Anton van Niekerk: Joshlin se pyn bly onbegryplik

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Anton van Niekerk: Joshlin se pyn bly onbegryplik | Netwerk24

Anton van Niekerk

09 April 2024

Soos ek hier sit en skryf, is dit Paasmaandag én Gesinsdag. Hopelik kry ons nog tyd vir gesinne. Bowenal: Hopelik staan die dag vir die meeste van ons in die teken van “Pase” – die onpeilbare misterie wat (letterlik!) opgewek is deur die gebeure van ’n kruis en ’n leë graf. Só lui die teorie . . .

Tog leef ons in hierdie dae met die nuwe, radelose ontsetting van naamlose lyding, armoede, wreedheid en angs. ’n Hele gemeenskap in die godverlate plakkerskamp van Middelpos naby Saldanha is, soos ons almal tans, verbyster deur die verdwyning van (en na alle waarskynlikheid moord op) Joshlin Smith. Joshlin was nie ’n bendelid wat in Middelpos se amper-strate rondgeflenter en haarself probeer handhaaf het met handwapens, heroïen en tik nie.

Sy was ’n fynbesnaarde sesjarige meisie wat gelaat is in die “sorg” van ’n monster wat ook haar ma se kêrel is. Die desperaatheid om dwelms te bekom het glo meegebring dat hierdie en ander monsters Joshlin ontvoer en waarskynlik vir moetie verkoop het – veral agter haar groen oë aan.

Die prys? R20 000. Alles (ook bekentenisse) dui tans daarop dat sy waarskynlik gekannibaliseer is voordat haar kamtige “oppasser” en sy meelopers haar, letterlik, “van kant” gemaak het.

En net toe ons min of meer tot verhaal kom oor die grusaamheid daarvan – kamtig dramaties toegelig met ’n ma wat pleit om Joshlin se redding – tref die laagste van al die houe ons: Haar ma is ’n medebeskuldigde. Alles dui tans daarop.

Haar ma – die enkele en eerste persoon op wie Joshlin in haar desperate nood sou wou of kon reken – speel saam in hierdie diaboliese verhaal, bloot omdat sy “hoog” wil word.

Hoe lank kan ons nog voortgaan met die grusaamheid van hierdie soort gebeure? Ons het pas Pase gevier. “He holds the whole world in His hand” sing ons graag in die kerk.

Maar kan ons dit nog sing? Wat is presies aan die gang in die hellevuur waaraan so baie van ons – veral ook kinders – reeds op aarde blootgestel word?

Wie en waar is God? As Hy “die hele wêreld in Sy hand” hou, wil ons nog saam in daardie hand skuil? Ek huiwer van harte om die vraag te vra, maar is God dalk self medeverantwoordelik vir hierdie gruwels?

In die rolprent The Silence of the Lambs is die kannibaal Hannibal Lecter­ ’n figuur wat wel in God glo – maar dan in ’n bose god. In sy eerste gesprek in die tronk met agent Clarice Starling vertel hy haar van ’n kloosterfasade in Spanje wat onlangs omgeval en 30 nonne gedood het. (Hy beweer hy versamel dié soort gebeure “recreation­ally!”). “If he is up there,” sê Hannibal aan Clarice, “he absolutely loves it, otherwise he would have stopped it.”

Wat maak ons, ná Joshlin en Middelpos, van dié argument? Ons kan tog nie met Lecter se waansinnige logika saamstem nie.

Ontstellend soos dit kan voorkom, wonder ’n mens toenemend oor Harold Kushner se argument dat God nie tegelyk almagtig en volmaak liefdevol kan wees nie – in welke geval hy (Kushner) die idee van God se almag liefs laat vaar.

N.P. van Wyk Louw laat die Bose nie verniet nie aanvoer: “Ek is jou wese se ondergrond, en ek trap jou spoor soos ’n goeie hond.”

Tog hou ons Pase. Daarmee erken ons dat vrees nie die laaste woord vir ons spreek nie. Pase herinner ons aan Joshlin se pyn, veragting en vereensaming. Waarom Joshlin, net ses jaar oud, een van dié moes wees wat ons Paaslam se pyn die naaste leer ken het, sal ek wel nooit verstaan nie.

• Van Niekerk is ’n emeritus professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch en ’n ontvanger van die Stalsprys vir filosofie. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Kommentaar

Kyk die volgende reaksies op hierdie skrywe:

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui