Moderator besing NG “suksesse”, maar oor heelwat besware swyg hy

Kyk ook:

Die moderator van die NG Kerk, prof Nelus Niemandt, is vol lof oor die NG Kerk se “suksesse”, maar oor heelwat besware teen die NG Kerk en sy Algemene Sinode se besluite, swyg hy soos die graf. Gaan lees die berig op Kerkbode-aanlyn: http://kerkbode.co.za/?p=2375 of kyk hieronder.

Hier is ’n paar van die besware waarvan die moderator en/of die moderamen bewus is:

(Dit is eerstens voorgelê aan die Oostelike Sinode wat daarop gevra het dat ’n projekspan saamgestel word om dit te ondersoek en moontlik beter te motiveer. Die projekspan het dit gedoen, en na aanbeveling van die Oostelike Sinode dit in 2 beskrywingspunte verdeel en dit word tans inhoudelik deur die SDK van die Oostelike Sinode bespreek, met hopelike latere deurstuur aan die Algemene Sinode.)

(Tot op hede het die skrywers van hierdie brief nog geen terugvoer ontvang nie.)

*************

2012 NG Kerk se draaipunt

04/12/2012 | Filed under: Nuus, Suid-Afrika | Geskryf deur: Jean Oosthuizen

Die NG Kerk het ’n onomkeerbare draaipunt bereik in sy strewe om weg te beweeg van ’n kerk wat na binne gerig is, na ’n missionale kerk wat al hoe meer na buite gerig is.

So sê die moderator van die NG Kerk se vorige Algemene Sinode, prof Nelus Niemandt. “Dit is deel van die NG Kerk se denkskuif soos vervat in die 2002-sinode se roepingsverklaring. Daarin verbind die kerk hom onherroeplik tot die land, die kontinent en sy mense.”

Die sukses wat die kerk hiermee behaal, word bevestig deur die dagblad Beeld se politieke redakteur, Jan-Jan Joubert, en die koerant se kerksake-verslaggewer, Neels Jackson. Dié twee senior joernaliste was deel van ’n paneelbespreking tydens RSG se program Kruis en Dwars. Dié program word Sondagaand 9 Desember om 19:00 uitgesaai. Albei joernaliste is vol lof vir die goeie werk wat die NG Kerk op talle gebiede verrig. Hulle het die kerk aangemoedig om daarmee voort te gaan.

Prof Niemandt sê 2012 was ’n goeie jaar vir die NG Kerk. “Ons verhouding met die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) is beter as ooit. Internasionaal het die NG Kerk oral ’n hartlike ontvangs geniet en op ekumeniese gebied gaan dit uitstekend.”

Die kerk het waarskynlik ’n beslissende draaipunt (“tipping point”) bereik, sê prof Niemandt. Ou politieke konvensies verval en grense word in stede sowel as op die platteland oorgesteek. Hy sê die kerk se lidmate is diep verbonde aan hulle geboorteland.

Selfs die manier waarop daar vanjaar oor die Belydenis van Belhar in die NG Kerk gedebatteer is, het hom bemoedig, sê prof Niemandt. “Ondanks skerp verskille tussen die pro- en anti-Belhar-groepe het daar tog ’n kentering ingetree. “Dit (die meningsverskille) word nie meer met dieselfde bitterheid en venyn verwoord as wat voorheen die geval was nie. Lidmate is meer ontvanklik om na ander standpunte as net hulle eie te luister.” Prof Niemandt sê hy is hoopvol dat die gesprek aanstaande jaar op dieselfde waardige wyse voortgesit sal word.

Twee sake waaroor die kerk sy profetiese stem nog duideliker wil laat hoor is die bestryding van armoede en die onaanvaarbare geweldvlakke in ons land. “Lidmate is baie besorg oor dit wat in die land gebeur. Die kerk deel daardie kommer. Die kerk moet ’n openbare getuienis hieroor lewer.
“Die vraag is verder: Hoe kan kerk en owerheid saam na oplossings soek; nie een van die twee kan dit alleen doen nie.”
Prof Niemandt het die groeiende aantal vernuwende denkers verseker dat daar inderdaad ’n plek vir hulle in die NG Kerk is. “Die NG Kerk bly ’n ruim huis waar baie mense kan tuis voel. Die kerk se kernwaardes is sterk genoeg om mense met verskillende sienings maar wat dieselfde waardes deel, te akkommodeer. Ons kry dit goed reg om mense met verskillende spiritualiteite te omhels.

“Ek wil dankie sê aan elke lidmaat en elke gemeente wat besig is met versoeningsaksies. Dit wat die lewe sagter maak en wat ander mense help om in die volheid van Christus te leef,” het prof Niemandt gesê.

jean@tydskrifte.co.za

************

Ds Gideon Aggenbag het die volgende kommentaar na Kerkbode-aanlyn ingestuur op die artikel, maar dit is nie geplaas nie.

Your comment is awaiting moderation.

Daar is vir my heelwat ontstellend, en ook onduidelikheid, oor wat prof. Niemandt sê en ook dít wat hy nie sê nie. Ondervinding het ongelukkig al geleer dat onheilspellende tendense in mooiklinkende terme gepakketteer word – tot so ’n mate dat die leser dit in goedertrou aanvaar, maar soms iets heeltemal anders verstaan as wat in die skrywer/spreker bedoeling verskuil lê.

Dit val vreemd op die oor dat prof. Niemandt so ’n hoë agting het en waarde heg aan die menings van Jan-Jan Joubert en Neels Jackson, dat hulle senior joernaliste is en dat hulle vol lof is vir die suksesse van die NG Kerk, maar dat geen melding gemaak word in hoeverre die kerk homself ondersoek het ten opsigte van, en gestreef het na, die verkondiging en uitleef van God se wil vir die kerk nie. In hierdie hele berig oor die kerk se prestasies en suksesse word geen melding gemaak van die eise van Gods Woord, die christelike liefde of die boodskap van Jesus Christus as die Vors van Vrede en geregtigheid nie. Inteendeel: hy sprak geen sprook oor ’n soeke na God se oplossings of Sy wil vir ons verkondiging en optrede in hierdie deurmekaar wêreld waarin ons ons bevind nie. Inteendeel: Dit is die NG Kerk wat amptelik aanbeveel het dat gay/lesbiese huwelike gewettig word. Dit is die kerk wat besluit het dat seks buite die huwelik nie aan christelike riglyne voldoen nie, maar tog verlief neem met saamwoonverhoudings (ook wat die seksuele betref) en dit nie “sonder meer” wil afwys nie omdat dit kwansuis in sommige opsigte Bybelse waardes reflekteer. Dit is die kerk wat die evolusiehipotese propageer deur te bely dat [God nie wonderbaarlik geskep het nie, maar dat] die skeppingsproses volgens die ingewikkelde aard van wetmatighede verloop het, en nog steeds so ontwikkel en funksioneer.

Dit is die kerk wat toelaat dat sy leiersfigure onbybelse teologieë verkondig en geen vinger verroer om dit d.m.v. kerklike tug te besweer nie. Inteendeel, ek verstaan dat dit diesulkes is wat deur prof. Niemandt geklassifiseer word as “die groeiende aantal vernuwende denkers” vir wie hy “verseker dat daar inderdaad ’n plek vir hulle in die NG Kerk is.” Sommige van hierdie “vernuwende denkers” meen dat God nie wonderbaarlik in ses dae geskep het nie, dat Noag, die ark en die sondvloed blote mites is; dat Jesus nie fisies uit die dood opgewek is nie; dat dit O.K. is om saam met “ander gelowe” deel te neem aan “gesamentlike aanbidding”; dat dit O.K. is as lidmate glo dat die duiwel nie as ’n (albeit metafisiese) persoon bestaan nie, en nog veel meer.

Daarom vra mens jouself af wat prof. Niemandt eintlik bedoel as hy praat van “mense met verskillende sienings maar wat dieselfde waardes deel”, en die omhelsing van mense van “verskillende spiritualiteite”. As my siening sou wees dat die duiwel as persoon nie bestaan nie (én waarom nie ook God nie!?), en/of dat die Bybel nie aanspraak maak op “eksakte historiese feitelikheid” nie, watter waardes sou ek nog kon deel met Bybel-gelowiges? As ek onwrikbaar glo in Jesus as enige Verlosser en Saligmaker, watter ander “verskillende spiritualiteite” sou ek nog kon “omhels”?

Prof. Niemandt se gebrek aan duidelikheid oor hierdie sake asook sy versuim om enige hoop op (en die ingrype van) ons almagtige God is nie gerusstellend nie. Hy wil die kerk se “profetiese stem” “nog duideliker” laat hoor. Die vraag is in hoeverre die kerk se stem “profeties” (d.i. as boodskap van God aan die mens!) uit die kerk se “mond” gehoor word, te midde van sy uitsprake wat teen die Woord van God indruis.

Ja, dit is waar dat ons as lidmate diep verbonde is aan ons geboorteland en daaroor bekommerd is. Maar (baie) lidmate is nog meer verbonde aan God en Sy onfeilbare Woord, en verlang na ’n oproep van die kerk om opnuut weer terug te keer na God en Sy Woord, en ons hoop, geloof en vertroue op Hom te vestig in ons soeke na oplossings.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui