Moet ons dan swyg oor die sinode se besluite?

Kyk Protestante swyg nie, hulle praat én hulle luister (12 April 2024) waarin Jan Lubbe, moderator van die NG Kerk reageer op die brief hieronder.

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Moet ons dan swyg oor die sinode se besluite? | Netwerk24

Prof. Johan Janse van Rensburg

10 April 2024

Hoewel die algemene sinode van die NG Kerk ’n aantal besluite geneem het wat met die Bybel teenstrydig is, is dié besluite woordeloos deur baie kerkleiers en lidmate aanvaar.

Is die Woord dan nie meer belangrik nie?

Die Skrif is dan gegee om dwaling te bestry en verkeerdhede reg te stel (2 Tim. 3:16).

Dalk word die konsekwensies van sulke dwalings nie besef nie. Daarom word hier ’n ontleding van een dwaling uitgewys.

Die algemene sinode (12 Oktober 2011) het besluit: “Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.”

Volgens dié besluit is lidmate welkom om al die tekste in die Bybel wat oor die duiwel geskryf staan, te ignoreer of metafories te interpreteer.

Dié besluit word oorheers deur die persepsie dat die Bose nie werklik bestaan nie en net verwys na die kwaad wat in elke mens is.

Die relativering van tekste oor die duiwel konfronteer ons met die dilemma oor die integriteit en identiteit van Jesus Christus.

Hoe het die Seun van God oor Satan gepraat en met demone gehandel as daar geen demone of Satan is nie?

Hy het duiwels uitgedryf, die dissipels uitgestuur om duiwels uit te dryf en gewaarsku “dat hierdie geslag nie anders as deur gebed en vas uitgedryf kan word nie” (Matt. 17:21).

Die verweer van sommige dat Christus by die heersende beskouing van sy tyd oor die Bose aangesluit het, hou geen grond of water nie.

Sou Christus dan net voorgegee het dat Hy duiwels uitdryf, bloot om die skare te beïndruk? ’n Ander verweer is dat die besetenheid van die Bybel vandag as die een of ander siekte bekend staan. Was Christus dan daaroor onkundig? Is dit hoe die kerk Christus wil verteken?

Hierdie skrywe is ’n beroep op elke Christen wat die Bybel as Woord van God beskou, om nie die dwaling van die sinode gelate te aanvaar of die stryd van beswaardes te minag nie.

Daar is diepe rou oor ’n kerk wat in sy besluitneming nie meer die gesag van die Skrif eerbiedig nie.

Moet ons dan nie daarteen beswaar aanteken nie? Ons is dan Protestante!

Kommentaar

Daniel Louw

Prof Johan sê: “…is dié besluite woordeloos deur baie kerkleiers en lidmate aanvaar.”

Dit is nie deur “baie” aanvaar nie. Dit is deur die meerderheid aanvaar. Die oorgrote meerderheid in die NGK aanvaar hierdie besluite, solank daar vir hulle ruimte is om te glo soos hulle wil. Solank daar nie iets in hulle gemeente gepreek word waarmee hulle nie saamstem nie. Kyk ook:

1 thought on “Moet ons dan swyg oor die sinode se besluite?”

  1. So n gedagte oor die duiwel.
    In Open.17:8-11 lees ons van die dier, duiwel, wat was en nie is nie alhoewel hy is. Lekker deermekaar, is dit nou of is dit nie? So sê party mense hy is en ander sê hy is nie. Daar is mos goed op die aarde wat ook is en nie is nie, bv. koue daar is koue maar eintlik is daar nie. Kom ons kyk eers na die ander kant, hitte, dit is mos regtig. Mens kan hitte maak op baie maniere en gebruik vir vele doeleindes. Daarom openbaar God Hom ook as hitte, vuur in die Bybel, want hitte is mos regtig. Mens kan mos glad nie koue maak nie, die enigste manier is in n yskas. Al die goed agter n yskas is daar om die hitte wat in die yskas is te ontrek en na buite te verplaas. So mens maak nie koue nie, jy ontrek die hitte, wat oorbly noem ons koue. So koue is n toestand waar daar nie hitte is nie. Dit is daar maar einlik nie. Dit is dalk bietjie tegnies so kom ons kyk na n ander voorbeeld, lig/duisternis. God openbaar Hom ook as lig. Mens kan ook lig maak op baie maniere, en daar is ook baie gebruike van lig. Die enigste manier wat mens duisternis kan maak is sit die lig af. So donker/duisternis is n toestand waar daar nie lig is nie. Dit is daar maar einlik nie. Nou die dier/duiwel is soos koue en donker kan nie wees waar daar lig en hitte is nie. Dit is maar dit is ook nie. Nou lees ons ook die ding loop rond soos n brulende leeu en SOEK. Hy kan net in die koue en duisternis soek. (waar God nie is nie) Kan glad nie daar wees in die hitte en lig nie. So alhoewel die ding daar is hoev mens dit nie te vrees nie, mens moet net in die lig en hitte bly.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui