Preek die kerk ‘n sendingevangelie midde vals bure?

Preek die kerk ‘n sendingevangelie midde vals bure?

Philip Coetzee, Strand

6 April 2024

Is die kerk reg, verstaan hulle Jakobus 2:8 (royal law), maar meer belangrik: verstaan die kerk die Evangelie?

Ek, as lid van ‘n Afrika Sending Netwerk, het ek onlangs ‘n drie-daagse Suidelike en Oostelike Afrika Sending Konverensie in Johannesburg bygewoon. Sendelinge uit Afrika, wat gevestig is in sekere dele van hulle land, sowel as prominente akademici van verskeie Afrika lande, en Dr John Span van Kanada, ‘n prominente kenner, skrywer, en lektor op die gebied van Sending en Islam, was die hoof sprekers. Verskeie hoofstroom denominasies was teenwoordig of deur Zoom verbind, maar ook kleiner kerkgroeperings, veral uit Afrika en India.

Een van die hoof temas was die kerk se betrokkenheid by sending, dit het nie net gegaan oor sendelinge wat gestuur word nie, maar oor plaaslike sending in ons onmiddelike omgewing en in Afrika, wat nie raakgesien of geag word deur die kerke nie. Dr Gideon Manda van Malawi, sendeling en lektor, het onomwonde die vraag gestel: Wanneer laas het jou kerk ‘n plaaslike uitreik aksie na ander gelowe gereel, nie die ondersteuning van uitreikaksies of ander plaaslike organisasies nie, want dit is mos die maklikste uitweg om ‘n skuldige gewete te stil, maar om dit self te orkestreer en fisies “die myl te stap?” Met ander woorde is jou geloofsoortuigings inpas met jou aksies, jou naaste se fisiese en geestelike nood? (Jak 2:14-17). Of wil die kerk duisende spandeer om mense te stuur as waarnemers waar daar alreeds organisasies aan die werk is instede daarvan om die geestelike nood en gevaar om hulle raak te sien? Besef die kerk dat teen die huidige koers wat Islam groei daar gereken word dat Islam, in die nabye toekoms, 15-20 jaar, die wêreld se grootste geloof gaan wees? Met ander woorde, besef die kerk hoeveel verlore siele vermenigvuldig in hulle onmiddellike omgewing? Aldus Dr Manda. Dr Spam reken dat die Islam geloof alreeds die Christen geloof ingehaal het in Kanada en dat Europa, in baie gemeenskappe, alreeds verby gesteek is.

Wat my die meeste getref het is toe Dr Manda die vraag vra: “Preek jou leraar nog die Evangelie, of preek hulle maar net uit die evangelies, EN verstaan die lidmate en die leraars die verskil?” Die verskil is, volgens Dr Manda, dat die kerk sit met klomp “slim” leraars wat hulle uitleen as die enigste kenners op die gebied van die Woord. Dus, word veroorsaak dat leraars, en daardeur lidmate, die ware Evangelie versaak, hy sê: “We as pastors sometimes join the bandwagon of the blind, thus using our own stage and not that of God’s to preach the Gospel, therefore, we will preach in vain, a counterproductive action.”

My verstaan van sy stelling: Is ons bloot net aanhangers of is ons volgelinge, is die kerk bloot net ondersteuners of is die kerk aktiewe ondersteunende uitreikers, “op die veld deelnemers,” of is ons by te veel ander aktiwiteite betrokke? Dus, hoeveel waarde rig ons aan die betekenis en waarheid van die hele skrif? Daarom, vanuit ‘n sendeling oogpunt, kan die kerk met alle eerlikheid sê: Ons preek en leef die volle Evangelie, die uitvoering van Mattheus 28:18-20, want opleiding is een ding maar die praktyk is ‘n ander ding. In 2008 reeds het Drs Marais en De Kok dit duidelik gestel dat die kerk se hoof fokus oor sendingwerk moet weg beweeg van sendinaksies na Derde Wêrelde, en eerder op hul onmiddelike konteks toe spits.

Laastens, die vraag was ook gevra: Mag ons saam met ander gelowe in dieselfde “kerk” aanbid? Hierdie vraag was onder bespreking en die algemene konsensus was dat ALMAL wat Christus ontken as God, sowel as sy aardse bestaan as Seun van God, en die betekenis van die Kruis, ‘n valse beeld van hom versprei. Met ander woorde hulle val definitief in die kategorie van VALS LERAARS of PROFETE. Want as jy ‘n teenoorgestelde van ‘n waarheid verkondig is dit mos valse bewerings, dus om Christus se Godheid af te maak as ‘n valse leering, en hom te verklaar as ‘n gewone mens en profeet, is nie net vals nie, maar ‘n onheilige stelling, ‘n tipiese stelling uit die mond van ‘n antichris! Jan Du Rand (‘n Eenvolume-KOMMENTAAR 2009:2106) beskryf ‘n antichris as volg:” Antichris is ‘n benaaming vir die verleier, van wie daar baie is. Die antichris tree op as verleier wat ontken dat Jesus die Christus is en wat ook weier om die Vader en die Seun te erken. Want die verleier het die leer oor Christus waarskynlik eensydig volgens hulle eie uitgangspunte verander om by hul eie siening te pas…ook afvalligheid gedurende die laaste dae.”

Wat nou gemaak? My aandag was gevestig op die inhoud van Deuternomium18:20; Matteus 24:24; Romeine 16:17; Galasiers 1:8, en 2 Johannes 1:7-11, met die klem op 2 Johannes 7-11, want dit is ‘n presiese wêreld tendens. Daarom vra ek wat beteken “moet julle hom nie in julle huis ontvang nie” (Direkte Vertaling 2014; v10)? Onthou, jou hart, siel, liggaam en verstand, jou huis, en ook die kerk is die huis van God. Met ander woorde, jou grensgebied wat God jou gegee het om hom te aanbid. In sy kommentaar oor “moet julle hom nie in julle huis ontvang nie,” skryf Du Rand die volgende: “Hulle is potensiële gevaar vir die goeie orde en welsyn van die gemeente (kerk in sy geheel)….sulke mense moet nie eens gegroet word nie want dit kan tot gevolg hê dat die verleiers deel neem aan die samekomste.” 2 Johannes 11 eindig met die volgende vermaning: “Want wie hom groet, het aandeel aan sy bose werke,” dit is ook ‘n direkte verwysing na Openbaring 18 met die klem op vers 4 :”sodat julle nie deelneem aan haar sonde nie” (Direkte Vertaling 2014). Soos die Engelsman sê: The bottom line is… Wel die “bottom line” is, preek die kerk nog die volle boodskap van die Evangelie, en is ons bewus van die Draak en die Dier uit die see en aarde wat reeds om ons is? (Op 12-13)

4 thoughts on “Preek die kerk ‘n sendingevangelie midde vals bure?”

  1. Philip. Ek is nou nie ‘n kenner op die gebied nie, net ‘n gewone Christengelowige en ‘n kerkganger. Ek vind die artikel baie interessant en vind aanklank by wat Dr Manda sê. Ons maak baie planne met sendingwerk daar ver, maar ons doen niks aan ons eie omgewing nie. Ons sit hier in die Weskaap met moord, roof, verkragting en al die ander vergrype, maar ons gaan in Afrika in om Moslems wat al reeds in ons God glo, tot bekering te bring. Ons spandeer ons tyd om as Christene onder mekaar te baklei oor minder belangrike sake. Jy haal tereg Drs Marais en De Kok aan wat ook die probleem aanspreek want ons sit in ons eie huise en kerke en doen niks. Moeg gebid, niks gedoen. Jou laaste paragraaf verstaan ek nie. Hoe kan ‘n Christen wat seker is van sy geloof nie met ander mense meng nie? Hoe kan mens so swak wees in jou geloof? Ek moet heeldag saam met alle gelowiges en ongelowiges werk. Ons groot probleem is daar is so baie Kerk Groepies en leraars wat dink net hulle is reg en weet wat die Waarheid is. Hulle kan nie aanvaar dat daar ander mense is wat anders glo nie terwyl daar niks en niemand kan bewys wie is reg en wat is die cliche “Waarheid” nie. Teksversies aanhaal gaan verseker nie die saak duideliker maak nie. Ons moet begin logies dink.

  2. Ek wil net die volgende, met respek, antwoord op jou kommentaar: ons en ander gelowe, veral die Moslem geloof (Islam) aanbid of glo nie in dieselfde God nie. Hulle god is ‘n enkel god (sonder Christus of die Heilige Gees) en nie teenwoordig in sy mense se lewens nie. Met ander woorde, ‘n onbereikbare god en nie ‘n persoonlike god nie. Christene, in teenstelling, dien ‘n nabye God, ‘n God drieenig wat persoonlik met ons in verbindig is deur die teenwoordigheid van die Heilige Gees. Tweedens, om met ander mense of gelowe te meng is nie dieselfde as om met hulle vriendskapsbande te smee nie, en dit word in die Skrif bevestig soos ek dit ook genoem het. My laaste paragraaf verwys maar na die antichris in Openbaring. Ek hoop dit beantwood van my stellings.

    1. Philip ons los dit daar maar as hulle die God van Abraham Isak en Jacob aanbid , hoe is dit moontlik dat dit nie dieselfde God kan wees nie? Ons geen eendag ons saak stel voor presies dieselfde God .

  3. ELKE Gemeente of Ring of Sinode behoort na mening ‘n balans te handhaaf tussen uitreik-bediening (sopkombuis, broodjies en kospakkies, komberse en truie), nagskuiling, Bybelstudies), korttermyn uitreik en wêreldsending in “Jerusalem” (tuisdorp en eie gemeenskap), deur “Judea” (buurdorp of omstreke) en Samaria (oor kultuur en geloofsgrebnse heen)” tot aan die uiterstes van die aarde. Daar behoort geen struweling, wedywering of weeskind-sendelinge te wees nie. Kruisbestuif, ruil uit en span saam waar nodig. Jesus Christus as Hoof van die Kerk is tog ook onomwonde die gewer van die Groot Opdrag. Ek sien Lausanne is besig met ‘n “oudit” van die wêreldsendingsituasie. Ons kan nie langer aanhou om ons Eerste Liefde so sending-ontrou en vals te verteenwoordig níe! ‘n Christen Gemeente sonder ‘n sending aksie is ‘n dooie gemeente!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui