Jesus se maagdelike geboorte bevraagteken

Die volgende is ’n uitdeelstuk (êrens in 2014) geskryf deur Dr Willie Cilliers van NG Kerk Kuilsrivier Moedergemeente (kyk hulle webblad of Facebookblad). Ek het tussen die teks in [bruin blokhakies] kommentaar gelewer en ook onderaan. Oor hierdie skrywe het iemand tereg die volgende opgemerk: “As dít die saad is wat hy saai, kan hy mos baie ateïste kweek?”

****************

Vrae wat pla:

“Die maagdelike geboorte van Jesus word betwyfel. Daar word verwys na die ‘sogenaamde’ maagdelike geboorte.”

[Dit is streng gesproke meer korrek om van Jesus se maagdelike bevrugting of verwekking te praat.]

(Nog een van die bewerings in “vrae wat pla” waaroor duidelikheid gevra word.)

Die maagdelike geboorte van Jesus is deel van ons belydenis (Twaalf Artikels). In die Bybel het ons eintlik net twee getuienisse van hierdie verwekking, net in Matteus en Lukas. Volgens Matteus sê ’n engel aan Josef: “Wat in Maria verwek is, kom van die Heilige Gees” (1:20), en volgens Lukas sê die engel vir Maria: “Die Heilige Gees sal oor jou kom” (1:35).

Die mense wat probleme kry of maak met hierdie verhaal kom gewoonlik van twee kante af – daar is dié vir wie ons geloof staan of val by die maagdelike geboorte. Vir ander is dit net te ongelooflik – in die letterlike sin – hulle kan net nie iets so bonatuurliks glo of aanvaar nie. [Sulke mense sal seker nog minder kan glo dat Jesus wonderwerke gedoen het en uit die dood opgestaan en opgevaar het na die hemel toe.] Dan probeer dominee mos twee antwoorde gee. Die een probeer met alle mag om die historiese waarheid van die verhaal te probeer bewys – en dit krap sommige mense om. Die ander verwys na die verhale as “metafore” en probeer dan aandui dat dit nie nodig is om dit letterlik te glo nie – en dit maak nog meer mense kwaad!

Hoekom sou die feit dat Christus gebore kon word op dié wyse, en via dié proses wat normale menslike geboorte kenmerk enigsins afbreuk doen aan sy Goddelike identiteit?

Persoonlik dink ek albei hierdie pogings mis die punt. [Wat sou hy sê is die derde standpunt? Kyk ook kommentaar onderaan.] Matteus skryf nie geskiedenis soos ons dit vandag verstaan nie. Hy probeer nie ’n neutrale, onbevooroordeelde objektiewe geskiedenis skryf nie! Hy skryf geskiedenis soos al die geskiedskrywers in die eerste eeu na Christus geskryf het. [Moet ons dus ook Jesus se letterlike opstanding bevraagteken? Het die geskiedskrywers op dieselfde manier oor Jesus se opstanding gerapporteer?] Hy vertel ’n verhaal om ons te leer en oor te haal om sy punt in te sien en te aanvaar.

Moet my nie verkeerd verstaan nie! Matteus skryf definitief ’n verhaal waarin hy glo, en hy wil hê ons moet dit ook glo. Matteus is egter nie geïnteresseerd in die “feite” nie. Hy wil aan ons ’n groter waarheid, wat meer is as die samevoeging van ’n klompie feite, oordra. Matteus skryf in werklikheid ’n geloofsbelydenis hier. [Het Matteus dus presies dieselfde gedoen as wat sommige wetenskaplikes doen soos wat dr Richard Lewontin erken het: “Scientists, like others, sometimes tell deliberate lies, because they believe that small lies can serve big truths.”]

Maar dit bly vir moderne mense gewoon onverstaanbaar waarom ’n letterlike opvatting van die hierdie leerstelling nog vir die kerk belangrik sou wees. [Hoe besluit ’n mens wat letterlik is in die Bybel en wat nie? Daar is mense wat presies dieselfde argument sal gebruik téén Jesus se letterlike opstanding.] Al was Christus sonder sonde het dit weinig te make met die feit dat hy “uit ’n maagd gebore” is. As ’n mens dit sê, idenfiseer jy immers dat voortplanting deur middel van seks geskied, as die bron van sonde. En dit is ’n aanspraak wat op geen denkbare wyse verantwoordbaar is nie. Maar dit beteken geensins dat ons afbreuk moet of hoef te doen aan ons verbondenheid aan Christus as God se selfopenbaring in die wêreld nie. Hoekom moet die feit dat God mens geword het in Christus beteken dat Hy nie gebore kon word op die wyse, en via die prosesse, wat normale menslike geboorte kenmerk nie? Waarom sou dit enigsins afbreuk doen aan sy Goddelike identiteit?

[Dit sal nie: Jesus het geëet, geslaap, geloop, moeg geword, ens net soos ander normale mense. Dit is nie ’n probleem om dit te glo nie en dit doen nie enige afbreuk aan sy Goddelike identiteit nie. En selfs al was Jesus nie uit ’n maagd gebore nie, sou dit steeds niks aan sy Goddelike identiteit gedoen het nie, maar die Bybel sê Hy is deur ’n maagd gebore en daarom moet ons dit glo. Hoekom moet ons daarin twyfel? Waaroor kan ons nog in die Bybel twyfel? Sou dit iets aan Jesus se Goddelike natuur gemaak het indien Hy nie letterlik uit die dood opgestaan het nie?]

Cut-and-paste Bible

Dit is natuurlik so dat ’n mens die leerstelling dat Christus “uit ’n maagd” gebore is, nie letterlik hoef op te neem nie. Dit is immers nie slegs van Jesus dat daar in die tyd toe die Nuwe Testament ontstaan het, beweer is dat Hy uit ’n maagd gebore is nie. Dit is ook beweer van ander baie bekende historiese figure, onder wie iemand soos Alexander die Grote. [Dus as daar van iemand in die geskiedenis beweer is dat hy uit die dood opgestaan het, dan hoef ons ook nie te glo dat Jesus uit die dood opgestaan het nie? Daar is baie wat beweer dat Jesus se opstanding geleen is van ander mitiese figure soos Adonis, Osiris en Horus wat na bewering ook uit die dood opgestaan het (kyk Confronting the Copycat Thesis: A Multi-Essay Examination). Beteken dit dan dat ons Jesus se opstanding ook kan bevraagteken?] Volgens hierdie interpretasie was die geboorte uit ’n maagd in daardie tyd nie primêr ’n aanduiding van die negatiewe beoordeling van seksualiteit nie, maar eerder van die buitengewone bewondering wat so ’n figuur uitgelok het, deur sy of haar besonderlike leefwyse, méér as dié van ’n gewone mens. Die wyse waarop ’n negatiewe beoordeling van seksualiteit gekoppel is met die idee van ’n maagdelike geboorte sou volgens hierdie interpretasie eers veel later in die geskiedenis van die kerk na vore getree het.

Dit bly egter ook ’n vraag of die maagdelike geboorte verwys na die fisieke toestand van die 13/14-jarige Maria, of na haar sosiale status as ongetroude. [Kan ons dus ook die fisieke toestand van Jesus se kruisiging, dood en opstanding bevraagteken?] Dit sou ons kon uitbring by die gevolgtrekking dat ons waarskynlik nooit regtig sal weet wat destyds bedoel is met “gebore uit die maagd Maria” nie. [Sal ons dus nooit weet wat bedoel is met “…want Hy is uit die dood opgewek…”? (Mat 28:6)] Binne die historiese konteks van die daardie tyd sou dit buitendien nie dieselfde kennisbasis hê as waaroor ons vandag beskik vanuit mediese navorsing nie. Die Bybelse geskrifte is voorwetenskaplik en werk met ’n voorwetenskaplike wêreld- en lewensbeskouing.

[Wat beteken die woord “voorwetenskaplik”? Impliseer dit dat mense van daardie tyd nie met wetenskap gewerk het nie? Is dit waar? Wat van die piramides wat gebou is en selfs die tempel en ander geboue? Daar is sterk bewyse dat die bevolkings baie jare voor Jesus met wetenskap gewerk het. Toegegee dat die wetenskaplike kennis van daardie tyd baie meer beperk was as vandag, maar dit beteken nie dat die mense van daardie tyd nie met wetenskap gewerk het nie (kyk ook Word ons beter?).

Die belangriker vraag is wat die motief van dr Cilliers is met die gebruik van die woord “voorwetenskaplik”? Al logiese gevolgtrekking wat ek kan maak is dat dr Cilliers impliseer dat mense van daardie tyd nie altyd geweet het waar babas vandaan kom nie. Dit is om die minste te sê, loutere snert. Mense van daardie tyd het miskien nog nie ’n sperm en eiersel onder ’n mikroskoop gesien nie, maar hulle het baie duidelik geweet dat babas slegs verwek kan word deur gemeenskap tussen ’n man en vrou. Daarom Maria se opmerking in Lukas 1:34: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met ’n man gehad het nie?”.]

Ek bly daarom onoortuig daarvan dat die kerk van sy teenswoordige lidmate kan verwag om die leer van die maagdelike geboorte letterlik op te neem.

[Ek is weer baie oortuig daarvan dat ek nie die opinie van dr Cilliers in hierdie artikel kan vertrou nie.]

Ek ontken nie dat só ’n interpretasie van die maagdelike geboorte moontlik ’n sekere geldigheid het nie. [Soos Jesus se kruisiging en opstanding?] Die implikasie sou wees dat wanneer die kerk Jesus se maagdelike geboorte bely (soos in die Twaalf Artikels), die bedoeling nie hoef te wees dat Jesus letterlik uit ’n maagd gebore is nie, maar bloot dat Hy erken word as die buitengewoonste van almal wat ooit geleef het: God in die vlees, immanuel.

  • Dr Willie Cilliers van Kuilsrivier gemeente

Verdere kommentaar

Dr Cilliers sê dat Lukas bloot sê: “Die Heilige Gees sal oor jou kom” en dan bespreek hy slegs wat Matteus gesê het (wat terloops baie duidelik sê dat Maria swanger geword het sonder gemeenskap met ’n man!). Die persepsie wat hy hiermee wil skep is dat Lukas nie noodwendig sê dat Maria swanger geword het sonder gemeenskap met ’n man nie en dat ons Lukas se woorde anders kan interpreteer. Dit is uiters oneerlik, om die minste te sê. Kyk na die hele gedeelte in Lukas 1:

(30) Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou.
(31) Jy sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee.
(32) Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee,
(33) en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”
(34) Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met ’n man gehad het nie?”
(35) Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God.
(36) Kyk, ’n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook ’n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand.
(37) Niks is vir God onmoontlik nie.
(38) Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Toe het die engel van haar af weggegaan.

Uit die lees van die hele gedeelte is dit baie duidelik dat Maria swanger geword het sonder dat sy gemeenskap met ’n man gehad het.

Dit laat mens met twee opsies:

  1. Maria het swanger geraak sonder gemeenskap met ’n man.
  2. Maria het swanger geraak van iemand anders as Josef en sy het vir die engel gejok daaroor en Josef was naïef genoeg om Maria se storie te glo. Seker omdat hy voorwetenskaplik was…

Dr Cilliers sê beide groepe mense ((1) mense wat glo dat die maagdelike geboorte letterlik gebeur het en dat dit belangrik is en (2) mense wat glo dat so iets bonatuurliks net te ongelooflik is om te glo) mis die punt. Eerstens dink ek nie daar is ’n derde opsie nie – óf jy glo dit letterlik óf jy glo dit het nie letterlik gebeur nie. Tweedens, veronderstel daar was ’n derde opsie, hoekom “weerlê” dr Cilliers slegs die eersgenoemde groep mense in hierdie skrywe? Dit sou interessant wees om te sien hoe hy die tweede groep mense sou probeer weerlê. Sy argument sou waarskynlik wees dat enigiets vir God moontlik is. Sodra hy dit sou sê, sou ’n mens dan wonder hoekom hy dit dan nie glo nie?

Ek sal wil weet wat dr Cilliers glo oor Jesus se opstanding. As hy wel daarin glo, sal ek graag wil weet hoekom:

  1. Indien hy sê omdat dit in die Bybel staan, sal ek wil weet hoekom hy nie in die maagdelike geboorte glo nie wat baie duidelik is volgens die Bybel.
  2. Indien hy sê omdat ons geloof staan of val by die opstanding, dan het hy sy eie geloof geskep wat op sommige plekke met die Christelike geloof oorvleuel.

Dr Cilliers sê: “Hy [Mattheus] probeer nie ’n neutrale, onbevooroordeelde objektiewe geskiedenis skryf nie! Hy skryf geskiedenis soos al die geskiedskrywers in die eerste eeu na Christus geskryf het.”

Die vraag is hoe het die geskiedskrywers van destyds geskiedenis geskryf? Baie van die inligting wat in The Anals of the World deur Ussher opgeskryf is (kyk ook Belangrike Bybelse datums), berus op die geskiedskrywing van destyds. Alles wat ons weet van die filosowe en die keisers van destyds berus op dit wat geskiedskrywers vir ons nagelaat het. Is alles nou op losse skroewe, want daardie geskiedskrywers het “nie neutrale onbevooroordeelde objektiewe geskiedenis geskryf nie”?

Wat gebeur vandag met geskiedenis op skool? Sommige swartmense wil hê ons moet die geskiedenis vanuit ’n Afrika-oogpunt skryf. Beteken dit dat al die geskiedenis wat tot dusver deur blankes geskryf is, onakkuraat is en dat hulle “nie neutrale onbevooroordeelde objektiewe geskiedenis geskryf het nie”. Elke geskiedskrywer skryf oor ’n onderwerp. Daar is goed wat hy as belangrik ag vir sy onderwerp en daar is goed wat hy weglaat en onbelangrik ag, maar dit beteken nie dat dit wat hy geskryf het onwaar is nie.

Ten slotte: Dr Cilliers erken baie duidelik dat die Twaalf Artikels bely dat Jesus uit ’n maagd gebore is, maar tog verwerp hy dit. Tydens sy legitimasie-eed (kyk Legitimasie-eed van NG Kerk predikante) het hy die volgende belowe oor die belydenisskrifte:

Ek belowe om die voorgenome leer ywerig en volhardend te leer en in my wandel getrou te handhaaf, sonder om iets teen die leer, hetsy regstreeks of onregstreeks, te leer of te skrywe. En net soos ek hierdie leer te goedertrou aanneem en van harte glo, so verwerp ek alle dwalings wat teen hierdie leer stry en beloof ek om dit te weerlê, teë te spreek en alles in my vermoë te doen om dit uit die kerk te weer.

Dit is baie duidelik dat dr Cilliers sy legitimasie-eed verbreek. Hy sal homself moet afvra of hy nie eerder uit die NG Kerk moet bedank nie…

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui