Gesprek, nie die hof, enigste oplossing vir kerktwis

Kyk ook:

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Gesprek, nie die hof, enigste oplossing vir kerktwis | Netwerk24

Daan Nortier, Bloemfontein

25 Maart 2024

Die broedertwis in die NG Kerk woed ten diepste om waarheid. Watter waarheid? Die absolute waarheid van die Bybel, wat in Christus die Woord is, wat lewend geword en onder ons kom woon het, of ’n ander gekose “waarheid”?

Prof. Johan Janse van Rensburg skei die korrels van die kaf, soos hy suiwer Bybelgerig onderskei en rigting aandui. Die antwoord en oplossing vir die rowende twis lê, soos hy dit uitpak, in die Kerkorde en die belydenisskrifte. Daarbenewens sentreer dit ten diepste eintlik om waarheid, of hoe?

By nabetragting en met die voordeel van prof Johan se kundige ontleding, is dit maklik om te erken dat ’n voorstel om die gemeentes te laat stem misplaas was, omdat dit in wese verdeel en die gevaar van onbehoorlike beïnvloeding daar bestaan. Tóg, die mistasting het die positiewe gevolg van sy kundige inspraak meegebring.

Die broedertwis is vanself ’n tragiese waarheid, wat droewig in die openbaar afspeel. Dit wentel om die Bybel en dwaling. Die Bybel en dwaling het bepaalde inhoud. Die twis is verweef daarin dat die absolute waarheid van die Bybel soos dit in Christus inhoud het, besoedel word deur dwaling vanuit die post-modernisme. Om absolute waarheid daar te soek, is nodeloos, want in daardie geloofsdimensie is waarheid bloot ’n keuse. Om daar te krap, lei tot kompro-mieë waarin beginsels prysgegee word, wat nou in die NG Kerk inhoud om die Bybel heen gevind het.

Dis wesenlik om oor dwaling kennis te neem. Jesus is dié een in die Bybel wat die meeste daarteen gemaan het. Paulus het in sy brief aan die Kolossense die gemeente gewaarsku om hulle nie te laat “wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is” nie. Die Amplified Bible stel dit só: “See to it that no one takes you captive through philosophy and empty deception (pseudo-intellectual babble), according to the tradition (and musings) of mere men.”

Twee aspekte hiervan is in hierdie debat belangrik. In Sy gelykenis oor die saaier en saad vertel Jesus van ’n vyand wat in die nag onkruid op ’n land met koring saai. In die Grieks is daardie onkruid zizania (botanies Lololium temulentum), oftewel drabok. Dis gif en kan doodmaak.

Onderweg kruis toe praat Jesus met Sy Vader in die onvergelyklike gebed (Joh. 17). Daarin bid Jesus: “Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid.”

In persverklarings was daar óók sprake van potensiële litigasie. Wanneer ’n mens, as prokureur, meer as 20 dagvaardings in ’n stryd tussen susterkerke (in dieselfde familie) oor ’n twis daar uitgereik en bestuur het, leer die ondervinding in die jare waarin die hofstryd gewoed het litigasie is futiel. Dit verdiep die skeur, is onbetaamlik duur (gegewe lidmate se bydraes betaal daarvoor) en los niks op nie. Dit veroorsaak bitterheid.

Dié gebeure moes einde kry. Gesprek was die onafwendbare antwoord. Dit, ten slotte, is wat die waarheid in hierdie onbetaamlike, sondige twis van die betrokke teoloë opeis.

Kommentaar

Daniel Louw

Kyk Koinonia en die NGK: Skeuring is al oplossing (Daniel Louw, 4 Apr 2024) wat op die artikel hierbo reageer.

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui