Lidmate doleer nie uit haat nie, maar uit liefde

*******

Lidmate doleer nie uit haat nie, maar uit liefde | Netwerk24

Jaun De Vries, Boksburg

08 April 2024

Charles Smith maak die pap dik aan in sy Goeiemôre-rubriek “As Donald Trump by jou kerk instap” (04.04).

Met ’n gogga-maak-vir-baba-bang-benadering, trek hy ’n verband tussen Donald Trump en die dolering in die NG Kerk. Pleks van die bal, speel hy die man en beskuldig dolerendes van “haat, venyn, kleingeestigheid en kleinlikheid”.

Sal Charles iemand wat huil omdat ’n dief in sy huis ingebreek het, ook van dié dinge beskuldig as hy stappe doen om dit reg te stel? Dis presies waarom die dolerendes treur. Omdat ’n dief, die duiwel, ingesluip het en die Waarheid in die kerk verslind. Die dolerendes staan hom teë, terwyl van die ander in kerklike kringe sy bestaan ontken. Dis ’n ongelooflike meevaller vir ’n dief as sy slagoffers sy bestaan ontken!

Ja, Charles, die “kerk moet liefde, eenheid en hoop uitstraal”, maar die eenheid wat ons saambind is die Waarheid.

Dolerendes se terugroep van ander na die Waarheid toe is nie haat nie. Dis juis liefde!

Dis nog ’n uitsonderlike meevaller vir die ou Dief as sy slagoffers boonop begin om reg verkeerd en verkeerd reg te noem. Liefde word haat en haat word liefde.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui