Pieter Malan: Leen vir Akademia ’n flitslig, asseblief

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Pieter Malan: Leen vir Akademia ’n flitslig, asseblief | Rapport

Pieter Malan

Sondag, 21 April 2024

Universiteitskampusse wêreldwyd het die laaste paar jaar plekke van stryd en oorlog geword op ’n manier wat ons waarskynlik in die laat 1960’s laas gesien het.

Beroeringe en woelinge op kampus is, in die algemeen gesien, ’n gesonde verskynsel. Dit dui daarop dat ’n jonger generasie nog erns maak met die antieke ideaal om waarheid te ontdek deur robuuste debat en redevoering. Dit laat diegene van ons wat gelukkig genoeg was om eens deel te wees van daardie geroesemoes en geraasmaak terugverlang na ’n tyd toe ons nog idealisties en alwetend was.

Wat die huidige debat egter anders maak, is die vrees dat deesdae se ideologiese stryd een is wat ten doel het om debat te stuit, eerder as aan te moedig. (Nie dat die stilmaak van mense van wie se standpunte jy nie hou nie enigsins nuut is nie. Dit kom van ver af – onthou hoe die briljante Ierse akademikus Conor Cruise O’Brien in 1986 van die Ikey-kampus verjaag is.)

Maar die huidige debat gaan klaarblyklik selfs verder – die vrees dat anargiste die wese van die universiteit self aanval. Dat universiteite nie meer plekke word waar die vrugte van ons Judaïsties-Christelike herkoms verwerp, eerder as gekoester, word.

Dis waarom die oorlye Britse filosoof Roger Scruton graag die moderne universiteit beskryf het as ’n plek waar graduandi die kampus dommer verlaat as wat hulle daar aangekom het.

In reaksie hierop het talle kleiner akademiese instellings die laaste paar jaar hul verskyning gemaak – kolleges wat wil terugkeer na die verligtingsideaal van wat hulle glo universiteite behoort te wees.

’n Goeie voorbeeld hiervan is Ralston College in Savannah, Georgia, in die Verenigde State. Om Ralston se missie aan te haal: “It is no secret that the integrity of higher education, in the United States and elsewhere, has become question­able — not least because most col­leges and universities are no longer places where freedom of inquiry, and the freedom of speech on which free inquiry depends, are protected, let alone celebrated.”

’n Mens vermoed dat dit presies is wat prof. Danie Goosen, akademiese hoof van die Afrikaanse private universiteit Akademia, in gedagte het as hy praat van die “vormingsideaal” van die instelling – ’n ideaal wat verlede week in hierdie koerant verwoord is as die doel om studente in die klassieke tradisie tot “volronde mense te help vorm met ’n groter beeld en dieper begrip van die hedendaagse wêreld”.

Dit blyk nou dat sommige dosente by Akademia effens krapperig is oor waarmee ’n universiteit hom besig hou wat voorgee om binne die “klassieke tradisie” te staan.

Laat ’n mens die argument open deur te sê daar is niks verkeerd met die idee van ’n konserwatiewe universiteit nie.

Een wat, soos Ralston, ’n meer tradisionele uitkyk het op dit wat ’n universiteit behoort te wees, wat glo dat die bestudering van onder meer die klassieke tekste ’n voorwaarde is vir ’n welopgevoede individu. Soos Cole Porter sou sê: “Brush up your Shakespeare (and the women you wil wow).”

Binne die “klassieke tradisie” word daar egter ook aanvaar dat alle idees nie gelyk is nie. Dis wat universiteite doen. Hulle weeg idees teen mekaar op, laat sommige vaar ten koste van ander. Die vraag of die aarde plat is, of die heelal uitdy en of sifilis behandel kan word deur kwik te drink is done and dusted. Die data is in, ons debatteer nie meer daaroor nie.

Onlangs het Akademia ’n seminaar aangebied waar sprekers van die Amerikaanse Discovery Institute kom praat het – ’n instituut wat homself beskryf as ’n “public policy think tank”, maar niks meer is nie as ’n aweregse, religieuse organisasie vir die bevordering van die idee van “intelligente ontwerp” – die siening dat moderne bioloë die kat aan die stert beet het, dat die wêreld so oneindig kompleks is dat net ’n Groter Wese dit kon ontwerp en bou.

Nou ja. Almal het seker die demokratiese reg om hul naam op hul eie manier alie te maak. En as intelligente ontwerp jou manier is, doet só voort. Maar behoort ’n universiteit met die ambisie om ’n ernstige sentrum van onderrig en navorsing te word hom op te hou met twak soos die bestudering van “evolusionisme” – ’n misleidende eufemisme vir intelligente ontwerp.

Jy sal hard moet soek om enige gerekende teoloog, wat nog te sê filosoof, by enige gerespekteerde universiteit in die wêreld te vind wat dié nonsens ernstig opneem.

Miskien is die les hierin dat mense soms doodgeswyg word nie omdat moderne universiteite plekke geword het waar proffies nie meer ’n mening kan lug nie. Soms word hulle in die doofpot gestop bloot omdat hulle bog praat.

Met Akademia se strewe om ’n sentrum van uitnemendheid te wees, een waar Afrikaans as wetenskapstaal nog gekoester word, wens ek hulle alle sterkte toe. Dis goed en nodig en prysenswaardig.

Solank hul strewe ook is om uit die Donker Middeleeue te ontsnap.

Kommentaar

Daniel Louw

Kyk Daar is ‘n verskil tussen mikro- en makro-evolusie wat ek geskryf het wat op hierdie artikel reageer.

1 thought on “Pieter Malan: Leen vir Akademia ’n flitslig, asseblief”

  1. Indien Akademia nie Demonologie en Duiweluitdrywing léér nie. – en ook in praktyk – sal die💡 nooit eens by hulself skyn nie, dat Afrika se honderde miljoene mense, is aan satan vasgebind. Teorie dryf hom nie uit. Aksie en Woord, wel…..op Jesus se manier…..en nie Calvyn of Luther se model.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui