Wie is Louis Jonker?

Louis (LC) Jonker is ’n professor in Ou Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

Hier volg ’n opsomming van sy teologiese sieninge:

Genesis 1-11

Die Huisgenoot van 12 Oktober 1995 dra ’n artikel waarin die menings van verskeie teoloë verskyn. Louis Jonker huldig die mening daarin dat die hele Skrifgedeelte van Genesis 1-11 mitiese stof is. (NG Kerk: Reformeer of…Disintegreer?, 2005, bl 57)

Jesus se opstanding

Oor Jesus se liggaamlike opstanding loop Jonker op eiers.

In Het Jesus wérklik opgestaan? (19 Apr 2014) wil dit voorkom of Jonker wel in Jesus se liggaamlike opstanding glo, maar vir een of ander rede is dit vir hom nodig om ook by te sê:

“Ek glo nie in Jesus Christus omdat sy lewe, sterwe en opstanding op die een of ander manier feitelik aan my bewys kan word nie, maar omdat die Heilige Gees my daarvan oortuig dat Jesus Christus die lewende Here is.”

In Frits Gaum se boek Twintig gesprekke oor … die opstanding van Jesus uit die dood (Ex Amino-Boeke: Kaapstad, 2004), 24, kom die volgende voor:

Frits Gaum: Is die vraag of Jesus uit die dood opgestaan het, vir jou geloof ’n allerbelangrikste saak … of lê dit vir jou op die periferie?

Louis Jonker: Dis van sentrale belang … Maar dan moet van die begin bygevoeg word dat dit nie om historiese belang gaan nie, maar om geestelike en teologiese belang.

Op bladsy 26 word die volgende gesê:

Frits Gaum: Jy praat van die lewende Here, die lewende Christus, Louis. Maar sê nou Jesus het nie uit die dood opgestaan nie?

Louis Jonker: As wat jy nou vra, sou beteken dat Jesus dalk nie fisies uit die dood opgestaan het nie, sou dit steeds geen probleem vir my geloof skep nie.

Hieroor was daar ’n dwaalondersoek ingestel, maar hy is vrygespreek.

(Kyk NAMIBIË OP WEG MET DIE ALGEMENE SINODE?, Youtube, 10:17, Ferdie Mulder, 16 Jan 2021)

Neem verder in ag dat Louis vriende was met Ferdinand Deist, wat baie aanklank gevind het met Rudolf Bultmann se siening oor Jesus se opstanding. Bultmann het nie in Jesus se liggaamlike opstanding geglo nie, maar in ’n metaforiese opstanding.

Pienk Piet standbeeld

alt

Deur Louis se toedoen is die standbeeld van prof Johannes du Plessis (“Pienk Piet” vir die studente) teruggebring na die tuin van die Stellenbosse Teologiese Fakulteit en neem nou ’n prominente plek daar in (kyk “10 vrae aan Louis Jonker” hieronder). Op 19 Junie 2006 word dit geskuif van die agtertuin van die Sasol Kunsmuseum na die voortuin van die Kweekskool. Prof Du Plessis bevraagteken onder meer Moses se outeurskap van die eerste vyf boeke van die Ou Testament en Jesus se kennis van laasgenoemde testament, wat hom in omstredenheid dompel. Hy begin ’n blad, Het Zoeklicht, waarin hy kyk na die basis van geloof. Tydgenote het Du Plessis daarvan beskuldig dat hy ’n modernis was en verskeie dwaalleringe aangehang het. Dus is hierdie die tipe mense waarmee Louis homself vereenselwig.

Hy is ’n medewerker aan die boek Kan ons nie maar saambly nie? (kyk Riglyne vir saamblygesprek)

Kyk ook

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui