Handelinge 15 gebruik om homoseksualiteit in die kerk te normaliseer

Voor en na die 2019 NGK homoseksuele besluit het die voorstaanders van homoseksualiteit Handelinge 15 gebruik om te redeneer dat daar ruimte gemaak moet word vir homoseksualiteit. Kyk byvoorbeeld:

Tydens die Algemene Sinode in 2019 het André Bartlett Romeine 14 op dieselfde manier gebruik, 1h:38:20 (8 Okt 2019)

Wat staan in Handelinge 15?

In Handelinge 15:1-35 lees ons dat daar mense van Judea af gekom het en die gelowiges wysgemaak het dat hulle nie gered kon word as hulle hulle nie laat besny het nie.

Na ’n lang bespreking in Jerusalem het Petrus gesê dat die evangelie ook vir die nie-Jode bedoel is en die volgende gesê:

(10)Waarom wil julle dan nou God se geduld op die proef stel deur op die nek van die gelowiges uit die heidennasies ’n juk te lê wat ons voorvaders nie in staat was om te dra nie en ons ook nie?

(19)Daarom meen ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir die heidene wat hulle tot God bekeer nie.

Die volgende is besluit:

(28)Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê as net hierdie noodsaaklike dinge nie: (29)dat julle nie vleis moet eet wat aan ’n afgod geoffer is nie, ook nie bloed nie en ook geen dier wat verwurg is nie, en dat julle onsedelikheid moet vermy. As julle julle van hierdie dinge weerhou, doen julle reg.

Argument

Voorstaanders van homoseksualiteit redeneer dat hierdie ’n voorbeeld is van ’n baie moeilike geloofskwessie en waar daar besluit is om ruimte te maak vir mekaar.

Hulle kan selfs so ver gaan om te redeneer dat selfs die besluit tydens híérdie geleentheid later verander het: in 1 Korintiërs 8:1-13 en 1 Korintiërs 10:24-33 sê Paulus dat jy wél afgodsvleis mag eet (kyk Die Bybel oor onrein kos).

Dus, indien die apostels sekere sieninge kon verander, dan kan ons dit ook mos doen, nie waar nie?

Weerlegging

Jesus het gekom om die ou verbond te vervang met ’n nuwe een. ’n Mens het volle begrip daarvoor dat dit ’n groot paradigmaverskuiwing gevra het. Dit is te verstane dat daar mense was wat nog aan die ou gebruike wou vashou waarmee hulle grootgeword het en wat vir hulle baie belangrik was.

Dit is baie belangrik om te besef dat die apostels almal saam met Jesus geleef het en Hom gehoor praat het. Volgens Johannes 20:30-31 en 21:25 is daar baie dinge wat nie vir ons opgeskryf is nie. Die apostels het hierdie besluite (oor die besnydenis) geneem met baie meer inligting tot hulle beskikking as wat ons vandag het. Kyk Die Bybelskrywers is altyd reg.

Die verskil tussen homoseksualiteit en die besnydenis is dat homoseksualiteit nog altyd sonde was, maar die besnydenis was ’n uiterlike teken.

Daar is nie kwessies daaroor dat die siening oor homoseksualiteit in die kerk vandag hoofsaaklik beïnvloed word deur die heersende humanistiese tydsgees nie. Homoseksualiteit is dus duidelik nie ‘n randkwessie nie (kyk ook Is homoseksualiteit ‘n randkwessie?).

Verder, word die hele idee dat daar ruimte gemaak moet word in die kerk sodat daar eenheid kan wees heeltemal weerlê later in dieselfde hoofstuk wanneer vertel word dat Paulus paaie met Barnabas geskei het op grond van ‘n blote meningsverskil oor Markus wat hulle in Pamfilië verlaat het (Handelinge 15:36-41).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui