Afrikaner land geskiedenis

Kyk ook:

Deur Isak Louis Smuts, saamgestel op 12 Desember 2023 te Pretoria.

1. Gebeure wat die Afrikaner land-besetting begin het

1.1. Republiek van Swellendam

Sedert die vroegste handelsaktiwiteite met die Jan van Riebeeck-vestiging, het handelaars sover as Swellendam in die binneland gereis. Hierdie handelsaktiwiteite het tot die stigting van ‘n nedersetting gelei, wat reeds in 1745 as ‘n landdrosdistrik verklaar is. Dit was maar net die derde binnelandse nedersetting en dit was meestal handelaars en ambagslui vanuit die boeregemeenskap wat hulle daar gevestig het.

Die boeregemeenskap het gegroei en die eerste basis vir die Boerevolk van vandag gelê. Die groot stryd van ’n ontluikende nasie teen die oorheersing en uitbuiting van die Oos-Indiese Kompanjie, wat as onderdrukker beskou is, was nog steeds aan die gang. Burgers was o.a. ontevrede met die beleid van die Kompanjie t.o.v. die Oosgrens waar swerwende en plunderende Xhosas sedert 1770 opgedaag het, die Visrivier begin oorsteek, en wyd plase begin plunder het.

Die Nasionale Vergadering van die Republiek van Swellendam verklaar op 17 Junie 1795 vanuit die Drosdy: “Want (…) wij lang genoeg in het juk der Slaverny zyn geweest en wy nu geresolveert zyn het leste droppel bloed voor onze lieve Vaderland te waagen en ons onder een Vrye Republiek te sorteeren.”

Met hierdie resolusie het die Swellendamse Patriotte die gesag van die Kompanjie finaal afgeskud. Die VOC vlag word gestryk en die rooi, wit en blou vlag word gehys. Dié vlag sou later die basis vorm van die Republiek van Natalia 1839, die Vierkleur 1857 en ook in die Vrystaatse vlag 1854

1.2. Rebellie van Graaff-Reinet

Hierdie nedersetting was in 1786 omskep as ‘n handels- en militêre buitepos vir die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie. Hulle het ook later die status as ‘n landdrosdistrik verkry soortgelyk aan Swellendam.

In 1795 het rebelle van Graaff-Reinet hulle ook teen Kompanjiegesag verset, landdros Maynier verjaag en ‘n ‘vrye Republiek’ verklaar – onderdanig slegs aan die regering van Nederland. Met die koms van die Britte is hierdie republiek na ‘n jaar opgehef.

1.3. Eerste Britse besetting

In Julie 1795 maak `n Britse vloot voorbereidings om Kaapstad in te val. Kommandant Delport met 168 Swellendamse Republikeine vertrek na Kaapstad om die Kompanjie te help teen die aanval.

Op 7 Augustus vind die slag van Muizenberg plaas. Die Swellendammers het hardnekkig weerstand gebied nadat die Kompanjie se pandoere gevlug het. Maar helaas moes die Swellendammers ook voor die oormag vlug en die Kompanjie se goewerneur onderteken die vredesverdrag met Brittanje. Swellendam teken eers goed twee maande later terwyl Delport weier om die eed van getrouheid af te lê. Delport word daarna deur die Britse goewerneur McCartney verban.

Toe die veldkommandant Adriaan van Jaarsveld in 1799 op aanklag van vervalsing gearresteer is, het groot protes gevolg maar die daaropvolgende onrus is deur die owerheid onderdruk. Agtien rebelle is aangekla en meer as ‘n jaar lank in die Kasteel opgesluit voordat hulle verhoor is. Marthinus Prinsloo en Adriaan van Jaarsveld is ter dood veroordeel terwyl twaalf ander verban sou word – die meeste van hulle lewenslank.

As gevolg van die tussenkoms van genl-maj Dundas, die waarnemende goewerneur, is die teregstelling uitgestel. Begenadiging is vir al die gevangenes by die Britse owerheid voorgestel. Van Jaarsveld sterf egter in die Kasteel terwyl hy op sy ontslag wag.

1.4. 1806 Tweede Britse besetting

Brittanje het die Kaap tussen 1795 en 1803 tydelik beset, en hoewel hy vasbeslote was om dit ná die tweede besetting van 1806 nie weer prys te gee nie, het die Kaap eers in 1814 formeel ’n Britse kolonie geword.

Die bestuur van die Kaap was tussen 1795 en 1814 hoogs frustrerend. In Londen het die Europese oorlog alles oorheers. Goewerneurs moes ses maande vir ’n antwoord op hul vrae wag. Daar was onsekerheid oor die onderskeie bevoegdhede van die burgerlike goewerneur en die militêre bevelvoerder. Die kolonie se finansiële administrasie was in ’n warboel.

1.5 1820 Britse setlaars

Die proefneming met die 1820-setlaars het sy oorsprong in Groot-Brittanje gehad, en nie aan die Kaap nie. Teorieë oor “oorbevolking” het in Brittanje begin posvat as ’n gerieflike verklaring vir die grootskaalse werkloosheid en politieke oproer wat die land ná die Napoleontiese Oorloë geteister het. Die minister van finansies van Brittanje het ’n toelaag van £50 000 goedgekeur om persone wat wou emigreer te help om na die Kaap te verhuis en tussen April en Junie 1820 het sowat 4 000 Engelssprekendes uit sowat 80 000 aansoekers, in die Kaap aangekom om hulle in die kolonie se oostelike distrikte te vestig – net langs die Xhosa-grens.

1.6. Die Piet Retiefmoord

Binne hierdie frustrerende situasie vanaf die Kaap tot in die verste buiteposte, het die situasie ondraaglik geword vir die boeregemeenskappe. Hulle het na die binneland vir alternatiewe begin uitkyk

Piet Retief het in November 1837 vir die eerste keer met Dingaan onderhandel oor ‘n grondgebied in Natal vir die Voortrekkers. Hoewel Dingaan gewillig was om grond aan die Voortrekkers af te staan, het hy dit as voorwaarde gestel dat Retief die Zoeloes se beeste wat Sikonyela se mense geroof het, moes terugbring.

Nadat hierdie taak suksesvol afgehandel was, het Retief en sowat sewentig blankes en dertig gekleurde agterryers op 3 Februarie 1838 weer by Dingaan se hoofkraal Umgungundluvu aangekom. By hom het Retief ‘n traktaat, gedateer 4 Februarie, gehad waarvolgens Dingaan die gebied tussen die Tugela- en Umzimvuburivier aan die Voortrekkers sou afstaan.

Hierdie dokument is op 6 Februarie by ‘n afskeidsbyeenkoms in Dingaan se kraal onderteken.

Voordat die Voortrekkers, wat hulle wapens buite die kraal moes laat bly, kon vertrek, is hulle op Dingaan se bevel wreedaardig vermoor. Die traktaat het egter nie verlore geraak nie. Tien maande later – ná die Slag van Bloedrivier – is dit ongeskonde in ‘n leersak by die beendere van Retief teruggevind.

Na hierdie moord het grootskaalse plundering en moorde op die Trekker- gemeenskappe toegeneem. Dit het gelei tot Andries Pretorius se aksie by die slag van Bloedrivier.

2. Kort geskiedenis van die gebeure

Na die moord op Retief en die Voortrekkers wat aan die bolope van die Tugelarivier uitgespan het, is ‘n strafkommando onder Andries Pretorius as hoofkommandant teen die Zoeloes uitgestuur. Hy het met ‘n laer van 64 waens, 464 Voortrekkers en ‘n aantal bediendes na Dingaan se stat vertrek. Op pad het Karel Landman met 123 man, asook drie Engelse uit Port Natal met ongeveer 100 swartes by hulle aangesluit.

Op 15 Desember 1838 het verkenners berig dat ‘n groot Zoeloe-impi ongeveer ‘n halfuur se ry te perd van hulle af in aantog was. Die grootste gedeelte van die walaer het pas deur die Ncomorivier getrek. In die deurtog het hulle ‘n diep donga gesien wat by die rivier in ‘n lang seekoeigat doodloop. As die laers daar getrek word, sou hulle van twee kante natuurlik beskerm wees. Pretorius het geglo dat God vir hulle die ideale gevegsterrein aangewys het. Hy het dus die laerkommandant opdrag gegee om daar laer te trek, terwyl hy en 300 man uitgery het om die Zoeloe-aantog te bespied.

Op die voorafgaande paar dae het die Voortrekkers na hulle godsdiensoefening onder leiding van Sarel Cilliers elke aand ‘n gelofte afgelê. Daarvolgens het hulle beloof dat, indien God hulle sou help, hulle die eer van die oorwinning aan Hom sou gee; dat hulle die dag as ‘n Sabbat sou gedenk en ‘n “tempel sou stig” – dus God se Woord sou uitdra. Verder sou hulle hulle kinders hieromtrent vertel, sodat die nageslag ook in die toekoms daardie dag so sou gedenk.

Ten spyte van mis wat die aand oor die omgewing neergedaal het, was die oggend van die 16e helder en was die kruit droog. Voor die slag begin het, het die Voortrekkers weer die gelofte herhaal. Voor die waens het ‘n Zoeloe-impi van ten minste 10 000 Zoeloes voor die laer gehurk. Hulle was in verskeie groepe onder twee hoofgeneraals georganiseer.

Die Zoeloes het die laer herhaaldelik onsuksesvol aangeval. Na twee uur het Pretorius die eerste keer ‘n groep perderuiters beveel het om die laer te verlaat en ‘n bres deur die Zoeloes te probeer slaan. Met die derde uitstuur van ‘n perdekommando, hierdie keer onder Pretorius self, het die Zoeloe’s begin vlug. In die agtervolging het Pretorius ‘n assegaaiwond aan sy linkerhand opgedoen. Drie ander Voortrekkers is ook lig beseer – dít teenoor meer as 3 000 Zoeloekrygers wat om die laer gesterf het. Daar het soveel bloed gevloei dat die Ncomorivier se water bloederig geword het – van daar die naam die Slag van Bloedrivier.

Ten spyte van die feit dat die Voortrekkers vuurwapens teen die Zoeloes se assegaaie gebruik het en die laer ‘n goeie ligging gehad het, het hulle steeds geglo dat hulle nie sonder God se hulp sou kon oorleef nie. Vandaar die gelofte. Hierdie geloof is 40 jaar later bevestig. 1350 soldate van ‘n goed toegeruste Britse leër van 1500 man met baie moderner vuurwapens, is by Isandwana deur die Zoeloes gedood.

16 Desember, die datum van die Slag van Boedrivier, is amptelik tot openbare vakansiedag in Suid-Afrika verklaar. Voor 1994 was dit as Geloftedag bekend – tans Versoeningsdag.

3. Kulturele erfenis

Die Bloedrivier-slagveld is op die Plaas Vechtkop 168 in die Utrecht-distrik geleë. Dit is ‘n provinsiale erfenisterrein, en word in gevolge van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne (25/1999) beskerm. Op die terrein is ‘n replika van die laer wat in brons gegiet is, asook ‘n ossewa van graniet. Die museum op die terrein het ‘n aandenkingswinkel. In die middel van die laer is ‘n gedenkplaat waarop die gelofte wat die Voortrekkers onder leiding van Sarel Cilliers afgelê het, aangebring is.

4. Vorming van republieke op pad na bevryding na die slag van Bloedrivier

Na die slag van Bloedrivier het die binnelandse trek van die “immigranteboere”, soos daar na die Trekkers verwys is, beslag gekry en het dit gelei tot ‘n reeks republiekvormings.

  1. Republiek Natalia 1839
  2. Verenigde Voortrekkerrepubliek 1841
  3. Republiek van Winburg-Potchefstroom 1844
  4. Republiek van Kliprivier 1852
  5. Republiek van Buffelsrivier (Utrecht) 1854
  6. Republiek van Lydenburg 1857
  7. Republiek van Soutpansberg 1857
  8. Nuwe Republiek 1884
  9. Republiek van Stellaland 1883
  10. Republiek Goosen 1882
  11. Republiek Upingtonia (Namibia) 1885
  12. Republiek van die Oranje Vrystaat 1854
  13. Zuid-Afrikaansche Republiek 1852

Van die republikeinse stigtings het later by laasgenoemde twee Republieke aangesluit. Dié verenigde republieke het as die Boererepublieke amptelik internasionale erkenning verwerf.

Die Britse regering het die twee republieke amptelik erken in die Sandrivier-konvensie (1852) vir die Zuid-Afrikaanse Republiek en die Bloemfontein konvensie (1854) vir die Republiek van die Oranje Vrystaat.

Daarop het die Nederlande, België en Frankryk ook die twee Boererepublieke erken.

Dit is teen hierdie twee republieke wat die Britse bewind later twee agtereenvolgende aanslagte geloods het.

5. Eerste Britse aanslag

Die Eerste Vryheidsoorlog, Transvaalse Oorlog of Eerste Boereoorlog was ‘n konflik tussen die Verenigde Koninkryk en die Boere van Transvaal, (die Zuid-Afrikaansche Republiek). Dit het van 20 Desember 1880 tot 23 Maart 1881 geduur. Hierdie oorlog het die Boeremagte gewen.

6. Tweede Britse aanslag

Die Tweede Vryheidsoorlog, ook bekend as die Suid-Afrikaanse Oorlog, of die Anglo-Boereoorlog, het vanaf Oktober 1899 tot Mei 1902 geduur. In hierdie oorlog het die twee Boererepublieke, die Zuid-Afrikaansche Republiek (ou Transvaal) en die Republiek van die Oranje-Vrystaat, te staan gekom teen die Britse Ryk. Die hele gebied waarop hierdie oorlog plaasgevind het vorm vandag deel van die Republiek van Suid-Afrika.

Oor die sowat twee en ‘n half jaar wat die oorlog geduur het, het dit Brittanje nagenoeg 200 miljoen pond, 448 435 Britse- en Rykssoldate en sowat 20 000 Britse lewens gekos om ‘n “Boererebellie” te bemeester.

Aan die kant van die Boererepublieke was die koste van die oorlog baie hoog. Elke Republiek se ekonomie is totaal en al vernietig deur die verskroeideaardebeleid wat deur die Britse generaals toegepas is. Toe die Boere by die Vrede van Vereeniging hul wapens neerlê, het baie as hoofrede vir hul oorgawe die lyding van hul vroue en kinders aangevoer.

Ongeveer 5 000 Boere het in die oorlog gesneuwel, en minstens 34 000 Boervrouens en kinders, en sowat 21 000 swart en bruin mense het hul lewe in konsentrasiekampe verloor, meestal kinders onder 16 jaar, hoofsaaklik as gevolg van die swak kosvoorsiening, ‘n tekort aan behoorlike sanitasie en swak skuiling.

Ook aan die Britse kant het die meeste soldate weens die swak organisasievernuf van militêre bewindhebbers nie op slagvelde gesneuwel nie, maar aan siekte beswyk.

7. Die Unie van Suid Afrika

Suid-Afrika het nie altyd gelyk soos wat ons ons mooi land vandag ken nie. Voor 1910 was die land in vier Britse kolonies verdeel – die Kaapkolonie, Natal en die twee ou Boererepublieke: Transvaal en Oranje-Vrystaat, Ná ’n proses wat ná die Anglo-Boereoorlog begin het, het die vier kolonies op 31 Mei 1910 saamgesmelt om die Unie van Suid-Afrika te vorm. Dit geskied onder leiding van Louis Botha as eerste minister en Jan Smuts as sy adjudant en minister van verdediging.

Die mees dramatiese oomblik van die Konvensie het gekom tydens die debat oor taal, toe oudpresident MT Steyn van die Vrystaat tot die debat toegetree het. Hy het die afgevaardigdes gevra om die “duiwel van rassehaat” (hy het na die Boere en Britte as verskillende rasse verwys) te begrawe, deur die twee tale Afrikaans en Engels volledige gelykheid te gee. Sy toespraak het baie mense tot trane gedryf.

Die afgevaardigdes wat die Uniegrondwet opgestel het, het dit in ’n verbasend kort tyd reggekry. Dit het slegs agt maande geneem.

In 1911 was daar amptelik 5 937 394 inwoners in die Unie. Van die 1 276 319 wit mense was waarskynlik meer as ’n miljoen Afrikaanssprekendes. Daar was 4 018 878 swart mense, 525 466 bruin mense en 152 094 mense wat uit Asië afkomstig was.

8. Internasionale intervensie ten opsigte van selfbeskikking van volkere

Die stigting van die 1910 Suid-Afrikaanse Unie het nie oral byval gevind nie. Daar was ook verskeie internasionale intervensies wat ‘n rol in die nou Afrikaner/Boere politiek begin speel het.

8.1 Die Rebellie van 1914

Reeds in 1914 vind ons dat die konserwatiewe Afrikaners vanuit die ou Transvaalse en Vrystaatse republieke in opstand kom teen die nuwe Unie van Suid-Afrika waarby die Transvaal en Vrystaat in 1910 bloot as provinsies ingelyf is. Daar was ‘n verwagting dat Transvaal en die Vrystaat hulle regmatige status as republieke sou terugkry. Die vonk vir die rebellie was die deelname van die Unie saam met Brittanje aan die Eerste Wêreldoorlog – teen Duitsland, ‘n land wat die Boere nog altyd goedgesind was.

Die gebeure lei tot die rebellie van 1914 met die ondertekening van die eerste internasionale brief of ooreengekome verdrag tussen Duitsland en die Afrikaner. Dit is geteken op 17 Oktober 1914 te Kaimoes (waarskynlik Keimoes) in die Noordkaap, tussen die Keizerlike Goewerneur van Duits-Suidwes-Afrika as verteenwoordiger van “de Keizer” van Duitsland en dus die Duitse regering, en genl S.G. Maritz en sy ondersteuners.

Hierdie rebellie word deur die Botha-Smuts regering wreed onderdruk.

8.2. Internasionale verdrag vir Israel

In 1917 vind die eerste Balfour verdrag plaas, spruitend uit ‘n besluit geneem deur die Verenigde Nasies, wat ten doel gehad het om Israel, wat onder die Britse Regering geval het, weer internasionale erkenning te gee. Sodoende kon Israel uiteindelik weer ‘n onafhanklike staat in eie reg word. Daar word daarna as Balfour-verslae verwys omdat dit onder die toesig van Arthur Balfour, The Earl of Balfour en toe eerste minister van Brittanje, geneem was.

Dit is belangrik om kennis te neem van die rol wat genl J.C. Smuts in 1922, nadat hy Botha as eerste minister van die Unie van Suid-Afrika opgevolg het, hierin gespeel het. Hy het die verdrag binne die internasionale arena afgedwing gekry om Israel op ‘n pad van selfbeskikking te plaas – daar is selfs ‘n Kibutz in Israel na hom vernoem!

8.3 1926 Balfour-verslag Suid Afrika

Met die 1924-verkiesing neem genl J.B.M. Hertzog die regering oor. Die Israelse Balfour-verslag het waarskynlik as inspirasie gedien om iets soortgelyks vir Suid-Afrika deur te voer.

In 1926 het Hertzog ‘n daaropvolgende Balfour internasionale byeenkoms bygewoon en het hy spesifiek Suid-Afrika se saak vir selfbeskikking bepleit. Aanvanklik het hy baie teenstand ervaar maar Canada, Australië en Indië het later hulle gewig agter hom ingegooi en is die Balfour-verdrag van 1926 onderteken. Dit het Suid-Afrika ingesluit.

Hierdie verdrag het later gelei tot die onafhanklikheid van Indië en Canada, en selfstandigheid van ander state soos Australië, en later ook die onafhanklikheid van Britse Kolonies soos Botswana en Lesotho. Dié verdrag was ook die baker waarop die Afrikaner in 1961 onafhanklikheid verkry het binne ‘n eie Republiek.

8.4 Invloede op Afrikaner-selfbeskikking

Daar was intussen verskeie wêreldgebeure wat ‘n indringende rol op Afrikaner-selfbeskikking gespeel het.

die Eerste Wêreldoorlog van 1914;

die groot droogte en griep van 1933;

koalisievorming in die Suid-Afrikaanse politiek 1934;

die Tweede Wêreldoorlog van 1939 tot 1945;

Smuts wat die koalisieregering in 1939 oorneem met ‘n meerderheidstem om saam met Brittanje teen Duitsland in die Tweede Wêreldoorlog betrokke te raak.

9. 1948 NP kom aan bewind

Die NP as regering begin met belangrike veranderinge, tot ‘n groot mate gebaseer op die Balfour-ooreenkoms van genl Hertzog van 1926. Daaronder tel

verwydering van die Kleurlinge van die algemene kieserslys en hulle plasing op hul eie lys;

skep van ‘n eie kieserslys vir die Indiërs;

ontwikkeling van die swartbevolkings binne eie staatregtelike gebiede, genoem tuislande.

Terwyl ander lande die 1926 Balfour-ooreenkoms met sukses toegepas het, het dieselfde toepassing daarvan deur die Afrikaners in Suid-Afrika verval in ekstreme aanvalle van buite toe apartheid as ‘n misdaad teen die mensdom verklaar is.

10. 1961 Republiek

Die Republiek van Suid-Afrika van 1961 was nie ‘n Boere- óf Afrikanerrepubliek nie, maar ‘n nuwe status wat Botha en Smuts se Unie met Britse gebiede bereik het; ‘n status na uittrede uit die Britse Statebond. Dit was ‘n republiek met 30 miljoen inwoners waarvan slegs 10% Boere en Afrikaners was, sonder selfbeskikking.

11. Die verdelende faktor

Die begrip Boere en Afrikaners was reeds vóór die Groot Trek ‘n verdelende proses wat die Boere/Afrikaner in twee hoofgroeperinge verdeel deur ‘n RADIKALE faktor, naamlik (a) die wat hulleself wou regeer teenoor (b) die wat onder ‘n oorhoofse sterk regering of landsregering wou val.

Dit word ook duidelik weerspieël in die ontstaan en doodloop van baie van hierdie Boererepublieke. Prof Floors van Jaarsveld se proefskrif in Holland tref die onderskeid tussen: “Die Republikeinsgesinde Boere-Afrikaner en die Koloniale Afrikaner”.

Hierdie verdeeldheid geld gedurende die Groot Trek; ook gedurende die oprigting van verskillende republieke of gebiedsregerings; tydens die Engelse Oorlog; met Uniewording; die Boereopstand of Rebellie toe Smuts en Botha onder Engelse invloed geval het; tydens die Tweede Wêreldoorlog met die intense verdeling in 1939; tydens Verwoerd se referendum vir of teen Republiekwording voor 1961; weereens herhaal tydens De Klerk en NP-leiers se Ja- of Nee-stem van 1983.

12. Die ontwikkeling van die Internasionale Reg

Intussen het daar ‘n nuwe dimensie op die voorgrond getree, naamlik die internasionale reg.

Om te verstaan waarvan ons praat moet ons dalk eers kyk na Bobbie Johnson se definisie van internasionale reg: “Internasionale reg is die KODE wat ooreenkomste tussen state, internasionale gebruike en algemene beginsels van die internasionale reg reguleer.”

Hierdie ooreenkomste tussen state kan in die vorm van internasionale verdrae, konvensies, deklarasies, briewe of verdrae waarop ooreengekom, beskikbaar wees.

Die besondere deklarasie op die Afrikaner van toepassing is, is die “Declaration on the Rights of Persons Belonging to National or Ethnic, Religious and Linguistic Minorities” adopted by General Assembly resolution 47/135 of 18 December 1992.

Daar is verskeie Konvensies wat hierdie deklarasie onderskryf en deur die ou NP- regering van Suid-Afrika as republiek onderteken is.

Hierdie konvensies handel oor die regte van etniese minderhede en het die basis gevorm vir die Swart Tuislandprogram wat later nie deur die internasionale gemeenskap aanvaar is nie. Desnieteenstaande bestaan hierdie konvensies steeds en word oral in die wêreld afgedwing, ook nou waar Palestina en Suid-Sahara hulle daarop beroep en amptelik deur die ANC-regering ondersteun word.

Konflikte binne hierdie stelsel word binne die Internasionale Geregshof vir mediasie hanteer.

Kwessies van belang is: menseregte; ontwapening; die nasionaliteite; regulering van globale gemeenskappe en vele meer. Voortvloeiend hieruit vind ons ook twee soorte internasionale reg: publiek- en privaatreg.

Internasionale publieke of openbarereg verseker dat internasionale ooreenkomste nagekom word en monitor die gedrag van state in sake van internasionale belang.

Die NP-regering het al die verdere bestaande deklarasies en konvensies van toepassing onderteken.

Die ANC-regering het ook hierdie resolusie, deklarasies en konvensies opnuut na bewindsoorname in 1994 geteken.

13. 1983-Referendum

Die internasionale inmenging het mettertyd hewiger geword. Dit noop die NP-regering om na nuwe alternatiewe te kyk en het gelei tot die 1983-referendum vir ‘n nuwe bedeling. ‘n Belangrike verwikkeling hiervan was die Chris Heunis-Grondwetkomitee of inisiatief.

14. KODESA-Proses

Die Kodesa-proses, wat stelselmatig uit die Chris Heunis-inisiatiewe gegroei het, het in 1992 in volle swang begin en het gelei tot die wettiging van die ANC en ander terroristeorganisasies, sowel as die loslating van veroordeelde terroriste. Dit het Nelson Mandela en ander persone ingesluit.

Tydens die Kodesa-proses het die RADIKALE faktor weer opnuut uitgebreek met twee groepe wat meer as ooit te vore ‘n duidelike skeiding in die Afrikaner / Boerevolk na vore bring.

14.1 Liberale Afrikanergroepering

Tydens die KODESA-proses het die verligte of liberale Afrikaner mnr De Klerk onvoorwaardelike gesteun in die finale ooreenkoms van ‘n eenheidstaat met sogenaamde waarborge, wat ingebou is vir beskerming van minderhede.

Hierdie deel van die Afrikanervolk het saam met al die swart bevolkings, die meerderheid van Kleurling- of Bruingemeenskappe, sowel as die Indiër- gemeenskappe, almal hulle reg tot ‘n eie selfstandige bedeling van onafhanklike state onherroeplik weggeteken.

Hierdie deel van die Afrikaner het al ‘n aanpassing op alle terreine, ook nou op die godsdiensterrein gemaak. Hulle probeer nou om hulle liberale sienings en hul nuut geskepte gemeenskaplike staat te help maak werk. Binne die NG Kerk, waarvan ek my hele lewe deel was, het hulle met die jongste sinodesitting die mees godslasterlike en onbybelse besluite deurgevoer – om hierdie stelsel ter wille te wees.

14.2 Konserwatiewe Afrikaner-/Boere-inisiatief

Daarenteen het die Konserwatiewe Afrikaner-/Boeregroep hulle eie inisiatief tydens die KODESA-proses geloods, omdat die De Klerk-proses van die begin af onaanvaarbaar was.

Hierdie inisiatief het ontstaan uit die ontslag van ‘n groep generaals in 1992. Hulle wend hulle tot genl Constand Viljoen as hulle leier. Saam met ander groeperings, wat die kombinasie genoemd COSAC en die KP ingesluit het, is daar ‘n losse oorhoofse assosiasie naamlik die Afrikaner Volksfront gestig.

Nadat hierdie groep toegang tot die Kodesa-proses geweier is, het hulle besluit om direk met die ANC te begin onderhandel. Hierdie besluit is nie deur almal in die AVF goedgekeur nie, maar is onder leiding van genl Viljoen steeds verder gevoer.

Na die eerste resultate naamlik die “Memorandum of Agreement between die ANC and Afrikaner Volksfront” in Desember 1993, het daar van die buitelandse ambassadeurs, onder leiding van Lyman van die VSA, betrokke geraak en ‘n groot rol gespeel in die verwikkelinge wat gevolg het.

15. Die Afrikaner Akkoord as internasionale ooreenkoms

15.1 Die Afrikaner Akkoord berus op ‘n ooreenkoms, geldig in terme van die internasionale reg,genaamd “Memorandum of Agreement between the African Congress and the Afrikaner Volksfront” gedateer 21 Desember 1993.

15.2 Die “Memorandum of Agreement” was die regsbasis waarop die tussentydse Grondwet van Suid-Afrika in Februarie 1994 gewysig is, met die invoeging van Grondwetlike Beginsel xxxiv, sowel as artikels 184 A en 184 B. Die doel van hierdie wysigings was om selfbeskikking vir die Afrikaner te skep binne ‘n onderhandelingsproses wat internasionaal erken sou word.

15.3 Die onderhandelingsproses was dus gedoen in terme van die internasionale reg wat bepaal dat so ‘n ooreenkoms internasionaal gemedieer moet word omdat die volgende state daarby betrokke was, naamlik Brittanje, die VSA, en namens die Europese Unie Duitsland en Ierland.

15.4 Hierdie onderhandelingsproses was amptelik vasgemaak met die ondertekening van die Afrikaner Akkoord onder toesig van buitelandse verteenwoordigers. Dit was geteken deur die RSA-regering en NP as een party, die ANC as ‘n tweede party en die Vryheidsfront (uitvloeisel van die Afrikaner Volksfront) as ‘n derde party en verteenwoordiger van die konserwatiewe Afrikaner, binne ‘n internasionaal gerekende ooreenkoms.

15.5 Hierdie ooreenkoms is goedgekeur met die voorbehoud dat dit in ‘n referendum deur die Afrikaner goedgekeur moet word.

Daar is volgens tussenpartye ooreengekom om ‘n provinsiale verkiesing onder Afrikaners saam met die eerste nasionale verkiesing op 27 April 1994 te hou. Verder is ooreengekom op kieslokale binne Afrikaner-woongebiede met ‘n spesiale stembrief vir daardie doel.

Die provinsiale verkiesing is ook onder toesig van die verkiesingskommissie en regter Johan Kriegler as voorsitter en die dame van Ysland, van die internasionale monitorspan, se toesig geplaas.

Die hoeveelheid stemlokale en die hoeveelheid stemme benodig vir amptelike kondonering in terme van die internasionale reg, was vooraf bepaal as 870 lokale en 300 000 stemme vir die goedkeuring van die Afrikaner se selfbeskikkingsproses. Die finaal getelde stemme ten gunste was meer as 639 000.

Dit het die Afrikaner Akkoord wettig gemagtig.

15.6 Hierdie Akkoord was nasionaal in 1994 in werking gestel met wetgewing deur die ANC-NP koalisie, met die Volkstaatsraad as deel van die parlementêre stelsel van 1994.

15.7 Hierdie Akkoord en sy voorafproses binne die Memorandum van Ooreenkoms, is finaal vasgemaak in Artikel 235, wat deur die Konstitusionele hof op 6 September 1996 as geldig ten opsigte van die Afrikaner se selfbeskikkingsproses erken is.

Die uitvloeisel van die Akkoord word ook gevind in die verskeie artikels soos Art 9, Art 29, Art 30 en Art 31 van die huidige Grondwet naamlik die Grondwet van 1996. Laasgenoemde artikels handel oor minderheidsregte wat ook steeds op die Afrikaner van toepassing is en binne die bepalings van die internasionale reg geldig is.

15.8 Die Volkstaatsraad het sy werksaamhede volgens sy voorskrifte gehanteer en in 1998 het dit ook ‘n Wetsontwerp van 1998 oor die selfbeskikking van die Afrikaner goedgekeur, wat by die Raad van Provinsies ingedien was.

15.9 Die Volkstaatsraad is in 1999 wederregtelik ontbind voordat hy sy taak, naamlik om die proses om Afrikaner-selfbeskikking deur te sien, afgehandel het.

15.10 Die wetsontwerp van 1998 is in 2001 in die parlement wederegtelik onder valse voornemens, gemaak deur Mnr Thabo Mbeki se ANC-regering, van die tafel gevee en die proses in die parlement het tot stilstand gekom.

16. Stigting van Tabok Trust as buiteparlementêre liggaam

Na die goedkeuring van Art 235 in die RSA Grondwet van 1996, is besluit om ‘n buiteparlementêre liggaam te skep om die resultate van die Afrikaner Akkoord in praktyk verder te neem.

U moet dus kennis neem dat die internasionale reg en prosesse ‘n belangrike rol speel om hierdie uitstaande Afrikaner-selfbeskikkingproses uiteindelik deur te voer.

Dis ook belangrik om daarop te let dat hierdie internasionale prosesse vir Afrikaner- selfbeskikking sedert 1902 nog nooit gestop het nie. Die Afrikaner Akkoord is dus ‘n krities belangrike deel van ons proses.

Verder is dit belangrik dat ons steeds besig is met die proses wat Swellendam se burgers in 1795 begin het en Piet Retief in 1837 met sy eerste onderhandelinge met Dingane (die Zoeloe-volk) voortgesit het.

Dit is ‘n lang pad wat ons in hierdie voorlegging geloop het, maar persoonlik voel ons dit is noodsaaklik dat u sinvol kennis sal neem van wat die internasionale reg is en hoe steek dit in mekaar met die aanvanklike prosesse, die Afrikaner Akkoord en Afrikaner-selfbeskikking. Dit gee ook aan ons as Afrikanervolk nou al die reg om ons toe te spits op daardie regte wat tot ons beskikking is – dit waarmee Tabok Trust hom besig hou sedert 1996.

Tabok Trust het reeds ‘n regspan bestaande uit top prokureurs en plaaslike senior advokate, sowel as internasionale senior advokate genader om hierdie proses nou deur ons howe, en indien nodig ook die internasionale howe, te voer.

17. Die huidige situasie in vergelyking met Piet Retief en sy burgers se situasie

Ons sit tans met ‘n ooreenkoms net soos wat Piet Retief gehad het.

Trouens is dit ‘n ooreenkoms wat tussen die Afrikaner en die huidige swart regering geteken is, wat aan vandag se internasionale vereistes voldoen en in die teenwoordigheid van die internasionale gemeenskap onderhandel en geteken is. Dit is net veel wyer as Piet Retief se ooreenkoms.

Net soos wat Dingaan die Piet Retief-ooreenkoms geteken het en onmiddellik sy rug daarop gedraai het deur Retief en sy span te vermoor, sit ons vandag met ‘n getekende ooreenkoms met die huidige swart regering. In plaas daarvan om dit te honoreer, ontken hulle dit en doen enigiets om dit te vermy en nie te implimenteer nie.

Net soos na die Retief-moord, ervaar ons aanvalle op ons burgers op plase met die deurlopende plaasmoorde. Daar is geen verskil tussen die moorde van 1836/7 op die burgers van toe en die plaasmoorde op ons burgers van vandag nie. Daarby kom die aanvalle op die Afrikaner se grondgebied deur besettings en wederegtelike onteieningsprosesse, net soos wat die die Britte heeltyd op die boere toegepas het;

die vernietiging van die Afrikaner se infrastruktuur in landbou en elke ander terrein deur BEE-programme;

die vernietiging van die Afrikaner se taal en kultuur met wetgewing en ander maatreëls teen sy onderwys en godsdiens.

Verder sit die Afrikaner binnenshuis verdeel deur die ewig teenwoordige RADIKALE faktor in eie geledere. Dit geskied in sy godsdiens en maatskaplik sosiale strukture. Vergelyk die NG Kerk se sinodebesluite oor die bestaan van die duiwel en goedkeuring van gay huwelike. Verder is daar ook groepe binne die NG Kerk wat aborsie ondersteun en die NG Kerk se algemene taakspan leer en aktuele sake (ATLAS) het selfs gesamentlike aanbidding met nie-gelowiges en ander vals gelowe ondersteun in die agenda van die 2023 algemene sinode.

Daar is ‘n groot deel van die huidige Afrikaner wat verkies om liewer in valse vrede voort te gaan onder ‘n swart onderdrukkende regering met die ewe valse geloof dat die huidige 1996-Grondwet steeds tot die Afrkaner se redding sal kom. Hulle keur die godslasterlike gebruike van gay-huwelike, vrye aborsie en gesamentlike aanbidding met mammondienaars binne ons kerke goed.

18. Ons is terug by die situasie van 15 Desember 1838 toe Andries Pretorius en sy burgers laer getrek het by Bloedrivier en hulle tot die Here God gewend het.

Daar is vir ons, net soos vir ons voorgeslagte ook uitkoms:

18.1 Ons moet ons gelofte van 16 Desember 1838 opnuut bevestig en in die geloof daarop bou.

18.2 Ons moet as volksgenote ons voor die lewende God en Here

18.3 Ons moet die wat saam hoort saambring onder een sambreel en aanvaar dat daar mede-Afrikaners is wat nie meer hierdie pad met ons sal saamstap nie. Ons moet bereid wees om hierdie verskille raak te sien en dit tot behoud van ons geloof en selfbeskikking begin uitleef – so moeilik soos wat dit mag voorkom omdat daar so baie van ons eie families en vriende binne hierdie verskille val.

18.4 Ons moet volhard in ons proses binne die geleentheid wat tot ons beskikiking is en met die troffel van arbeid in ons regterhand en die wapen om ons belange te verdedig in die linkerhand, hierdie taak onverpoosd opneem.

18.5 Ons pleit vir ondersteuning en hulp vir die afhandeling van die uitstaande Afrikaner Akkoord-proses.

19. Afsluiting met vers 4 van die Stem van Suid Afrika as verootmoediging

‘n Gepasde wyse is om saam met ons gelofte-belydenis van 16 Desember 1838, onsself ook te verootmoedig met die woorde in vers 4 van die Stem van Suid- Afrika.

Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou:
Skenk ook ons die krag, o Here! om te handhaaf en te hou
Dat die erwe van ons vad’re vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry.
Soos ons vadere vertrou het, leer ook ons vertrou, o Heer
Met ons land en met ons nasie sal dit wel wees, God regeer.

Saamgestel op 12 Desember 2023 te Pretoria.

Isak Louis Smuts

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui