die inhoud van die Leergids asook deeglike navorsing rakende selfdegeslag verhoudings tot die besluit gekom dat die besluite van die Algemene Sinode van die NGK teenstrydig is met die voorskrifte van die Bybel soos wat ons dit verstaan en glo. Ons erken dat daar lidmate in ons gemeente is wat anders voel oor hierdie sake waarvoor ons begrip en respek het.

1. Hiermee verklaar die gemeente van Die Strand opnuut dat:

  1. a. Ons opgeneem is in God se roeping vir die wêreld en stel onsself beskikbaar om as dissipels van Jesus toegerus word .
  2. b. Ons saam met elkeen medeverantwoordelik vir die gemeente en sy roeping is.
  3. c. Omgee en omgeegroepe is vir ons belangrik in ons dienswerk.
  4. d. Ons vier ons verhouding met die Here in die eredienste en leef dit uit in die gemeenskap.
  5. e. Ons maak ook saam ruimte vir mekaar en sluit almal in wat die Here oor ons pad stuur.

2. Verder bevestig die gemeente dat ons glo in God soos verwoord in:

  1. a. Die Apostoliese geloofsbelydenis.
  2. b. Die geloofsbelydenisse van Nicea
  3. c. Die geloofsbelydenis van Athanasius
  4. d. Die Gereformeerde Geloofsbelydenisse:
    1. i. Nederlandse geloofsbelydenis
    2. ii. Heidelbergse kategismus
    3. iii. Dortse leerreëls
  5. e. Die vyf Solas:
    1. Sola Scriptura: Slegs die Woord 2 Tim 3:16 (Die Woord is volledig en genoegsaam)
    2. Solus Christo: Slegs Christus 1 Tim 2:8 (Geen ander redding nie)
    3. Sola Gratia: Slegs genade Ef 2:8 (Nie redding deur werke nie)
    4. Sola Fide: Slegs geloof Joh 6:47 (Geloof in Jesus)
    5. Sola Deo Gloria: Net tot eer van God 1 Sam 2:30

3. Die gemeente distansieer homself van alle leerstellinge wat teenstrydig is met Sy woord.

Aanbeveling:

Dit is met hartseer en opregtheid dat die NG Gemeente Die Strand, hiermee kennisgee dat ons amptelik in ‘n staat van Dolering (die begrip is oorgeneem uit Nederlands wat beteken dat ons baie hartseer en bekommerd is) gaan, om daarmee te kenne te gee dat ons, onsself nie met besluite wat deur die Algemene Sinode geneem is, kan vereenselwig nie.

Derhalwe, besluit die kerkraad ook dat geen verdere fondse na die plaaslike Sinode/Algemene sinode oorbetaal sal word nie, totdat daar ‘n daadwerklike inkeer kom en teruggekeer word na die waarheid van die Woord van God.

************

Skrywe aan Ring en Sinode

NG Gemeente Die Strand:

Kennisgewing van Dolering

Tydens die Algemene kerkraadsvergadering van Die Strandgemeente van 09 Junie 2021 het die kerkraad die volgende besluit geneem:

Die Kerkraad van Die Strand Gemeente is ernstig bekommerd en hartseer oor die stand van sake in die kerk en die samelewing, en daarom ‘n besluit geneem het dat ons nie met die 2019 en ander besluite van die AS saamstem of dit in hierdie gemeente sal leer of sal toelaat dat dit geleer word nie. (Volledige uiteensetting en verklaring is beskikbaar)

Die Kerkraad het na deeglike bestudering en oorweging van die inhoud van die Leergids asook deeglike navorsing rakende selfdegeslag verhoudings tot die besluit gekom dat die besluite van die Algemene Sinode van die NGK teenstrydig is met die voorskrifte van die Bybel soos wat ons dit verstaan en glo. Ons erken dat daar lidmate in ons gemeente is wat anders voel oor hierdie sake waarvoor ons begrip en respek het.

Besluit:

Dit is met hartseer en opregtheid dat die NG Gemeente Die Strand, hiermee kennisgee dat ons amptelik in ‘n staat van Dolering gaan om daarmee kennis te gee dat ons, onsself nie met die genoemde besluite wat deur die Algemene Sinode geneem is, kan vereenselwig nie.

Derhalwe, besluit die kerkraad ook dat geen verdere fondse na die plaaslike Sinode/Algemene sinode oorbetaal sal word nie, totdat daar ‘n daadwerklike inkeer kom en teruggekeer word na die waarheid van die Woord van God.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui