Charles Smith: As Donald Trump by jou kerk instap

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Charles Smith: As Donald Trump by jou kerk instap | Netwerk24

Charles Smith

04 April 2024

Nes jy dink Donald Trump kan nie laer daal as om sy eie leërskare lieplappers op te sweep om die Amerikaanse kongres­gebou aan te val nie, vang hy iets aan wat almal naar moet maak.

Die ou wat daaraan skuldig bevind is dat hy ’n pornoster afkoopgeld betaal het om stil te bly oor hul verhouding terwyl sy vrou, Melania, by die huis was met hul kind, verkoop oor Paasfees Bybels vir meer as R1 000 stuk. Die feit dat die Trump-bybel ’n Amerikaanse vlag voorop het en hy elkeen geteken het, wys dat Trump se ekstreme Christen-nasionalisme ’n eie handelsmerk het.

Hy het die Republikeinse Party met sy fascistiese “Make America Great Again” (Maga)-slagspreuk gekaap en is besig om dit ook met die evangelistiese groepering daar te doen.

In ’n land waar die skeiding tussen kerk en staat ’n hoeksteen van die demokrasie is, word sy daad as “siek” en die toppunt van godslastering beskou. Soos een Yank sê: “Ek is ’n ateïs en selfs ek is gewalg daardeur.”

Dié ou sien die Tien Gebooie as ’n doenlys, maar verkoop nou Bybels om sy regskoste te betaal omdat hy weens verskeie misdade vervolg word.

As jy kop geskud het as jy Trump-waansin soos dié lees en na die sportberigte in die koerant geblaai het, moet jy twee keer dink. Trump gaan nie net veel erger word nie; sy filosofie van ’n verskroeide aarde en om hom met Jesus te vergelyk wat gekruisig word, sweep ekstremiste op tot waar hulle sal moor vir hul “verlosser”. Regters, aanklaers en ondersoekers in sy sake kry doodsdreigemente. Hy val hul gesinne aan om ’n teiken op hul rug te plaas. Dat Jesus vir armes en siekes geveg het, traak hom nie. Hy veg vir Trump as Jesus – en min van sy volgelinge ken die verskil.

Ons het die Messias-politiek al plaaslik beleef met Ace Magashule wat hom as ’n Christus-figuur voordoen wat tandeborsels aan arm swart kinders uitdeel en Jacob Zuma wat homself vinnig as martelaar uitbeeld. Trump se ekstreme Christen-nabootsing laat rooi ligte flikker. Op sy saamtrekke wys regses die QAnon-teken; dit verwys na ’n kultus wat glo daar is sataniste in die Demokratiese Party wat kinders offer. Trump word as “die redder” aanbid.

Trump het van meet af regse Afrikaners in Amerika en hier opgewonde gehad, maar Trumpisme het ons lewe ingesypel. Onder die dekmantel van “dolering” is die haat, venyn, kleingeestigheid en kleinlikheid in die debat in die NG Kerk beduidend op ’n hoër vlak as vroeër. Hoe meer dolke jy in mense se rug kan druk, hoe beter. Afrikaner teen Afrikaner; broer teen broer. Die kerk moet liefde, eenheid en hoop uitstraal, maar niks hiervan tel nie. Ook nie oorloë, boere wat onder beleg is en kinders soos Joshlin Smith wat vermoor word nie.

As predikers weer hul oë oopmaak, sit daar ouens met Maga-pette voor in kerk. Dit is hoe Trump-fascisme kerke en gemeenskappe oorneem. Ons sien die begin hiervan. Ons pa’s en oupas het in die Tweede Wêreldoorlog geveg; ons weet waar dit gaan eindig.

• Smith is die nuushoof van Netwerk24 in die Vrystaat en Noord-Kaap. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Kommentaar

Daniel Louw

Donald Trump is verseker nie sonder foute nie. ‘n Mens wonder egter net of Charles dan eerder vir Joe Biden verkies?

Daar is ook verseker groot verdeeldheid in die NG Kerk, maar die Bybel is baie duidelik dat liefde vir God baie belangriker as eenheid is. Kyk byvoorbeeld Kerkeenheid en Onttrek jou van goddeloses en dwaalleraars. Persoonlik probeer ek eerder God tevrede te stel as mense.

Jaun de Vries

Kyk Lidmate doleer nie uit haat nie, maar uit liefde (8 Apr 2024, Jaun de Vries)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui