Vies proffies kan mos elders doseer

*******

BRIEWE | Vies proffies kan mos elders doseer | Rapport

Sondag, 21 April 2024

Gerhard Oosthuizen, Klerksdorp, skryf:

Akademia is die énigste van die meer as 30 universiteite en kolleges in die land wat ’n “behoudende en unieke Afrikaanse kultuur” nastreef, maar nou wil die woke-bende klaarblyklik dit ook afbreek (“Akademia-proffies in godsdienstwis”, 14.04).

Die liberale vernietigingsproses wat reeds ons land se universiteite en kolleges verwoes het, is reeds die voorland van ons Afrikaanse skole as gevolg van nuwe onderwyswetgewing.

Gun die gegriefdes by Akademia hul mede-Afrikaners dan nie eens één waarlik behoudende Afrikaanse universiteit in die land nie? Het enige van die gegriefdes al ooit enige klagtes oor die vernietiging van die Afrikaanse taal en kultuur aan die Universiteit van Stellenbosch tot die Matie-rektor, prof. Wim de Villiers, gerig?

Die galbrakery oor Akademia herinner my baie aan die kritiek wat dikwels op die VSA neerreën.

Dis vir my wonderlik snaaks hoedat letterlik miljoene mense vanoor die hele wêreld heen oor Amerika se landsgrense loop, vlieg, swem en kruip, net om maar later deur woke-liberaliste vertel te word hoe “hopeloos vrot en sleg” Amerika dan nou eintlik is.

Net soos wat Amerika se kritici die volste reg en vryheid het om na ’n land soos Venezuela te verkas, het Akademia se proffies die reg om by ’n ander universiteit te gaan werk as dit dan so onhoubaar daar is.

Dr. Bernhard Ficker, Somerset-Wes, skryf:

Dis verblydend om in die berig “Akademia-proffies in godsdienstwis” te lees dat daar nog tersiêre instellings is wat onbeskaamd Christelik is en nie hul studente met ’n totaal humanistiese filosofie probeer indoktrineer nie.

Dat die vrysinnige en postmoderne dr. Daan van Wyk van die Hervormde Kerk die situasie “steurend vind”, spreek boekdele ten goede. Vrysinnige teoloë moenie toegelaat word om alle tersiêre instellings te kaap nie.

Ek sou graag daardie konferensie van die Discovery-instituut wou bygewoon het as ek daarvan geweet het, want nes ek, aanvaar hulle nie dat alles op aarde suiwer per toeval uit niks ontstaan het nie, maar bevestig op wetenskaplike wyse dat daar onbetwisbare intelligensie agter alles sit. Lank leef Akademia!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui