Hoe gouer kerkleiers hof toe gaan, hoe beter

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Hoe gouer kerkleiers hof toe gaan, hoe beter | Netwerk24

Gerhard Mahne, Kaapstad

07 Maart 2024

Die NG Kerk (NGK) se leierskap, die Algemene Sinodale Moderamen (ASM), se onlangse verklaring in die media oor kerkrade wat bande met die kerkverband opskort, het betrekking.

Die ASM verklaar dat ’n kerkraad “nie die bevoegdheid (het) om die Kerkorde te verander of (te) ignoreer nie”.

Maar, is die stryd in die NGK nie juis te wyte aan die feit dat sy Algemene Sinode (AS) self die Kerkorde (KO) verander of ignoreer nie?

In 2015 en 2019 se AS is honderde bladsye beswaarskrifte oor verskeie leergeskille ingehandig wat kragtens die KO se Reglement van Orde (2.1-2.4) een vir een behandel en bespreek moes word. Dis nie gedoen nie. Dit kom dus neer op kontrakbreuk deur die AS waarvan “opskort-kerkrade” en ’n ring nou geblameer word.

’n Mens noem dit projeksie. Politieke partye doen dieselfde. Ander word vir jou eie foute geblameer.

Dis net sentiment en onkunde by die publiek wat vir hul oorlewing sorg. Intussen sterf die kerk. Derduisende lidmate het al die NGK verlaat as gevolg van AS-besluite, en vanjaar is daar in totaal by ons drie teologiese universiteitsfakulteite slegs vier NGK-eerstejaars geregis­treer.

Hou op met vergesogte gogga-maak-vir-baba-bang-AS-verklarings oor dominees se pensioene en kerkgeboue.

Die oplossing ná dekades van bittere stryd is dat die ASM ’n “opskortkerkraad” of Standerton se ring – wat kwansuis die KO verander en ignoreer – hof toe vat.

Ons is nie Lutherane met ’n Twee-Ryke-wêreldbeeld nie. Die hof is ’n koninkryk-instelling ter wille van God se wêreld en kerk.

Christene mag mekaar nie oor onbenullighede hof toe te sleep nie (1 Kor. 6), maar wanneer dit oor die waarheid gaan, beroep Paulus hom op die hoogste hof van sy tyd (Hand. 25).

Hoe gouer die ASM hof toe gaan, hoe gouer sal sy eie “vasgelooptheid” en jare se stryd en trane stop.

Kommentaar

Daniel Louw

Dit mag wees dat die owerhede deur God aangestel is, maar die huidige owerhede is sekulêr. Dus sal hulle geen lojaliteit aan die behoudende kerk betoon nie.

Daar is ‘n saak daarvoor uit te maak dat dit die NG kerk is wat afgedwaal het van sy oorspronklike belydenis en dat dit eintlik die NG kerk is wat kontrakbreuk pleeg – nie gemeentes wat die band opskort nie.

Sou hierdie saak in ‘n hof moes draai, is my raai dat ‘n regter sal besluit dat behoudendes hulle lot moet aanvaar omdat die meerderheid in die NG kerk so besluit het. Hy sou waarskynlik voorstel dat die paaie moet skei (soos met ‘n huwelik) en dat dit so pynloos as moontlik moet plaasvind. Hy mag dalk selfs (hopelik) voorstel dat behoudendes wel mag skei met behoud van bates gegewe die feit dat dit eintlik behoudendes is wat nog by die NG kerk se oorspronklike belydenis staan terwyl die NG kerk daarvan afgewyk het.

‘n Hofsaak sal egter glad nie help om die NG Kerk om te draai nie. Om die kerk om te draai sal dit by die Algemene Sinode gedoen moet word.

1 thought on “Hoe gouer kerkleiers hof toe gaan, hoe beter”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui