Skrywe van Vrystaatse moderamen aan gemeentes

Die volgende skrywe is versprei ná die Vrystaatse moderamen vergadering op 11 Maart 2024.

*******

AAN ALLE GEMEENTES VAN DIE NG KERK VRYSTAAT

Maandag 8 April 2024

Geagte broers en susters, kerkrade en kollegas –

Die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat het tydens ons vergadering op Maandag, 11 Maart 2024 indringend oor ons kerkverband gepraat en oor al die kwessies wat saamhang met ons eie Buitengewone Sinode (April 2023) en die Algemene Sinode 2023. Ons het ook advies van ons eie Sinodale Taakspan Kerkorde ontvang en dit bespreek. Tydens die afgelope vergadering van die Interimkomitee op Vrydag, 5 April 2024, is verdere terugvoer wat ons hieroor ontvang het, hanteer en ‘n aantal belangrike besluite daaroor geneem. Graag gee ons hiermee die volgende terugvoer aan u as lidmate, kerkrade en gemeentes in die NG Kerk Vrystaat:

1. Die Moderamen het ‘n “Verklaring van Welwillende Voorneme” opgestel en dit word hiermee afsonderlik na u almal versprei, as samevatting en raamwerk vir ons verdere hantering van die gesprek oor ‘n welwillende weg vorentoe vir die hele NG Kerk in die Vrystaat. Sien gerus die artikel in VRYPOS (Vrydag, 15 Maart 2023), “Laat die puinhope jubel – die Here is hier!”, waarin meer besonderhede oor die afgelope vergadering van die Moderamen meegedeel word.

2. Die besluit van die Algemene Sinode 2023 om Artikel 32 van ons Kerkorde te wysig sodat gemeentes by ‘n ander (geografiese) sinode van die NG Kerk kan inskakel, is deur die Algemene Taakspan Regte (ATR) bestudeer en ‘n prosedure is daarvoor voorgestel en na die onderskeie sinodes deurgegee. Dit word nou hier by ons in die Vrystaat deur ons Sinodale Taakspan Kerkorde (STK) en die Interimkomitee bestudeer, om ons kommentaar daarop voor 30 April na die ATR deur te gee. Dié sal dan al die terugvoer uit die sinodes verwerk, dit aan die ASM vir goedkeuring voorlê en dan kan dit as ‘n opsie vir gemeentes geïmplimenteer word (2e helfte van 2024).

3. Die advies wat deur die ATR gegee is rakende (aktes van) “opskorting van die verband” is deur ons STK ontvang en verwerk en deur die Moderamen bespreek. Dit word hiermee as ‘n afsonderlike advies na al die ringe in die NG Kerk Vrystaat deurgegee. In kort kom dit daarop neer dat ons Kerkorde nie voorsiening maak vir so ‘n eensydige besluit of handeling deur ‘n leraar of kerkraad nie, met die gevolg dat die NG Kerk Vrystaat so ‘n gemeente steeds as deel van ons verband in ringe en die sinode ag en dat die voorregte van lidmaatskap en bevoegdhede en die verantwoordelikhede van lidmate en leraars onveranderd bly. Wat wél in gedrang kom – sou ‘n kerkraad of leraar hierin volhard – is ons onderlinge meelewing, eensgesindheid (2 Korintiërs 13:11, Filippense 4:2, 7-9), ons getuienis en ons samewerking. Daarom het die Moderamen besluit dat die Dagbestuur van die STK (met reg tot koöpsie) op 4 April 2024 met die drie ringskommissies wat sulke “aktes” ontvang het (Ringe van Suid-Oos Bloemfontein, Smithfield en Betlehem), sou vergader en reik ons hiermee weereens uit na al daardie lidmate, kerkrade en leraars in die betrokke gemeentes. Dit is ‘n ope uitnodiging: Die weg waarvoor ons kies is een van vrede en versoening, en om op ‘n ordelike en liefdevolle wyse saam te werk in die herstel van ons kerkverband, die heling in onderlinge verhoudinge en om ons roeping hier saam te vervul.

4. Die Moderamen het die “Getuienis van 46 Predikante” wat in Januarie verskyn het, bespreek en ook die reaksie wat daar uit die kerkverband hieroor ontvang is. Dr. Leon Foot, die samesteller van die “Getuienis”, het in ‘n skrywe aan die Moderamen sy verskoning aangebied vir ‘n bona fide oordeelsfout wat hy begaan het om die “Getuienis” na die sinodale kerkkantoor vir verspreiding te stuur en dat dit daar misverstaan is en as ‘n amptelike stuk op die platforms van die Vrystaatse Sinode verder gepubliseer is. Die Moderamen het in ons bespreking daarvan besef dat die “Getuienis” self en die gebeure daaromheen simptomaties is van diepere frustrasies en die meningsverskil wat daar onder ons as predikante (én lidmate) bestaan, en dat ons almal sal moet leer om op ‘n meer bedagsame en billike wyse oor al hierdie sake met mekaar moet praat. Die Moderamen het verder besluit om aandag aan die kommunikasiebeleid van die NG Kerk Vrystaat te skenk, om enige sulke toekomstige misverstande te voorkom.

5. Die Moderamen het die besluit wat aan die einde van verlede jaar ná afloop van die Algemene Sinode 2023 geneem is oor die hou van ‘n Buitengewone Sinodesitting, herbevestig en die Interimkomitee versoek om ‘n datum vir so ‘n sinodesitting te vind. Die Interimkomitee het afgelope Vrydag – in die lig van die komende Pinkstertyd en Algemene Verkiesing net daarná, ‘n winterskoolvakansie, verskeie sinodale- en gemeentelike projekte in die derde kwartaal én die koste-implikasies van so ‘n sitting – die datum vir die Buitengewone Sinode vir Donderdag, 3 Oktober 2024 (direk ná die derde skoolvakansie) bepaal. Die Moderamen sal hierdie datum by ons volgende vergadering bekragtig (einde Mei) en verdere logisitieke reëlings hiervoor begin tref en na gemeentes kommunikeer.

6. Die Moderamen het voorstelle van di. Pieter Prinsloo (Sasolburg-Tuinedal) en Dirk Venter en Org van der Watt (Vrede) ontvang oor moontlike opsies om uitvoering te gee aan die besluit van die Buitengewone Sinodesitting (April 2023) oor ‘n “welwillende weg” vorentoe vir alle gemeentes in ons Vrystaatse kerkverband, en dit is vir verdere oorweging na die Interimkomitee en die STK verwys. Oorsigtelike dokumentasie wat onder andere ook weer na die opsies van April 2023 sal kyk én nuwe ontwikkelinge in die breëre gesprek, sal met die oog op die Buitengewone Sinodesitting van 3 Oktober voorberei word, en vooraf op verskeie wyses en in verskeie byeenkomste in ons Vrystaatse kerkverband met leraars, kerkrade en gemeentes bespreek word.

7. Die Moderamen het met kommer kennis geneem dat daar 40 gemeentes in die Vrystaat is wat nie gereeld hul maandelikse pro rata-vorms indien nie, en onder hulle ook 38 gemeentes wat geen bydraes vir sinodale werksaamhede aan die NG Kerk Vrystaat oorbetaal nie. Ons verstaan dat daar verskillende redes hiervoor is, onder andere dat ‘n aantal gemeentes klein geword het en finansieël regtig swaarkry, en daarom het die Raad vir Ondersteuning en Moderamen besluit om opnuut na al hierdie gemeentes uit te reik en saam oor elk se situasie te besin. Behalwe dat sulke maandelikse pro ratavorms al in die verlede waardevol was as ‘n goeie kontrole-instrument vir die gemeente om hul eie finansiële sake te bestuur, ly ons hele kerkverband in die Vrystaat onder die nie-betaal van hierdie bydraes: Netwerke in belang van gemeentes en hul opbou; die bestuur van fondse in belang van leraars en gemeentes; projekte vir noodleniging en ons getuienis in die breër gemeenskap, ook saam met ons familiekerke (die NGKA en VGK). Kom, laat ons praat en saam ‘n plan maak.

Ons het tydens die moderamenvergadering besef dat ons ons in ‘n uitdagende tydsgewrig en moeilike omstandighede bevind – gegewe al die gebeure van die afgelope maande in ons provinsie, die natuur, ons kerke, die lief en leed in die lewens van leraars en lidmate, ‘n komende Algemene Verkiesing én ook hierdie intense gesprek oor ons kerkverband. Maar, ons het steeds ‘n keuse of ons op hierdie uitdagings en probleme alleen bly fokus en dáárin vasval, en of ons met waardering en dankbaarheid ons toevlug neem na dít wat ons steeds bevoorregd is om met mekaar te kan deel: ‘n Dieper eenheidsband deur Christus gelê, ‘n verskeidenheid van gawes en geleenthede wat Hy aan ons gee, en dié boodskap van Paastyd – nuwe lewe en hoop – waarmee Hy ons uitstuur. Ons roeping in die Vrystaat is immers:

“Lig in die duisternis. Hier vir God, mekaar en die wêreld.”

Laat ons dit dan in hierdie Paastyd, in ons woorde en werke, waardig uitleef.

Mag Christus u elk en ons almal saam, deur sy Woord en Gees daarin lei, beskerm en seën.

Hartlike groete,

(Geteken)

Ds. Jan Lubbe

Voorsitter: Moderamen van die NG Kerk Vrystaat

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui