Nelis Janse van Rensburg se argumente ongeldig

Deur Jan Louw

24 Januarie 2021

Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk se algemene sinode (AS), het op 18 Januarie 2021 in ‘n video met die NG Kerk gepraat. Dit is duidelik dat hy wil reageer op die teenstand wat die algemene sinode wat hy verteenwoordig, vanuit die kerk ervaar. Hier volg die video (vir ’n opsomming van die video, kyk bylaag A):

Ds. Nelis Janse van Rensburg gesels oor kerkeenheid

Kommentaar

Nelis stel die besluite van die algemene sinode (AS) baie rooskleurig voor, ten spyte van die bedenklike aard daarvan. Die Sinode het immers gevra dat kerkrade ál die kerklike ampte sal oopstel vir mense wat in LGBTQIA+ verhoudinge lewe. Dit is die besluite wat Nelis uiteindelik wil goedpraat.

Die argumente wat Nelis in sy narratief gebruik is ooglopend ongeldig. Nelis moet daarom nie verbaas wees as sy argumentasie selfs bedrieglik voorkom nie.

1. Ons verbondenheid met Jesus Christus

Nelis maak ‘n groot saak daarvan dat ons ‘n uitverkore volk van God is en in Christus diep aan mekaar verbonde is. Teen hierdie agtergrond is “meningsverskille” vir hom iets sekondêr. Hy sê meningsverskille was nog altyd deel van die kerk en moet daarom gewoon hantéér word.

Dit is misleidend om die saak waaroor dit hier gaan, af te maak as gewone meningsverskille. Die besluite van die Sinode tas die hart van ons Christelike lewe aan. ‘n LGBTQIA+ lewenswyse is hoegenaamd nie te versoen met Christus se doel met die kerk, naamlik om ons heilig en onberispelik voor God te stel nie (Efesiërs 5:27).

2. Handelinge 2

Nelis wys op die verskeidenheid tale en kulture wat teenwoordig was by die uitstorting van die Heilige Gees. Daar was ook rykes en armes. Nelis wil homoseksualiteit in die kerk sien as deel van hierdie diversiteit van die kerk wat van die begin af daar was.

Hy swyg egter daaroor dat Petrus by daardie selfde geleentheid toe die Heilige Gees uitgestort is, die skare opgeroep het om hulle te bekeer, met ander woorde, om hulle lewens te verander (Hand 2:38).

3. Handelinge 15

Die vroeë kerk het in Handelinge 15 saamgekom om ‘n besluit te neem oor die voortsetting van die besnydenis. Nelis wil voorgee dat die apostels by die geleentheid ruimte gemaak het vir die Christene oor die eet van offervleis. Hulle moes nie mekaar se geloof in gedrang bring omdat hulle verskillende sienings oor die eet van offervleis gehad het nie.

Dit is volgens Nelis ‘n bewys dat die apostels ruimte gemaak het vir ‘n verskeidenheid standpunte. Hy swyg egter oor die feit dat die apostels in hulle uitspraak spesifiek gewaarsku het teen onsedelikheid (porneia) onder die Christene (Hand 15:29).

4. Ons gebruik die Bybel verskillend

Nelis sê die Sinode het besluit ons gebruik die Bybel verskillend. Dit moet volgens hom egter nie in die weg staan van ons diep verbondenheid aan Christus en aan mekaar nie.

Nelis gee hier ‘n korrekte weergawe van die Sinode se besluit. Die besluit is egter inherent bedrieglik, want die algemene sinode wil met hierdie siening voorgee dat ons besluite kan neem wat direk in stryd is met die wil van die Here. Nelis vereenselwig hom met hierdie bedrieglike argument van die sinode.

5. Die huwelik is vir een man en een vrou

Nelis beklemtoon die feit dat dit die Sinode se standpunt is dat die huwelik bedoel is vir een man en een vrou. Hy gebruik die argument dat leraars nogtans paartjies wat saam gewoon het trou. Hy meen dat dit ‘n bewys is dat ons voorsiening maak vir diversiteit in die kerk! Wil Nelis met hierdie argument voorgee dat ons saamwonery goedkeur?

6. Ons sal nooit weer mense by verstek uitsluit nie

Nelis verwys hier na die verlede toe die kerk mense op grond van ras by verstek uitgesluit het. Dit moet nooit weer gebeur nie.

Weereens ‘n bedrieglike argument. Dit gaan nie hier oor uitsluiting van mense nie, maar oor die verantwoordelikheid van die kerk om sondige gedrag aan te spreek. LGBTQIA+ is tog seker deel van die sondige gedrag wat genoem word in 1 Korintiërs 6: (9)Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen (10)of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.

Vra Nelis ook dat mense wat hulle skuldig maak aan hierdie lys van sondes, nooit by verstek “uitgesluit” sal word nie?

7. Die besluit is net ‘n voorstel, nie ‘n wet nie

Daar is glo ruimte vir gemeentes om hulle eie besluite te neem oor homoseksuele verhoudings in die ampte. Die AS vra nie dat almal die besluite moet goedkeur nie. Die AS is daartoe verbind om almal te beskerm.

Die trooswoord van Nelis maak ongelukkig nie indruk nie. Waarom was daar dan ‘n hofsaak nodig om die kerk daartoe te bring om ‘n “voorstel” te maak? Sal die hof ook Nelis se interpretasie van die sinodebesluite bevestig as daar in die toekoms hofgedinge ontstaan oor kerkrade se aanstellings in die ampte, of tugoptredes teen lidmate in die kerk?

8. Die gesprek gaan voort

Nelis wil ons gerusstel deur te sê dat die gesprek oor die onderwerp voortgaan. Hy sê daar sal steeds geleentheid wees vir voorstelle en gravamina.

Weereens maak hierdie woorde van Nelis ongelukkig nie indruk nie. Nelis was voorsitter van die afgelope sinodevergaderings. Hy het toegesien dat die honderde bladsye van beswaarskrifte van lidmate aan die algemene sinode gewoon geïgnoreer is.

Teen bogenoemde agtergrond moet Nelis die lidmate nie verkwalik as ons voel dat ons nie meer sy woorde ernstig kan opneem nie. Hy maak dit moeilik om sy bona fide te respekteer.

Bylaag A: Opsomming van video

Ons eenheid bestaan in ons diepe verbondenheid met Jesus Christus. Hy herhaal die woord diep baie keer. Ons is diep verbonde aan God deur die bloed van Christus. Hy het sy Gees oor ons uitgestort. Ons verbondeheid bestaan nie in ‘n klompie oortuigings wat ons deel nie. Ons is deur God uit die wêreld geroep as sy volk, sy uitverkorenes.

Teen hierdie agtergrond is meningsverskille iets sekondêr. Meningsverskille is ‘n saak wat hanteer moet word. Van die begin af was die kerk ’n instelling vol diversiteit.

Met die uitstorting van die Heilige Gees in Handelinge 2 was daar baie verskillende volke en kulture bymekaar. Ryk en arm is saamgevoeg in een gemeente. Hulle het hulle diversiteit oorkom.

Handelinge 15 is nog ‘n voorbeeld van hoe die kerk ruimte gemaak het vir mekaar se standpunte. Hulle het mekaar geakkommodeer oor verskillende standpunte. Die eet van offervleis was ‘n groot kwessie. Maak ruimte vir mekaar. Hulle moes nie mekaar se geloof in gedrang bring nie. Daar is ruimte in die kerk vir ‘n verskeidenheid van standpunte.

Die NG Kerk is vandag in hierdie situasie oor selfdegeslagverhoudings. Dit ‘n lang gesprek.

Die AS (algemene sinode) sê: Ons verskil. Almal van ons gebruik dieselfde Bybel as bron van verstaan. Tog bly die verskille steeds staan. Ons gebruik die Bybel verskillend. Tog bly ons deur ons diep verbondenheid in Christus aan mekaar verbonde.

Die Gereformeerde teologie het ‘n spektrum van beklemtonings. Ons leer by mekaar. Ons vul mekaar op die wyse aan. Bly altyd luisterend en onderskeidend om God se wil te verstaan.

Die NG Kerk is ernstig oor die huwelik. Ons verklaar die huwelik is bedoel vir een man en een vrou. Tog trou ons paartjies wat saamgewoon het. So maak ons voorsiening vir diversiteit. Die navolging van Christus ontsluit ook ander moontlikhede. SGV (selfdegeslagverhoudings) in die kerk is ons eie mense.

Die AS se besluit oor SGV kom daarop neer dat ons nooit weer mense by verstek sal uitsluit nie. Ons was daar. Dit het gebeur tydens apartheid. Ons besef dit was verkeerd. Ons wil nooit weer mense by verstek uitsluit nie.

‘n Sinode kan nie vir gemeentes besluit wie sy ouderlinge en predikante moet wees nie. Die Sinode het slegs besluit oor legitimasie. Gemeentes kan nog altyd besluit wie hulle wil beroep. In ‘n Geref gemeente het die gemeente nog altyd daardie reg. Die Sinode vra net dat gemeentes by beroeping mense se oortuigingings in ag sal neem, “ongeag, ras, geslag of seksualiteit, ens.”

Dit is net ‘n voorstel nie ‘n wet nie. Ons beveel aan.

Daar kan ‘n gemeente wees wat sê ons sal homoseksuele verhoudings akkomodeer, maar nooit kondoneer nie. Ander sê nee, ons sluit hulle in. Die kerk wil ruimte maak vir albei standpunte. Altwee is bona fida. Daar is twee ruimtes.

2019 vra nie dat almal die besluit moet goedkeur nie. Ons het nie gesê die een is beter as die ander nie. Ons vra ook nie dat almal dit eintlik moet goedkeur nie. Inteendeel ons is verbind om beide ruimtes te beskerm.

Drie versoeke:

  1. Ons leef in moeilike tye. Ons prioriteit is ons moet mekaar versorg, dra en liefhê. Ons moet mekaar troos. Ons kan nie bekostig om vas te val in ‘n sydelingse stryd nie.
  2. Ons moet nog met mekaar praat. Die gesprek gaan voort. Daar gaan weer sinodes wees. Daar is ruimte vir gravamina ens.
  3. Die Dagbestuur het met die MKN gepraat. Dit was ‘n goeie maar ook ongemaklike gesprek. Ons het ooreengekom om verder te dink. Daar is ‘n proses wat ontwikkel moet word. Ons steek ons hande na mekaar uit.

Nelis sê hy het die afgelope tyd met leiers van die MKN gesels. Dis goeie vriende, broers, medegelowiges. Nie een wil die kerk skeur nie. Ons is mense wat saam na oplopssings wil soek.

Ons is diep aan mekaar verbonde. Dit is ‘n tyd om saam te bid en om getroos te word deur die Trooster.

7 thoughts on “Nelis Janse van Rensburg se argumente ongeldig”

  1. Nelis is doodgewoon oneerlik besig om met woorde en gedagtes te speel om n onskriftuurlike punt te probeer regverdig.

  2. Dankie Jan.
    Jy formuleer wat ek ook voel.
    Nelis beskou alle kerk lidmate as deel van die NT volk van God. Dis die ideaal, maar hy hou nie kontak met die werklikheid dat baie nie meer glo dat hulle verloste sondaars is wat slegs deur Jesus se bloed gereinig is nie.
    Verder laat sy eksegese veel te wense oor:
    Oor Hand 2 wys hy op die verskeidenheid tale maar noem nie dat almal Jode was nie.
    Oor Hand 15 ignoreer hy die kern saak waaroor die eintlik probleem was, naamlik die besnydenis van heidene. Dit was die beginselsaak waarvoor hulle eensgesindheid gekry het.

  3. Dankie Dawie vir jou bydrae. Ek stem heeltemaal saam.
    My vraag is hoe kry ’n moderator van die AS dit reg om met sulke argumente na die kerk toe te kom? Gryp hy na strooihalms? Gaan hy in sy prediking ook so met die Skrif om?
    Daar is mos die liedjie wat sê: “Al die kindertjies van Jesus is nie paw paws nie“. As die saak nie so ernstig was nie, kon mens dalk nog daaroor lag.

  4. Baie dankie Jan vir die harde deeglike werk hieraan! Sy voorstel dat daar geleentheid en ruimte is vir albei sienings oor SGV, is onhoudbaar. Dit is basies “twee-kerke-in-een”. Jesus sê self in Mark 3:24: ” As ’n Koninkryk onderling verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie.”

  5. Die probleem wat ek met hierdie hele sage het, is dat die AS van die begin af LGBTQIA as deel van so ’n persoon se DNS aanvaar het, wat nie waar is nie. Die wetenskaplike resultate kon nie bewys dat dit so is nie. Groot getalle wedergebore LGBTQIA persone het getuig dat hulle, na hul redding tot ander insigte gekom het. Waar is hulle getuienis?
    Die AS (namens die NGK), verteenwoordig by die regering ’n standpunt. Wat van die ander standpunt dan? Dit kan nie werk nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui