Wie doleer: kerkraad of gemeente?

Onderstaande artikel het ook in Kerkbode op 24 April 2024 verskyn.

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Wie doleer: kerkraad of gemeente? | Netwerk24

André Rossouw, Strand

08 April 2024

Dit dien vir my hoegenaamd geen doel om verder kommentaar te lewer op die standpunte van Koinonia, Kairos, die NG Kerk en ander wat gereeld in die media gestel word, met verdagmaking deur albei kante, en strydige standpunte nie.

Ek wil my eerder tot die proses wend wat deur kerkrade gevolg word om te doleer en die daaropvolgende Akte van Opskorting in te dien.

Volgens my verstaan het ’n kerkraad ’n onbeperkte en oop mandaat om alle besluite, on­geag die omvang en gevolge daarvan, namens ’n gemeente te neem sonder om die gemeente daarin te ken en/of die gemeente se mening daaroor te toets.

Daar is dus geen verpligting teenoor die gemeente rakende die neem van besluite nie.

Gemeentelede word genooi om kommentaar te lewer en/of beswaar aan te teken. Die kerkraad sal dit oorweeg en dan ’n meerderheidsbesluit neem.

Let wel, dit is dieselfde kerkraad wat reeds die besluit op sy eie geneem en gepubliseer het wat nou insette vra.

Dit word duidelik gestel dat dit lidmate vry staan om te verander na ’n gemeente wat steeds in verband met onder meer die algemene sinode van die NG Kerk staan – dit klink na ’n bedekte dreigement!

Dit geld uiteraard ook gemeentelede wat dekades lank die kerkgebou as hul eie aangeneem en onder meer finansiële bydraes daartoe gelewer het.

In my handel en wandel kom ek lidmate uit verskillende gemeentes – dolerende en andersins – teë wat ongelukkig is daarmee dat so ’n besluit namens hulle geneem kan word en dat hulle daarna eenvoudig verlief daarmee sal moet neem.

Dit laat die vraag by my: Wie doleer nou eintlik – die kerkraad of die gemeente?

Veral omdat die opskorting van die kerkverband ’n baie omstrede en sensitiewe aangeleentheid is en die kerkraad bewus is van sy onbeperkte mandaat, behoort ’n kerkraad meer sensitief te wees met die hantering van so ’n aangeleentheid.

Voortvloeiend uit bogenoemde blyk die proses klaarblyklik te wees: Beïnvloed die kerkraadslede, wat in die minderheid teenoor gemeentelede is, en hulle het die onbeperkte mag om die proses ten gunste van dolering/opskorting te finaliseer.

Kommentaar

Daniel Louw

Wanneer kerkraadslede gekies word, word dit in die gemeente aangekondig om gemeentelede kans te gee om beswaar aan te teken teen die genomineerde persoon. Indien daar geen beswaar is nie, dan gaan die kerkraad voor om die kerkraadslid aan te stel. ‘n Mens noem die proses approbasie. Daarom behoort die kerkraad uit mense te bestaan wat oor die algemeen die gemeentelede se sieninge verteenwoordig. Toegegee, dit is nie altyd die geval nie.

As ‘n kerkraad ‘n besluit neem waarmee die meerderheid gemeentelede nie saamstem nie, staan dit gemeentelede vry om beswaar aan te teken deur gesprekke of selfs ‘n petisie op te stel. Dit mag wees dat die kerkraad ‘n oordeelsfout gemaak het en dat hulle hul besluit kan heroorweeg indien die gemeente beswaar maak.

Dit sal uiters vreemd wees as ‘n kerkraad ‘n besluit neem en die gemeente in ‘n rigting dwing waarmee die meerderheid lidmate nie saamstem nie.

As ‘n gemeentelid egter nie saamstem met ‘n kerkraadsbesluit nie en daardie gemeentelid is in die minderheid, dan moet hy die besluit so aanvaar of hy moet uit die gemeente bedank.

Daar is honderde gemeentelede wat ook ongelukkig is omdat die gemeentes waarvan hulle lid is, nie standpunt inneem teen die dwalinge wat in die NG Kerk geduld word nie. Dieselfde geld ongelukkig ook vir daardie gemeentelede.

Francois Deyzel, 24 April 2024

Die enigste gemeente in die Strand wat doleer het, die Strand moeder gemeente, is sekerlik nie Andre se gemeente nie, anders sou Andre bewus gewees het van die lang voorbereiding en deel van inligting aan die gemeente. Vanaf die kansel, deur dissipelskapgroepe en in privaat gesprekke asook verspreiding van gedrukte media is die gemeente ingelig en kon persone afsprake maak met die predikant óf kerkraadslede om kwessies te bespreek.

Dit ís so dat ongeveer 6 gesinne die gemeente verlaat het maar ook het 40 weer vanaf ander gemeentes by Strand aangesluit.

Andre se kwellings/beskuldigings is dus ongegrond.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui