Akademia kap terug ná proffies mor: ‘Ons is onbeskaamd Christelik’

Net toe ‘n mens gedink het dat wonderwerke nie meer gebeur nie, kom Akademia te voorskyn wat bereid is om standpunt in te neem vir konserwatiewe, Christenwaardes.

Die volgende briewe het voortgespruit van hierdie artikel:

Kommentaar verskyn in [rooi-bruin blokhakies].

*******

Akademia kap terug ná proffies mor: ‘Ons is onbeskaamd Christelik’ | Rapport

Johan Eybers

Rapport, 14 April 2024

Akademia staan onbeskaamd in die klassieke Christelike tradisie en is trots daarop. Sy studente én dosente neem daarvan kennis.

Só antwoord Zydèlia Venter, woordvoerder van dié private Afrikaanse universiteit, op sommige van sy akademici se kritiek dat die instelling te voorskriftelik is oor sake soos evolusie.

Die interne spanning in Akademia het aan die lig gekom ná die skielike bedanking van prof. Pieter Duvenage, voormalige dekaan van die fakulteit geesteswetenskappe en aanbieder van Filosofiegesprek op RSG.

Verskeie mense het aan Rapport gesê Duvenage was voor sy vertrek krities oor wat hy beleef het as die “beperking van akademiese vryheid” aan die instelling, terwyl ander sê dat hy onder druk was om te bedank weens ontevredenheid met sy werkprestasie.

Nadat Rapport vrae hieroor aan Akademia gestel het, het Duvenage en Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, dié bewerings gister in ’n gesamentlike verklaring ontken.

Minstens een akademikus wat krities was oor die ideologiese lyn wat Akademia volg, dr. Hercules Boshoff van die filosofiedepartement, is verlede week geskors. Boshoff en Akademia wou by navraag nie sê wat die redes vir sy skorsing is nie, maar Akademia sê dit is “ernstig van aard”.

Benewens Duvenage se pos as dekaan, was die fakulteit van natuurwetenskappe ook in dié tyd sonder ’n leier nadat prof. Hannes Rautenbach, voormalige dekaan, verplaas is. Hy doen nou, volgens Akademia, “belangrike gespesialiseerde en goeie werk” in sy nuwe posisie.

Wat die kritiek oor Akademia se standpunt oor evolusie betref, sê Venter Akademia is geensins gekant teen goeie navorsing in enige dissipline nie en dit sluit die biologie en navorsing oor evolusie in. Akademia aanvaar evolusie as ’n kenmerk van die lewe, maar onderskei tussen “evolusie en evolusionisme”, sê sy. Akademia handhaaf “ ’n kritiese voorbehoud jeens eensydige opvattinge in die wetenskappe wat alles vanuit ’n -isme verklaar, soos onder meer blyk uit die eensydighede van materialisme, die naturalisme en ook die evolusionisme”.

Nog een van die twispunte is die voorskrifte van die NP van Wyk Louw-sentrum wat verlede jaar gestig is.

Venter sê dié sentrum “maak die gesprek oop oor die aard van die universiteitswese” teenoor die “linkse woke-kultuur” by ander universiteite “wat onverdraagsaam staan teenoor die oop gesprek”.

Volgens Venter steun Akademia die “soeke na die waarheid, goedheid en skoonheid van die werklikheid”, en stel hy dosente en studente bloot “aan die Groot Boeke en werke wat verlore gegaan het en vanweë ideologiese voorskriftelikheid selfs verdring is”.

Oor klagtes dat studente deur die NP van Wyk Louw-sentrum verplig word om sekere “Groot Boeke” te lees, sê sy “die saamlees van boeke en tekste” is een van die meganismes wat gebruik word om “lees-, vertolkings- en denkvaardighede” te ontwikkel.

Sy ontken dat die sentrum fundamentalisties is. Dit is juis gegrond in die klassieke idee van universiteitswese en die kultivering van oop en ontvanklike denke, sê sy.

“Dit bied juis ’n antwoord op die chaotiese toestand van huidige universiteite wêreldwyd wat die hart van die universiteitswese verloor het.”

Terwyl sommige akademici krities is oor die voortdurende gehamer op die “vormingsideaal” by Aka­demia, sê Venter dié ideaal het ten doel om studente “as volronde mense te help vorm” met ’n groter beeld en dieper begrip van die hedendaagse wêreld­.

“Dít is die hart van Akademia en dit onderskei hom ook van ander universiteite wat buite die klassieke tradisie staan. Ons is nie bewus van ongelukkigheid van personeel hieroor nie, maar sal dit graag intern hanteer indien daar is.

“Ons is wel bewus van entoesiasme van personeel oor die vormingsideaal, aangesien dit weer diep betekenis van die idee van die universiteit gee. Dit maak hulle vry om akademie in die klassieke sin van die woord te beoefen.”

Venter sê Daan Goosen, seun van Akademia se akademiese hoof, prof. Danie Goosen, is op ’n termynkontrak by die instelling aangestel ná “deeglike en deursigtige werwings- en keuringsprosesse”. Hy behartig ’n aanvoorprojek. As die projek later ’n permanente betrekking in die instelling regverdig, sal die nuwe pos geadverteer word, sê sy.

“Familiebande sal nooit op enige manier ’n invloed op Akademia-aanstellings hê nie. Niemand sal op grond van ’n familieband bevoordeel word nie, maar niemand sal ook benadeel word op grond van familiebande nie,” sê sy.

“Alle universiteite het ’n spesifieke bril op die wetenskap. Akademia het spesifiek gekies om openlik in die klassieke Christelike tradisie te staan,” sê Venter oor kritiek, ook uit kerkkringe, oor die instelling se behoudende benadering tot Christenskap.

[Kommentaar: Hierdie is baie waar: almal kyk na die wêreld rondom hulle deur ‘n bril. Is ander universiteite bereid om dit te erken of maak hulle daarop aanspraak dat hulle die enigstes is wat objektief na die feite kyk?]

Dr. Daan van Wyk van die Hervormde Kerk sê hy het in Julie­ Akademia se teologie-en-filosofiekonferensie bygewoon en die teologie-sprekers het ’n  “eng Gereformeerde inslag” gehad wat hy steurend gevind het.

Die klem wat gelê is op pogings om God se bestaan wetenskaplik te “bewys” (eerder as op geloof in die bestaan van God) het hom vreemd opgeval.

[Kommentaar: Dit is ‘n uiters teleurstellende stelling komende van ‘n hooggeleerde uit die kerk. Wat wil hy hiermee sê: moet ons eerder blindelings aan God glo in plaas daarvan om rasioneel te glo? Ek is redelik oortuig daarvan dat Akademia besef dat God nie wetenskaplik bewys kan word nie, maar daar is baie wetenskap wat gebruik kan word om rasioneel tot die gevolgtrekking te kom dat dit baie meer realisties is om aan ‘n Skepper God te glo as om te glo dat alles vanself ontstaan het. Kyk byvoorbeeld Hoekom glo ons in die bestaan van God?.]

Venter sê as private instelling het Akademia die vryheid om te kies wat hy wil wees, hulle is trots daarop en die vinnige groei van die instelling wys dat dít is wat die gemeenskap wil hê.

“Daar is ’n groot verskeidenheid van studente van verskillende denominasies en moontlik ook (studente) wat nie glo nie. Ons keur nie studente op grond hiervan nie.”

Een van die gegriefde dosente sê Akademia se bestuur gee voor dat hulle Christelike waardes en norme voorstaan, maar in werklikheid is hulle “ekstremisties regs en nasionalisties”.

“Ek moes besef het daar is groot fout toe ek daar begin werk en ’n spreker vir ’n saal vol mense gesê het daar bestaan nie iets soos die koronavirus nie en dat dit iets is wat deur regerings geskep is om mense se regte te beperk.

“Almal het net hul kop geknik en niks gesê nie. Dit was totale malligheid,” sê die bron.

[Kommentaar: Ek is redelik seker daarvan dat Akademia nie die koronavirus ontken nie. Dat daar ‘n spreker was wat dit op ‘n stadium gesê het, kan wees, maar geen van die hoofstroom universiteite kan daarop aanspraak maak dat hulle die Covidtydperk baie meer wetenskaplik hanteer het nie. Dit was van die begin af tog duidelik dat die entstowwe nie behoorlik getoets is nie. Bill Gates het ruiterlik erken dat dit onmoontlik is om ‘n entstof vir ‘n jaar te toets en te voorspel wat die effek oor drie of vyf jaar sal wees. Tog het universiteite regoor die land studente verplig om ingeënt te word. Ons kan net dankbaar wees dat die entstof nie groter negatiewe gevolge gehad het nie.]

Nog ’n dosent sê dit voel al hoe meer of Akademia vir almal wil sê hoe om te dink.

“Studente kan gelukkig wees hulle leer goeie maniere en dat hul klasse in hul eie taal aangebied word. Daar word met Skriflesing en gebed geopen. Maar dit is waar dit moet stop.”

Hoewel sommige akademici krities is oor die akademiese omgewing, sê verskeie dosente met wie Rapport gepraat het weer hulle werk sonder enige inmenging deur die instelling.

“Dit is waar dat Akademia studente en dosente aantrek wie se lewensuitkyk meer behoudend is, maar die klagtes oor die beperking van akademiese vryheid is onwaar.

“As dit só was, sou ek nie hier gewerk het nie,” sê die een.

Nog ’n dosent bevestig wel dat daar akademici is wat geïr­riteerd is met Goosen “se verknogtheid aan sy vormingsideaal”.

“Almal rol net hul oë as hy daaroor filosofeer en gaan dan aan met hulle werk.

“Hy is self ’n filosoof en daarom is dit seker vir hom belangrik.”

Die Akademia-twis volg kort nadat ’n openbare twis tussen akademici uit­ge­breek het oor die integriteit van vier artikels in die hoogs aangeskrewe Tydskrif vir Geesteswetenskappe oor of die “teorie” van intelligente ontwerp (IO) as geldige wetenskap verkondig kan word.

[Kommentaar: As mense ongelukkig is daarmee dat Akademia oop is vir IO dan is daar niks om oor bekommerd te wees nie. Trouens, dan is Akademia op die regte pad.]

Die skrywers van die artikels – Johan Dreyer, Kobus van der Walt en Rudy Denton – is onder meer daarvan be­skuldig dat hulle hul eie waarheid uitgedink het dat ’n skepper-god die aarde en heelal geskape het.

[Kommentaar: Kyk Debat: ‘Wetenskaplikes hoef nie áltyd ateïste te wees nie’ (28 Jan 2024)]


Dít is waaroor die griewe gaan

Gegriefdes is oor verskeie kwessies ongelukkig, waaronder die aanstelling van Daan Goosen, seun van die instelling se akademiese hoof, prof. Danie Goosen, in die pos van “spesialis: vormingsideaal”. Hulle beweer die pos is spesiaal vir hom geskep.

• Hulle maak ook beswaar oor die gebruik van die instelling se NP van Wyk Louw-sentrum, wat verlede jaar tot stand gekom het, om “konserwatiewe” en “fundamentalistiese” ideo­logieë op personeel en studente af te dwing. Carel Boshoff, stigter van die dorp Orania, beklee die sentrum se ereleerstoel.

• Die feit dat Akademia in Augustus die gasheer van ’n tweedag-konferensie was wat deur die Amerikaanse Discovery Institute aangebied is, ontlok ook kritiek. Dié instituut word gereeld daarvan beskuldig dat hy onwetenskaplike inligting oor biologiese evolusie versprei en in die akademiese wêreld inmeng om eng ge­loofs­op­vat­tinge oor die skeppingsleer te bevorder.

[Kommentaar: Die Discovery Instituut onderskryf intelligente ontwerp en het dokumentêre programme vervaardig soos, The Privileged Planet, Unlocking the mystery of life en Icons of Evolution. En dit is glad nie ‘n verrassing dat hulle deur evolusioniste beskuldig sal word van onwetenskaplike inligting nie.]

Richard Weikart, ’n historikus en een van die sprekers, het later op die instituut se blad, Evolution News, gesê sy boodskap dat gruweldade onder die invloed van die evolusieleer gepleeg is, is “hartlik ontvang”. Hy het dit in sy toespraak “duidelik gemaak dat hy nie sê alle evolusioniste is Nazi’s, rassiste of eugenetici (voorstanders van rasverbeteringsleer) nie, maar het wel daarop gewys dat Darwinistiese idees gebruik is om gruwelike rassisme en volksmoord te regverdig”, lui die berig.

[Kommentaar: Kyk gerus creation.com/eugenics.]

Dr. Daniël Maritz, bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum, het die Discovery-sprekers geloof vir hul “diep wetenskaplike insig (wat gewys het) hoe sosiale Darwinisme gebruik is om die geskiedenis te ondermyn”.

[Kommentaar: Daarmee kan ek my vereenselwig.]

• Nog ’n kwessie is dat studente ongeag hul studierigting C.S. Lewis se boek Mere Christian­ity en J.R.R. Tolkien se boek The Hobbit moet lees. En dat dosente ook die boek How the West Won moet lees. Dosente moet die “Groot Boeke” in hul verskeie dissiplines integreer met die veronderstelling dat dit wysheid en deugde by studente sal kweek en hulle bestand sal maak teen vals invloede, sê Rapport se bronne.

[Kommentaar: Gegewe Akademia ‘n konserwatiewe, Christelike universiteit is, is daar niks fout met hierdie bronne nie. As sekulêre universiteite en selfs skole hul studente kan dwing om allerhande woke-ideologieë te laat lees, staan dit Akademia sekerlik vry om hierdie boeke aan studente te laat lees.]

Maar sommige dosente voel dis tydmors om “ligte leesboekies” te bestudeer. “Dit beteken jy kom nooit uit by die kern van jou vak nie. Ek kan my nie indink hoe jy dit in ’n vak soos wiskunde inbou nie,” sê een.

[Kommentaar: Ek is ook onseker of jy nodig het om Mere Christian­ity te lees om jou in wiskunde te help, maar die lewe is veel meer as wiskunde. By Potchefstroom moes alle studente filosofie in hulle eerste jaar neem.  Tans moet alle skoolkinders die vak lewensoriëntering (LO) neem wat nie veel met akademiese vaardighede te doen het nie. Om na byvoorbeeld Mere Christianity as “ligte leesboekies” te verwys, verklap egter die subjektiwiteit van Akademia se kritici.]

’n Senior dosent sê studente “lag vir die NP van Wyk Louw-sentrum se simpel reëls. Ek kan jou verseker hulle vra net vir ChatGPT om vir hulle ’n opsomming van die boeke te gee sodat hulle die eksamen daarin kan slaag.”

’n Dosent wat nie die gegriefdes se ontevredenheid deel nie, sê die doel van die leeslys is bloot om studente aan die lees te kry. Daar word elke jaar ’n nuwe leeslys volgens ’n tema opgestel. Vanjaar se tema is “Voyage”, sê sy.

[Kommentaar: Nee wat, as dit die somtotaal van kritiek teen Akademia is, dan stuur ek graag my kinders na hierdie universiteit.]

5 thoughts on “Akademia kap terug ná proffies mor: ‘Ons is onbeskaamd Christelik’”

  1. Die hoofstroom anti-reformasie teoloë en inklusiewe kwasi-wetenskaplikes het reeds die sosiale media aan hulle voete en hulle hou nie van die waarheid nie. As natuurwetenskaplike navorser en deeltydse lektor kan ek net Akademia se grond-perspektiewe bevestig en ondersteun. (Ek is nie by Akademia betrokke nie, maar dra kennis van die geweldige waarde van Akademia op veral tegnologiese gebied. Hieroor sal die die polities-geïnspireerde, inklusiewe, “geestelike” leiers swyg.)

    1. Ek moet egter se dat indien “Evolusie erken”, jy eintlik al klaar vir semantieke bedrog geval het. Die voorbeelde vir Evolusie is doodeenvoudig produkte van biologiese entropie en nie van iest wat ‘geevolueer’ het dws deur mutasie en seleksie na van minder na meer ontwikkel het. Daar is nie een voorbeeld vir dit nie. Die voorbeelde wat hulle gee is vir ‘verandering oor tyd’, maar hulle se nie watter rigting toe.
      En dis hoe die semantieke trick van hulle werk.
      1. Defineer Evolusie as ‘Verandering oor tyd’.
      2. Wys uit of bereik ooreenkoms dat daar verandering oor tyd is.
      3. Se dat Evolusie dus waar is en dat mens dus moet aanvaar dat Mense van Enkelselorganismes ontstaan het.

      Dis egter ‘n Non-Sequitur. Maar dis tipies vir die semantieke bedrog wat meer en meer ‘n norm geword het in die akademiese wereld en kosmologiese vakke het ‘n probleem geword.

      As hulle dit maar net as hulle ‘kosmologiese model’ sou aanbid sou ek nie ‘n beswaar teen dit gehad het nie. Ook verskil my kosmologie van hulle kosmologie.
      Maar hulle verkoop dit as:
      a) ‘n Natuurwetenskap (Wat dit nie is nie en ook nie kan wees nie).
      b) ‘n “Wetenskaplike Feit”. Insinueer dat dit ‘n bewese feit is en gebruik ‘konsensus’ en ‘gesag’ (“Alle deskundiges is dit eens”)

      Nou ek is bewus oor die eierdanse rond om die termonlogie en argumente. Maar in die slotsom is dit so dat tensy iemand ‘n PhD in historiese biologie of wysbegeerte doen, word hy op skool, in media en selfs op universiteit gemaak glo dat die materialistiese verklaring vir die Natuur, Lewe, Diere, die mens ens. dus Evolusieteorie korrek is. En dat dit ‘wetenskaplik bewys’ is. Dat dit ‘n paradigma is en dat dit maar. En dat dit eintlik maar net deur die narvorsers voorveronderstel word. Dit se hulle dan egter nie vir jou nie.

      Maar hulle gaan daarop wys dat daar joernalartikels is wat van evo-terminologie praat. Maar dis so bietjie soos klimaat, virusse, Holocaust, Ufologie en waar daar oorals veronderstel word iets is waar en bewysmateriaal dan in daardie rigting geinterpreteer word. Op daardie manier kan mense met voldoende kulturele of sosiale mag alles bewys, dus kan dit nie eintlik enige iets bewys.

      Dus is dit eintlik veld waar mense met ‘n christelike wereldbeskouing nog veld kan wen.

  2. Dit is eintelik eenvoudig. Dit is ‘n instelling wat nie deur die regering (van die dag beheer word nie – aangesien dit deurentyd kan en sal verander) wat sê, dít is wie ons is, dit is hoe óns dit doen, en hierdie is wat dit kos. Waarom nie.

  3. Akademia is ‘n privaat universiteit wat groei met privaat fondse. Dis ‘n suksesvolle organsisasie met visionêre leierskap.
    Maak eerder huis skoon in al die regering-instansies.

  4. Enige ‘Christelike’ instelling is per definisie ideologies, omdat die geloofsdogma nie bewys kan word nie, en daarom sal daar noodwendig spanning wees met die akademiese grondbeginsel dat teenargumente júís ondersoek moet word in die soeke na toetsbare en herhaalbare resultate. Noag se Ark en die wetenskap van Evolusie, staan dood eenvoudig nie op dieselfde intellektuele fondamente nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui