Tyd dat Koinonia egskeiding met NGK inisieer?

Kyk ook:

*******

Tyd dat Koinonia egskeiding met NGK inisieer? | Netwerk24

Daniel Louw, Secunda

18 April 2024

In “Koinonia werk aan reformasie, nié skeuring nie” (08.04), neem ds. Theo Danzfuss my kwalik dat ek voorgee dat die Koinonia-sinode ’n probleem het met die NG Kerk (NGK), in plaas van die liberale mense wat die kerk weglei van die Woord.

Ja, direk is die liberales verantwoordelik vir die NGK se dwaling, maar indirek is ook die duisende lidmate, kerkrade en predikante verantwoordelik wat niks doen om dit te help omdraai nie.

Om ’n analogie te gebruik: ’n Mens kan nie net die ANC blameer vir Suid-Afrika se benarde situasie nie, maar ook elke ANC-kieser wat die ANC aan die bewind hou.

Qui tacet consentit (stilswye beteken toestemming).

Hoe lank moet ’n vrou by ’n man staan wat egbreek pleeg, dronk by die huis kom en haar dan emosioneel en selfs fisiek mishandel?

As ’n vrou dit reeds 20 jaar lank verduur het en gereeld gebid het dat dit beter moet word en niks verander nie, hoe lank voordat sy ’n egskeiding mag inisieer?

Het dit nie tyd geword dat die Koinonia-sinode hierdie egskeiding met die NGK inisieer nie?

As dit onkunde is om te sê behoudendes in die NGK het die stryd verloor, sê my asseblief wat ek mis.

In 2004 het die algemene sinode die gesag van die Skrif ’n ernstige knou toegedien.

In 2011 is ruimte gemaak om nie aan die duiwel te glo nie.

In 2015, 2019 en verlede jaar is ruimte gemaak vir selfdegeslagverhoudings.

Verder, verlede jaar het die algemene taakspan leer- en aktuele sake van die NGK gesamentlike (intergeloof-)aanbidding goedgepraat

Ook was die kwessie van aborsie selfs op die tafel. Sekere teologiese dosente van die NGK steun reeds aborsie.

Dit is slegs maar ’n paar dinge van vele wat genoem kan word.

Is dit nie duidelik dat behoudendes geen grond wen nie?

Dit is reg: Ek weet nie waaroor die Koinonia-sinode se aanbod vir bemiddeling gaan nie. Dis omdat dit nie aan behoudendes gesê word nie, ten spyte daarvan dat daar al navrae was daaroor.

Ek kan nie anders as om by my standpunt te bly nie: Bemiddeling sal nie die NGK omdraai nie. Bemiddeling kan wel baie waarde hê om te help dat paaie grasieus skei.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui