Kan ‘n referendum ‘n oplossing bied vir die NG Kerk?

Kan ‘n referendum ‘n oplossing bied vir die NG Kerk?

Daniel Louw

20 Maart 2024

In Laat strydendes hul saak stel en gemeentes stem (15 Maart 2024) beveel Daan Nortier aan dat gemeentes moet stem oor groot teologiese kwessies.

Soos hy, is daar ook baie ander lidmate wat soos hy voel.

Die Koinonia Sinode se opinie oor ‘n referendum is soos volg:

Die kerk is nie ’n politieke party waar slegs stemme getel word nie. Die kerk is ook nie ’n demokrasie nie, maar ’n Teokrasie. Al sou die meerderheid van die kerk ’n saak goedkeur beteken dit nie dat die Bybel dit goedkeur nie. As dit teen die Skrif is, bly dit ’n onwettige besluit selfs al sou 80% in ’n referendum daarvoor stem. Dit word ook bevestig deur ons Kerkorde Artikel 23.1

“Die besluite van vergaderinge of hulle gevolmagtigdes is bindend, in soverre dit nie in stryd is met die Woord van God, die belydenis van die kerk en die Kerkorde nie (sien Artikel 1 en 2).”

Hierdie is natuurlik oor die algemeen heeltemal waar, maar soms nie prakties nie. Byvoorbeeld, Gereformeerdes en Baptiste sal nooit kan saamstem oor die doop nie. Daarom sou dit nie help om te sê dat ‘n mens moet gaan kyk wat die Bybel oor die doop sê nie, want elkeen gebruik klaar die Bybel om hulle standpunt te verdedig.

Verder, kan die belydenis van die NG Kerk verander word deur ‘n demokratiese proses (kyk Kerkorde, artikel 44). In so ‘n geval moet daar ‘n tweederdemeerderheid wees.

Vrysinniges in die NG Kerk sou redeneer dat dit nie nodig is om hierdie proses, wat in artikel 44 beskryf word, te volg met die kwessie van homoseksualiteit nie, omdat dit nie die NG Kerk se belydenis verander nie. Dit is egter debateerbaar. Daarom sou behoudendes dalk ‘n saak kon hê om vir ‘n referendum te vra.

Om egter op hierdie stadium vir ‘n referendum te vra, is hopeloos te laat. Homoseksualiteit is in die NG Kerk om te bly, tensy die heersende tydsgees draai en dit sien ek nie vinnig gebeur nie.

Op hierdie oomblik blyk skeuring, in watter vorm ookal, die enigste werkbare opsie te wees.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui