Moderatuur reik verklaring uit oor NGK Die Strand wat doleer

Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk het die volgende verklaring uitgereik na aanleiding van NGK Die Strand wat kennis gegee het dat hulle doleer.

In ’n brief wat die kerkraad van Die Strand aan hulle lidmate uitgereik het (kyk Strandgemeente doleer) het hulle ’n lys gemaak van dwalinge wat tans in die NG Kerk geduld word.

Netwerk24 het ook hierdie verklaring gepubliseer op 17 Julie 2021 as die artikel ’n Diep verontrusting oor redes vir dolering.

Kyk egter Verdediging van Die Strand se sewe aantygings wat bewyse aantoon vir Die Strand se lys van dwalinge in die NG Kerk.

***********

Moderatuur reik verklaring uit

Nelis Janse van Rensburg reik die volgende verklaring uit namens die moderatuur van die NG Kerk in Wes-Kaapland rakende standpunte van die NG Kerk Strand (Moederkerk):

“Die berig in Die Burger van 14 Julie 2021 oor die NG Kerk Strand se dolering, asook die redes waarom hulle doleer, het diep verontrusting veroorsaak by elkeen wat lief is vir die Here en vir Sy kerk.

Die aansprake wat luidens die koerantberig deur die kerkraad van hierdie gemeente gemaak word, is nie net ’n wanvoorstelling van die standpunte van die NG Kerk nie, dit is ook misleidend vir lidmate van die gemeente en enige leser van die berig. Trouens, daar is geen standpunt of besluit van die Algemene Sinode van die NG Kerk, of van enige ander van die deelnemende sinodes van die Algemene Sinode wat enige van die stellings wat gemaak word, ondersteun nie. Die kerkraad se stellings is onverstaanbaar aangesien dit nie moontlik is om op ‘n redelike wyse tot so ‘n interpretasie van die helder besluite en duidelike standpunte van die Algemene Sinode oor elkeen van hierdie sake te kom nie.

Dit is hartseer dat die kerkraad hierdie posisie inneem in weerwil van al die opsies om met verteenwoordigers van die kerkverband, hetsy op rings- of sinodale vlak, in gesprek te tree en op grond van ‘n korrekte feitestel standpunt in te neem. Dit is veral verontrustend aangesien dit die integriteit van die hele kerkraad in gedrang bring. Die ergste van die beweringe is dat die NG Kerk in eie geledere geloof in die opstanding van Christus as ‘n opsionele saak beskou. Dit is erg misleidend en onwaar en geskied in weerwil daarvan dat die opstanding van Christus die hart van ons belydenis en geloof is.

Die kerkverband sal op gepaste wyse en met liefde met die kerkraad van Strand-gemeente in gesprek tree en alles moontlik doen om die nodige regstellings in die denke en posisie van die kerkraad te maak. Die eer van Christus is hierin op die spel. Hy is immers die Hoof van die kerk. As lede van Sy liggaam is ons daartoe verbind om met liefde, eensgesindheid en welwillendheid die Here te dien.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui