Kommunikasie aan Gemeentes deur Koinonia Dagbestuur

Koinonia Sinode het die volgende skryf uitstuur op 21 Maart 2024.

*******

Kommunikasie aan Gemeentes deur Koinonia Dagbestuur

Broers en susters, u word gegroet met die woorde van Fil 1:2: “Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!”

Hierdie skrywe word aan julle gestuur om te verduidelik hoe die Dagbestuur van die Koinonia Sinodale Diensgroep (KSDG) besluit het om te reageer op die disinformasie i.s. opskorting van verband met die Algemene Sinode, wat tans vanuit die kantoor van die Algemene Sinode versprei word.

Dit is duidelik dat die opskorting van verband glad nie deur die leierskap van die AS verstaan word nie. Daar word, skynbaar doelbewus, ‘n totaal ander betekenis aan opskorting met die AS gekoppel as wat met hierdie getuienis as laaste oproep tot bekering bedoel word. Opskorting van die verband beteken nie kerkskeuring nie. Opskorting en/of weerhouding van finansies is ‘n baie dringende oproep tot selfondersoek, verootmoediging, bekering en terugkeer na die Woord.

Ons vertrekpunt is dat elke gemeente volledig liggaam van Christus is en dat die verbande waarin ons staan nie afdwingbaar is nie.

Ons kritiek is ook nie teen die NG Kerk gerig nie maar wel teen besluite van kerkvergaderings en persone wat die kerk mislei. Calvyn se beroemde woorde is ook hier van toepassing “Enige herder het twee stemme, ’n harde stem om die wolwe weg te jaag en ’n sagte stem om die skape te roep”.

Dit is met groot hartseer dat KSDG, weens besluite en verklarings wat deurspek is met onwaarhede, asook misleidende berigte in die media, gedwing word om ‘n regsmening in te win. Die regsfirma MAPHALLA MOKATE CONRADIE INGELYF is gekontrakteer en die dienste van ‘n bekwame advokaat is verkry. As eerste stap is uitgespel watter advies KSDG van die regspraktisyns verwag en dat hul beskikbaar moet wees indien gemeentes hul sou nader om namens hulle verteenwoordig te word. KSDG se standpunt bly dat die kerk nie sy heil moet soek by wêreldse hofsake nie. Wanneer die behoudende gemeentes egter met behulp van senior advokate gedreig word om hulle protes teen dwaalleer te stop, dan het ons ongelukkig geen ander keuse nie, en is dit ook ons verantwoordelikheid om die nodige regsadvies in te win.

Daar is verder ooreengekom dat die leuens wat tans as waarhede voorgehou word een vir een ontmasker sal word. Die kantoor van die AS weier tans nog om die oorspronklike regsmening van die twee senior advokate waarop hulle hul in die dreigbrief aan alle leraars en gemeentes beroep het, te openbaar. In weerwil van ons skriftelike versoek is dit ook uitdruklik geweier. Dit bevestig die ondeursigtige en liefdelose werkswyse van die ASM. Ons is dus verplig om hulle via die PAIA wet te dwing om dit te openbaar. Die onwaarhede oor die pensioen en ampsbevoegdheid sal waarskynlik ook hiermee aangespreek word.

Die KSDG het geen twyfel dat opskorting van verband met die AS, asook die sake rondom pensioen en ampsbevoegdheid, met goeie gevolge in enige wêreldse hof verdedig sal kan word. Daar tans ‘n duidelike patroon is in die wyse waarop gemeentes met foutiewe interpretasies van die
Kerkorde gedreig word. Kerkrade word selfs valslik gedreig dat die Ringe hul funksie sal oorneem om die gemeente te bestuur as hulle nie maak soos die bepaalde Ring of Sinode beveel nie. KSDG is dankbaar teenoor kundiges in ons geledere wat tot op hede met sinvolle advies en optrede die plaaslike gemeentes se belange suksesvol beskerm het teen hierdie onderduimsheid.

Gemeentes word aangemoedig om hul nie te laat intimideer nie. Daar is tans ‘n poging om die AS besluite oor die gemeentes se inskakeling by ‘n ander sinode op ‘n uiters on-kerkordelike wyse af te forseer. Moet asseblief nie hieraan meedoen nie.

Hierdie skrywe word afgesluit met ‘n woord van bemoediging aan leraars wat valslik van kerkskeuring beskuldig, aangekla of vervolg is en van wie daar gepoog is om hul legitimasie deur kwaadwillige en bevooroordeelde optrede te ontneem. Julle word verseker dat ongeag wie hieraan effek wil gee, daardie optrede met alle middele beskikbaar, bestry sal word.

Dit is nou belangrik om saam te staan. U word aangeraai om nie as gemeente betrokke te raak by gesprekke waar die gemeente uitgelewer word aan sogenaamde kundiges van streeksinodes nie. Koinonia sinode het die KSDG amptelik aangewys as ons woordvoerders. In lyn met die mandaat aan hom verleen, het KSDG al verskeie skrywes aan die ASM gerig met ‘n versoek tot mediasie wat telkens van die hand gewys is.
As elke kerkraad of gemeente ‘n eie privaat gesprek voer met verskillende kerkleiers, gaan ons nooit die krisis in die kerk effektief kan aanspreek nie. Verwys daarom enige versoek tot gesprek oor dolering of opskorting met die AS na die KSDG wat wettiglik deur Koinonia Sinode aangewys is om die 56 gemeentes (plus ander behoudende gemeentes wat dit verkies) in amptelike mediasie te verteenwoordig. As daar 100 dolerende gemeentes is wat elkeen met ander kerkleiers moet praat, kry ons 100 verskillende uitkomste wat die kerk net nog verder verdeel.

Hebr 10:36 herinner ons: “Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het.” Dit is die opregte gebed van KSDG dat julle getrouheid aan die Koning van die kerk ryke vrugte sal dra

Namens die KSDG

Dr Anton Knoetze

1 thought on “Kommunikasie aan Gemeentes deur Koinonia Dagbestuur”

  1. Dit sal tot ‘n skeuring lei. Moet dit net nie so noem nie. Koinonia met asb begin leiding gee. En waar gaan Koinonia oor die lang duur heen? Ook die AS pad? Dis my vrees. Want kan jy van ‘n voëltjie ‘n arend maak?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui