Menslike boosheid kom nie van God

Kyk ook:

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Menslike boosheid kom nie van God | Netwerk24

Johan Strydom, Walmer Downs

11 April 2024

Ek is nie ’n gereelde leser van prof. Anton van Niekerk se rubrieke nie, maar het egter sy rubriek “Joshlin se pyn bly onbegryplik” (09.04) gelees.

Van Niekerk is ’n gerekende filosoof, en sy rubrieke word gevolglik, en verstaanbaar, met ’n filosofiese smakie aangebied.

Dié rubriek lei uiteindelik tot die retoriese vraag: “Wie en waar is God?” en, by implikasie, hoe kan ’n volmaakte en liefdevolle God toelaat dat afgryslike dinge met mense en kinders soos Joshlin gebeur?

Die “kombinasie” van God se almag en volmaakte liefdevolheid word bevraagteken.

Van Niekerk opper selfs ’n vraag of God dalk “. . . self medeverantwoordelik vir hierdie gruwels” is. Filosofies gesproke is ek nie seker wat die opmerkings beteken en inhou nie.

Ek kan my wel uitspreek en ’n mening huldig as toegewyde Christen. Vir my is God volmaak. Hy is nie onderhewig aan, volgens Harold Kushner, óf almag óf volmaakte liefde nie, Hy ís volmaak. Punt. Dat die mensdom nie ’n kat se kans staan om God se volmaaktheid te begryp nie, is onbetwisbaar.

Soms verwar ons dalk, in ons feilbare menslikheid, God se goddelikheid met ’n soort super-menslikheid.

Verstaan mooi, God is God. Ons kan nie in menslike terme dink aan sy wese, liefde, grootheid en volmaaktheid nie. God is uniek. Vergeet van menslike beperkings en vergelykings. Ek hoef dit nie te verstaan of verklaar nie. Dis in elk geval ’n onbegonne taak vir enige mens.

Menslike boosheid is nie van God nie. Dit is die gevolg van die menslike sondigheid. Dit is nie God se wil dat grudade of ander sondigheid in die wêreld gebeur nie. God het vir die mens die reg, en die verantwoordelikheid, gegee om self te kies tussen Hom en die sondigheid. God het ons nie as robotte geskape nie.

Die mense wat gekies het om vir Joshlin skade aan te doen, het daarmee self téén God gekies. Tog is sy genade en liefde tot hul beskikking indien hulle opregte berou daaroor het.

Ek het waardering vir filosofies-retoriese vrae, stellings en indringende sienings, maar tóg voel ek dat Van Niekerk se rubriek die potensiaal het om diegene wat “jonk” in die Christelike geloof staan, asook dié wat soekend is, en sekere vrae het, te laat twyfel of selfs te verwar.

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui