Protestante swyg nie, hulle praat én hulle luister

Kyk Belydenisskrifte duidelik oor duiwel waarin prof Johan Janse van Rensburg op hierdie brief reageer.

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Protestante swyg nie, hulle praat én hulle luister | Netwerk24

Jan Lubbe, Ng Kerk Berg-En-Dal [Jan Lubbe is die moderator van die NG Kerk]

12 April 2024

Prof. Johan Janse van Rensburg se brief “Moet ons dan swyg oor sinode se besluite?” (10.10) is ’n klassieke voorbeeld van hoe ’n onverkwiklike verhaal oor die NG Kerk en “die algemene sinode” geruime tyd al in briewekolomme van koerante geskep en gevoed word.

Briewe wat dadelik hul weg vind na eggokamers op webwerwe en in gonsgroepe op sosiale media en waarop ander briefskrywers weer – dikwels nie lidmate van die NG Kerk nie – vurig voortborduur. En só kry, byvoorbeeld, dié storie oor die duiwel vreeslike sterte, tot op kerkraadsvergaderings en binnekamers van goedgelowige lidmate. Dan ly die liggaam van Christus; die eenheid, welwese en getuienis van ’n kerk in ’n wêreld vol nood.

Oor die Bose én oor Christus se konfrontasie met Satan in die evangelies is deur eeue dík teologiese werke geskryf; enkele sinne in ’n koerantbrief kan dit hoegenaamd nie weergee nie. In verhale en visioene van Genesis tot Openbaring word ’n verskeidenheid van beelde gebruik om die Bose te beskryf, van ’n sprekende slang tot ’n spuwende draak. Maar dié Teenstander van God is ’n býspeler; verslaan en uitgewerp in die woesteny. Bly wég daar! In die hart van die Skrif (wat nie slegs gegee is “om dwaling te bestry nie”), staan Christus, dié Gestuurde van God, Sý liefde, verlossing en lig. Daarom dat geen artikel in ons oudste geloofsbelydenisse (soos die Apostolicum Sondae in ons eredienste) ’n woord rep oor die Bose nie. En in die belydenisskrifte van die Reformasie is daar óók nie ’n eenduidige spreke oor die Bose nie, maar lees ons van duiwels in enkelvoud en meervoud, met klein- én hoofletters. Telkens troon Christus bó dit alles uit. Soveel so dat Karl Barth in sý nadenke oor die Bose uitgeroep het: “Die (groot) Nietige!”

Dít alles staan in die omvattende studieverslag van die algemene sinode 2011 waaruit prof. Janse van Rensburg nét die één sin aanhaal. ’n Verslag wat aangevra is deur Christen-sielkundiges en -leraars wat lidmate moes help uit wie duiwelbesweerders allerlei demone probeer dryf het.

Die 2011-besluit is in die algemene sinodes van 2013 en 2015 heroorweeg en duideliker gestel. Intussen is ’n beskrywingspunt van die Vrystaatse sinode daaroor deur die algemene sinode 2023 aanvaar wat géén twyfel laat oor die werklikheid van die Bose soos wat Jesus ons leer bid het én die Heidelbergse Kategismus dit diepsinnig vertolk nie.

Nee, agter hierdie bos is daar nié ’n “dwaling van die sinode (wat) gelate aanvaar” of beswaard in briewekolomme bestry hoef te word nie. Veral nie terwyl ons wéét daarbuite op straat en in die gehuggies en stelsels van ons land tier die Bose en saai verwoesting.

Kom ons help dáár.

Protestante swyg nie.

Protestante praat openhartig én met respek vir mekaar.

Laat ons die primêre bronne, die amptelike besluite van vergaderings, verantwoordelik lees en saam vertolk. Bó dit alles­, dié Bron – die Skrif as geïnspireerde­ Woord van God.

Dít is wat die algemene sinode 2023 bely het. En dít is nie maar om’t ewe nie.

Kommentaar

Daniel Louw

Die punt is: daar is steeds ruimte vir predikante en lidmate in die NG Kerk om die duiwel te verwerp. Niemand in die NG Kerk gaan getug word indien hy/sy nie in die duiwel glo nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui