Koinonia boos oor NG kerk ‘valshede versprei’

*******

Koinonia boos oor NG kerk ‘valshede versprei’ | Rapport

Johan Eybers

Rapport, 24 Maart 2024

Die ongelukkigheid onder behoudendes in die NG Kerk het die afgelope week opnuut ’n wending geneem toe die Koinonia-sinode die kerk se leiers daarvan beskuldig het dat dit waninligting versprei.

Die Koinonia-sinode se dagbestuur het in ’n brief ’n striemende aanval op die Algemene Sinodale Moderamen gedoen waarin dit sê dat “daar skynbaar doelbewus ’n totaal ander betekenis aan die opskorting van gemeentes se kerkverband gegee word wat in werklikheid as ’n laaste oproep tot bekering bedoel word”.

Die brief is deur dr. Anton Knoetze, voorsitter van die Koinonia-sinode, onderteken.

“Opskorting van die kerkverband beteken nie kerkskeuring nie. Opskorting of die weerhouding van finansies is ’n baie dringende oproep tot selfondersoek, verootmoediging, bekering en terugkeer na die Woord,” lui die brief. “Ons vertrekpunt is dat elke gemeente volledig liggaam van Christus is en dat die verbande waarin ons staan nie afdwingbaar is nie.”

Die brief volg op die ASM se aankondiging aan die begin van Maart dat hy ’n regsmening aanvaar het wat daarop dui dat gemeentes nie eensydig hul kerkverband mag opskort nie. Die ASM se regsadvies dui daarop dat die “akte van opskorting van ringe en gemeentes geen regskrag het nie” en “beskou kan word as ’n handeling wat volgens ons kerkorde onwettig en misleidend is”.

Dit sê voorts opskorting kan beskou word as “kontrakbreuk” en sulke gemeentes mag nie die naam van die NG Kerk gebruik nie.

Koinonia voer in sy brief aan gemeentes aan dat die ASM se aankondiging “deurspek is met onwaarhede”.

Volgens Koinonia se dagbestuur het hulle die regsfirma Maphalla Mokate Conradie Ing. genader om gemeentes te verteenwoordig waar nodig.

“Die dagbestuur se standpunt bly dat die kerk nie sy heil by wêreldse hofsake moet soek nie. Wanneer behoudende gemeentes egter met behulp van senior advokate gedreig word om hul protes teen dwaalleer te stop, dan het ons ongelukkig geen keuse nie en is dit ons verantwoordelikheid om die nodige regsadvies in te win.”

Ds. Jan Lubbe, voorsitter van die ASM, het Vrydag gesê daar word kennis geneem van die jongste skrywe van die Koinonia-sinode en hy betreur die inhoud, trant en implikasies daarvan. Hy het gesê die kerk sal ná Paasnaweek – “die dieptepunt van die kerkjaar” – volledig reageer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui