Koinonia werk aan reformasie, nié skeuring nie

Kyk Tyd dat Koinonia egskeiding met NGK inisieer? (Daniel Louw, 18 Apr 2024) wat op onderstaande brief reageer.

*******

Koinonia werk aan reformasie, nié skeuring nie | Netwerk24

Theo Danzfuss

08 April 2024

Die Koinonia-sinode (KS) beklemtoon herhaaldelik KS werk nie aan kerkskeuring nie, maar aan kerkreformasie.

Iemand wat dít nog nie weet nie, is óf moedswillig óf soos ’n vreemdeling in Jerusalem. Om een of ander rede is daar egter twee groepe, een na links en die ander na regs, wat KS knaend druk om kerkreformasie prys te gee en oor te gaan tot kerkskeuring.

Koinonia is vir die linkse drukgroep ’n kopseer. Hulle wens is dat KS-gemeentes uit die NG Kerk (NGK) moet wegskeur. Dan kan hulle voortgaan met hul pogings om die kerk, wat nog altyd bekend was as ’n Skrifgetroue gereformeerde belydenis-kerk, volgens hul humanistiese droomscenario te transformeer tot ’n identiteitlose diversiteit van mense wat almal in ’n ruim sirkustent probeer vermaak.

Hulle wens dat KS-gemeentes moet loop, voordat meer gemeentes wakker skrik en die verskil ontdek tussen hul droom van transformasie en KS se gebed vir reformasie. Vir hulle is KS ’n struikelblok. Hul druk vir kerkskeuring is verstaanbaar.

Die tweede drukgroep se motiewe is moeiliker om te verstaan. Dit is ’n paar behoudendes waarvan sommige lankal die NGK verlaat het. Bewus van die moeilike omstandighede waarin van hulle uit die NGK gedryf is, respekteer ons baie van hulle se besluit om hul lidmaatskap te beëindig. Ons het waardering vir hul ywer om steeds binne hul konteks die dwalinge van die liberale teologie te bestry. Ongelukkig is daar van hulle wat ’n obsessie het om druk uit te oefen dat die NG gemeentes van KS ook die NGK moet verlaat. In hul ywer praat hulle dan dieselfde taal as die liberale drukgroep en skiet in die verkeerde rigting.

Hiervan is Daniel Louw se brief (04.04) ’n sprekende voorbeeld:

  • Die opskrif: “Koinonia en die NG Kerk . . .”, asof dit twee aparte groepe is. KS-gemeentes is nie teen die NGK nie, maar teen liberale mense wat die kerk weglei van die Woord af. Wie dit nog nie weet nie, is óf moedswillig óf baie onkundig;
  • “Skeuring is al oplos­­­sing . . .” In meer as 40 jaar as predikant was ek nooit so aanmatigend om knaend druk uit te oefen dat ’n egpaar moet skei nie. Ek glo aan die almag van God en het gesien hoe Hy op die mees onverwagte uur uitkoms gee. Daarom sou ek nooit vir mense sê: “Egskeiding is al oplossing” nie;
  • “ . . . behoudendes het duidelik die stryd verloor en dit is tyd om dit te aanvaar”. Dít spreek nie van geloof nie, maar van onkunde oor wat die Here gedoen het en steeds doen. Watter stryd? Stryd om jou ego te streel, of stryd om die Koninkryk van God te dien?
  • “ . . . mediasie kan nie die NG Kerk omdraai nie”. Vreemde woorde van iemand wat nog nie eens weet waaroor KS se aanbod vir mediasie gaan nie; en
  • Die ergste is waar hy KS met Hamas vergelyk. Dit is onvanpas en swak smaak.

Miskien moet die twee drukgroepe aanvaar dat Koinonia hul eie besluite biddend neem en nie sal swig onder drukgroepe van links of regs nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui