As hierdie feite jou nie oortuig, dan sal niks

As hierdie feite jou nie oortuig, dan sal niks | Netwerk24

Deur Daniel Louw

22 Julie 2021

In “ ’n Brief aan die NG gemeente Die Strand” (16.07) bevraagteken dr. Christo Benadé die gemeente se stelling in sy doleringsbrief dat die NG Kerk glo jy hoef nie te glo in die maagdelike geboorte van Jesus en sy fisieke opstanding nie. Benadé sê daar is geen feitelike gronde vir hierdie stelling nie.

Dit is so dat die Kerk nie amptelik ruimte maak vir hierdie twee geloofswaarhede nie, maar daar is talle gevalle waar predikante en teoloë dit openlik bevraagteken het, sonder dat ’n haan daarna gekraai het:

  • In 2003 wou die sinode van die Noord-Transvaal nie ’n kategoriese uitspraak lewer oor die geskiedkundigheid van die maagdelike geboorte of Jesus se liggaamlike opstanding nie;
  • In 2006 het Ferdie Mulder drie van sy Tuks-dosente, proff. Julian Müller, Jurie le Roux en Dirk Human, van teologiese dwaalleer aangekla omdat hulle Jesus se liggaamlike opstanding verwerp het. Die aanklag het ’n stille dood gesterf nadat Mulder op ’n tegniese punt lewenslank geskors is;
  • In 2009 het prof. Adrio König sy boek Die evangelie is op die spel gepubliseer. Die hooftema van die boek is dat indien Jesus se opstanding ontken word, is die evangelie op die spel. Hoekom so ’n boek skryf as die opstanding nie ’n kwessie in die NG Kerk is nie?;
  • In 2012 het prof. Nelus Niemandt, toe moderator van die NG Kerk, in ’n Facebook-gesprek geskryf hoe belangrik die opstanding is. Toe hy gevra is of hy hom dan by Mulder skaar of by Müller en Le Roux, wou hy nie kant kies nie;
  • In 2014 het dr. Willie Cilliers van die NG Kerk Kuilsrivier Moedergemeente openlik die maagdelike verwekking in ’n uitdeelstuk bevraagteken; en
  • In 2001 het dr. Ben du Toit albei hierdie waarhede in sy boek, God? Geloof­ in ’n postmoderne tyd, bevraagteken. In plaas daarvan dat hy onder tug geplaas is, het hy die Andrew Murray­-prys daarvoor ontvang.

As hierdie feite Benadé nie oortuig nie, sal niks hom oortuig nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui