Mense nie as marionette geskape

Kyk ook:

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Mense nie as marionette geskape | Netwerk24

Marlene Breytenbach

11 April 2024

Graag wil ek iets sê oor prof. Anton van Niekerk se rubriek (09.04) waarin hy vra waar God was toe Joshlin Smith leed aangedoen is.

In die eerste plek, God het nie marionette geskep nie – ons is gemaak met vrye wil. Sonde en alles sleg daarmee saam is as gevolg van ons eie slegte menswees. Dis juis die afwesigheid van Hom in mense se harte wat lei tot gebeure soos met Joshlin.

Tweedens, Anton vra hoekom slegte dinge juis gebeur – die vraag is eintlik: Hoekom gebeur goeie dinge? Ons, uit ons sondige natuur, is immers bestem vir die dood en uit nature kinders van God se toorn. Maar uit Sy liefdevolle genade het Hy ons kom red van die ewige dood.

Alle goeie dinge wat jy ervaar (van die gevoel van liefde tussen mense tot ’n mooi sonsopkoms), is uit Sy genadige hand, onverdiend aan ons. En, selfs al gaan dit sleg op aarde, is jou seën steeds geplant in ’n ewigheid wat vas is. Die wêreld waarna Anton verwys wat geen sleg het nie, kom eers ná die wederkoms.

Laastens, as ons dan nou vasgevang is in hierdie sondige, slegte, tydelike aarde, waaraan hou ons vas? Wel, ’n ewigheid waar elke menslike behoefte wat jy het, volkome vervul gaan wees – iets wat ons nou nie kan begryp nie. Hierdie lewe is ’n druppel in die emmer van ewigheid.

So ja, Hy hou die hele wêreld in Sy hand, tans ’n gebroke wêreld, maar een waar strale van Sy liefde en genade steeds deurskyn – tot die dag dat hy dit volkome genees.

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui