’n Brief aan die NG gemeente Die Strand

In die brief hieronder reageer Christo Benadé, voorsitter van die Ring Van Somerset-Wes op die doleringsbrief van NG gemeente Die Strand. Christo verdedig slegs twee punte in die brief deur te sê:

Dalk tog een saak wat die ring en NG Kerk na aan die hart lê, naamlik die kerkraad van Die Strand se indruk dat die NG Kerk glo dat “jy nie hoef te glo in die maagdelike geboorte van Jesus en sy fisieke opstanding nie, omdat dit nie wetenskaplik moontlik is of bewys kan word nie”.

Daar bestaan geen feitelike gronde vir hierdie stelling nie.

Dit is so dat die NG Kerk nie amptelik ruimte maak vir hierdie twee geloofswaarhede nie, MAAR daar is heelwat gevalle waar predikante in die NG Kerk hierdie waarhede openlik bevraagteken het sonder dat ’n haan daarna gekraai het. Kom ons noem ’n paar:

  • Reeds in 2000 bevraagteken Ben du Toit beide die maagdelike verwekking en Jesus se liggaamlike opstanding in sy boek God? Geloof in ’n postmoderne tyd. En daarvoor ontvang hy die Andrew Murrayprys.
  • In 2003 verbreek die hele Sinode van Noord-Transvaal hulle legitimasie-eed toe hulle nie ’n kategoriese uitspraak wou lewer oor die geskiedkundigheid van die maagdelike geboorte of Jesus se liggaamlike opstanding nie (kyk Sinode vir eers stil oor maagdelike geboorte).
  • Ferdie Mulder het in 2006 drie van sy dosente, Julian Müller, Jurie le Roux en Dirk Human van teologiese dwaalleer aangekla omdat hulle Jesus se liggaamlike opstanding verwerp het. Hy is egter op ’n tegniese punt lewenslank geskors en die saak teen die drie professore het ’n stille dood gesterf. Lees gerus meer hieroor in sy boek Opgestaan. Studente se stryd om geloof by Tukkies in die jare 2001 tot 2006.
  • In 2003 het Julian Müller in ’n openbare lesing tot die konklusie gekom dat daar meer ruimte moet wees vir verskeidenheid binne die kerk, wat blykbaar die opstanding insluit. Willem Nicol het daarby aangesluit en beweer dat enige iemand nou welkom is om predikant in die NG Kerk te word, ook diegene wat Jesus se letterlike opstanding uit die dood (dus ook die leë graf) verwerp. (Uit Mulder, Ferdie, Julie 2011, Opgestaan, bl. 20)
  • In Februarie 2009 publiseer Adrio König sy boek Die evangelie is op die spel. Die hooftema van die boek is dat indien Jesus se opstanding ontken word, is die evangelie op die spel. Waarom ’n hele boek daaroor skryf as dit nie ’n kwessie in die NG Kerk is nie?
  • In 2012 skryf Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk, in ’n Facebookgesprek (Wie val wie aan) hoe belangrik die opstanding is. Toe hy egter gevra word of hy hom dan by Ferdie Mulder skaar of by Julian Müller en Jurie le Roux, toe wil hy nie kant kies nie. In ’n persoonlike e-pos sê Ferdie egter dat Nelus deur dik en dun by Müller en Le Roux gestaan het in 2005.
  • In 2014 bevraagteken Dr Willie Cilliers van NG Kerk Kuilsrivier Moedergemeente openlik die maagdelike verwekking in ’n uitdeelstuk.

As hierdie feite nie vir Dr. Christo Benadé oortuig nie, sal niks hom oortuig nie.

Kyk ook:

*******

’n Brief aan die NG gemeente Die Strand | Netwerk24

Deur Dr. Christo Benadé, Voorsitter Van Die Ring Van Somerset-Wes

16 Julie 2021

Liewe NG gemeente Die Strand, as Ringskommissie van die Ring van Somerset-Wes het ons reeds op 8 Julie gevra dat ons sou gou moontlik met die kerkraad van Die Strand oor hul besware in gesprek wil tree.

Die berig in Die Burger, “NG gemeente in Wes-Kaap doleer oor sinode se ‘dwaalleer’ ” (14.07) maak dit noodsaaklik dat die ringskommissie reeds nou al in die openbaar hierop reageer.

Die ringskommissie sou op elkeen van die sewe punte kon reageer, maar hierdie briewekolom laat nie die ruimte daarvoor nie.

Dalk tog een saak wat die ring en NG Kerk na aan die hart lê, naamlik die kerkraad van Die Strand se indruk dat die NG Kerk glo dat “jy nie hoef te glo in die maagdelike geboorte van Jesus en sy fisieke opstanding nie, omdat dit nie wetenskaplik moontlik is of bewys kan word nie”.

Daar bestaan geen feitelike gronde vir hierdie stelling nie.

Op die 2019 Algemene Sinode het ’n verslag gedien oor Missionale Kerkwees, wat die kerk se oortuiging soos volg verwoord:

“Die groot verhaal van die Bybel is van God wat mense soek, roep, verlos, heilig en stuur.

“God se heilswerk kulmineer in die dood en opstanding van Jesus en die versoening tussen God en mens wat daar plaasvind.

“ ‘Deur Sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!’ ” (Efesiërs 2:5)

“Elke lidmaat het die voorreg om op ’n baie persoonlike vlak hierdie redding te beleef en gepaardgaande vergifnis te ervaar.

“Deur die dood en opstanding van ons Verlosser, Jesus Christus, kan ons nou in ’n herstelde verhouding met God leef”. (Agenda van die Algemene Sinode 2019.) Dít reflekteer die NG Kerk se standpunt.

As ringskommissie wil ons hierdie saak en ook die ander punte met die kerkraad bespreek.

Dit is vir ons baie hartseer dat sulke indrukke die wêreld ingestuur word in ’n tyd waar ons hierdie opstandingsgeloof en troos meer as ooit nodig het.

In hierdie tyd waarin mense groot lyding ervaar as gevolg van Covid-19, bly ons enigste hoop dat ons ook saam met ons Here Jesus uit die dood sal opstaan.

As kerk is dit ook nie nou die tyd om vas te val in interne teologiese debatte terwyl ons land letterlik brand nie.

Laat ons vir Jesus Christus volg op straat, waar mense ly, kwaad is en selfs geweld pleeg, deur vrede, hoop en herstel te bring.

Groete in die naam van die opgestane Jesus Christus.

1 thought on “’n Brief aan die NG gemeente Die Strand”

  1. Doleer-groep.
    Ek het groot waardering vir julle ongelooflike werk en kan net saam bid. Die skrywes van Neels Jackson, beide sy stukkie oor “ek weet nie wat om te bid nie” en vandag sy kwetsende aanval op Chris van Wyk in die Rapport laat my nie meer toe om
    eenkant te sit en stil te bly oor wat in die Strand-gemeente gebeur nie. Mag ek my eerlike reaksie as gewone lidmaat plaas?
    Soos alle lidmate wat ernstig seergemaak is deur die dwaling wat deur sommige AS topbestuurslede verkondig word, neem ek kennis van die skrywe van die betrokke ring en ook die kommentaar van ons moderator. Ek kan nie anders as om my kommentaar op skrif te stel nie, want ek is nie ’n leraar nie en het géén toegang na die “binnekringe” van enige kerkstruktuur nie.

    Eerstens algemene kommentaar

    Die reaksie van ds Christo Benade blyk teenstrydig te wees met die reaksie van die sinodale kommissie wat vroeër vanjaar na ontmoeting by Moreletta geen van hierdie groep se sake as “spoedeisend” gesien het nie. Daar was met “liefde” kennis geneem van die besware maar kort daarna deur die kerk se joernaliste met redelike “minagting” bejeën. Soveel so dat my gemeente die dolerende groep as ’n “splintergroepie” afgemaak het, wat “sal oorwaai”.
    Die skrywe van ds Benade vermy die meerderheid van die kwessies en dit wil voorkom asof hy eerder die Strand – gemeente “afsonderlik” wou sien. 

    Ook het die moderamen gereken dat die saak kan “wag” tot die volgende sinode-sitting.
    Tweedens oor die skrywe van ds Benade spesifiek

     Die “groot verhaal” van die Bybel is NIE soos wat hy dit stel nie. Die Groot verhaal van die Bybel is die Liefde van God vir sy skepsels (en Skepping) en die Boodskap van Verlossing deur Jesus Christus, die Seun van God (Joh 3: 16). Hierdie definisie sluit in die oorwinning oor die Satan, wat ook uitgesluit word uit die “nuwe” definisie (AS Agenda 2019). Hierdie definisie wat voorgehou word het reeds die “ruimte” geskep vir ander verlossers, maar diplomaties-gewys fokus ons maar net op Jesus? Verlossing van die Bose (Satan), is onrusbarend afwesig. Waarom vermy hy die feit dat sy mede-kollegas reeds die “ruimte vir ander verlossers” geskep het? Die moderator het in persoon gesê dat die beleid van die NG Kerk nou INKLUSIEF is, m.a.w. daar is nou “ruimte” vir ander verlossers. (Hoe kan ds Benade nou “terugval na ekslusiwiteit: Nét Jesus Christus kan Versoening bewerk?)
    Waarom vermy hy die aspek van die maagdelike Geboorte van Jesus Christus en hou hy net by die “opstanding”, wat ook deur sy van geleerde kollegas as “nie fisies nie” verkondig word? Trouens dit wil voorkom asof sosiale media ingespan word om die dwalings te verkondig en nêrens het die kuratorium of ons moderator dit “reggestel” nie? (Ek respekteer ds Benade se poging hier om ietwat van die beginsels van die NGK, soos ek geken het, te verdedig)

    Ds Benade behoort te wéét dat die maagdelike Geboorte, en die aanvaarding van “Een Verlosser”, en boonop as die “Seun” van God, NIE deel is van die LGBTQ+ beleid nie. En die AS het hierdie homoseksuele denkraamwerk reeds as deel van hulle inklusiwiteit aanvaar!
    Ek respekteer wel die kommentaar van ds Benade dat die “kerk moet onderskei tussen uitsprake van individuele teoloë en die beleid van die kerk soos deur sy sinodes geformuleer” maar dan neem “die kerk” (soms smalend) deel aan die morele ondersteuning van individue, soos Ben du Toit (nou God-verloëner) en André Bartlett, asof sy optrede van gif saai, deur die “kerk” se beleid ondersteun word? In hierdie een opsig sou ek ds Benade tegemoet kom want hy sinspeel daarop dat hy dalk ook van dieselfde individue wat die NGK gekaap het (my woorde!) kan verskil? (Skrikwekkend dat ’n vorige moderator reeds Jesus as “Seun” van God, herdefinieer as die “Gesig” van God!)
    Ten slotte: ek is ’n lidmaat in ’n gewone NG Kerk. My kerk het reeds die liturgie en liturgiese orde aangepas om die “nuwe, inklusiewe” orde te ondersteun. Selfs dit wat ds Benade ondersteun, is nie meer sigbaar in my kerk nie.

    Soos almal in hierdie groep neem ek kennis van die skrywe van die betrokke ring en ook die kommentaar van ons moderator. Ek kan nie anders as om my kommentaar op skrif te stel nie, want ek is nie ’n leraar nie en het géén toegang na die “binnekringe” van enige kerkstruktuur nie.
    Eerstens algemene kommentaar

    Die reaksie van ds Christo Benade blyk teenstrydig te wees met die reaksie van die sinodale kommissie wat vroeër vanjaar na ontmoeting by Moreletta geen van hierdie groep se sake as “spoedeisend” gesien het nie. Daar was met “liefde” kennis geneem van die besware maar kort daarna deur die kerk se joernaliste met redelike “minagting” bejeën. Soveel so dat my gemeente die dolerende groep as ’n “splintergroepie” afgemaak het, wat “sal oorwaai”.
    Die skrywe van ds Benade vermy die meerderheid van die kwessies en dit wil voorkom asof hy eerder die Strand – gemeente “afsonderlik” wou sien. 

    Ook het die moderamen gereken dat die saak kan “wag” tot die volgende sinode-sitting.
    Tweedens oor die skrywe van ds Benade spesifiek

     Die “groot verhaal” van die Bybel is NIE soos wat hy dit stel nie. Die Groot verhaal van die Bybel is die Liefde van God vir sy skepsels (en Skepping) en die Boodskap van Verlossing deur Jesus Christus, die Seun van God (Joh 3: 16). Hierdie definisie sluit in die oorwinning oor die Satan, wat ook uitgesluit word uit die “nuwe” definisie (AS Agenda 2019). Hierdie definisie wat voorgehou word het reeds die “ruimte” geskep vir ander verlossers, maar diplomaties-gewys fokus ons maar net op Jesus? Verlossing van die Bose (Satan), is onrusbarend afwesig. Waarom vermy hy die feit dat sy mede-kollegas reeds die “ruimte vir ander verlossers” geskep het? Die moderator het in persoon gesê dat die beleid van die NG Kerk nou INKLUSIEF is, m.a.w. daar is nou “ruimte” vir ander verlossers. (Hoe kan ds Benade nou “terugval na ekslusiwiteit: Nét Jesus Christus kan Versoening bewerk?)
    Waarom vermy hy die aspek van die maagdelike Geboorte van Jesus Christus en hou hy net by die “opstanding”, wat ook deur sy van geleerde kollegas as “nie fisies nie” verkondig word? Trouens dit wil voorkom asof sosiale media ingespan word om die dwalings te verkondig en nêrens het die kuratorium of ons moderator dit “reggestel” nie? (Ek respekteer ds Benade se poging hier om ietwat van die beginsels van die NGK, soos ek geken het, te verdedig)

    Ds Benade behoort te wéét dat die maagdelike Geboorte, en die aanvaarding van “Een Verlosser”, en boonop as die “Seun” van God, NIE deel is van die LGBTQ+ beleid nie. En die AS het hierdie homoseksuele denkraamwerk reeds as deel van hulle inklusiwiteit aanvaar!
    Ek respekteer wel die kommentaar van ds Benade dat die “kerk moet onderskei tussen uitsprake van individuele teoloë en die beleid van die kerk soos deur sy sinodes geformuleer” maar dan neem “die kerk” deel aan die morele ondersteuning van individue, soos Ben du Toit (nou God-verloëner) en André Bartlett, asof sy optrede van gif saai, deur die “kerk” se beleid ondersteun word? In hierdie een opsig sou ek ds Benade tegemoet kom want hy sinspeel daarop dat hy dalk ook van dieselfde individue wat die NGK gekaap het (my woorde!) kan verskil? (Skrikwekkend dat ’n vorige moderator reeds Jesus as “Seun” van God, herdefinieer as die “Gesig” van God!)
    Ten slotte: ek is ’n lidmaat in ’n gewone NG Kerk. My kerk het reeds die liturgie en liturgiese orde aangepas om die “nuwe, inklusiewe” orde te ondersteun. Selfs dit wat ds Benade ondersteun, is nie meer sigbaar in my kerk nie.😢

    🙏🏼🙏🏼🙏🏼🙏🏼

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui