Lig en duisternis kan nooit versoen

*******

Lig en duisternis kan nooit versoen | Rapport

7 April 2024

Kobus Visser, Middelburg, skryf:

Ek verwys na die brief van dr. Bernhard Ficker “Rapport werp lig op godsdiensstryd” (31.03). Hy skryf: “In die Bybel lees ons van die Waarheid, maar in Rapport lees ons van die stryd om die Waarheid.” Ek wil my by hom aansluit met die volgende stelling: Daar is altyd gesê as jy wil weet wat gaan in die wêreld aan, lees die koerant; as jy wil weet hoekom, lees die Bybel. Vandag kan ons byvoeg, as jy wil weet wat in die kerk aangaan, lees die koerant; as jy wil weet hoekom, lees die Bybel.

Hoekom is daar ’n stryd in die universele kerk oor die Waarheid, so fel dat sekere gemeentes besig is of reeds weggebreek het, spesifiek in die NG Kerk? Die rede is dat daar twee groeperinge in die NG Kerk is wat sowat 20 jaar gelede ontstaan het. Die een groep, die behoudendes, glo die Bybel is God se Woord (Sola Scriptura), en die ander groep, die liberales, glo die Bybel is net die getuienis en belewenisse van mense oor God.

Vir die behoudende groep is die Bybel die hoogste gesag, vir die liberale groep is die menslike rede die hoogste gesag. Die behoudendes het ’n Bybelse wêreldbeeld, en die liberales ’n sekulêre, humanistiese wêreldbeeld. Ná 20 jaar se gesprekke tussen die twee groepe het dit duidelik geword dat die liberales nie tot bekering wil kom en terugkeer na die Waarheid nie. Daar kan nie gemeenskap tussen lig en duisternis wees nie (2 Korintiërs 6). Mag die ware kerk opkom vir die Waarheid (geloof) wat eenmaal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het (Brief van Judas).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui