Fanie Snyman moeg vir verdagmakery

Kyk ook:

“Moeg vir verdagmakery van [NG Kerk] teologiese fakulteite”, sê Fanie Snyman, in die artikel Morelexit: Hy is moeg vir die verdagmakery (kyk onderaan). Volgens hom is Moreletapark se aantygings dus alles onwaar.

Voor ek kom by voorbeelde van hoe die NG Kerk se teologiese fakulteite al die pad byster geraak het, net iets oor die redenasie van Fanie Snyman (en waarskynlik andere):

Hierdie artikel het ’n hele debat ontketen oor die teologiese fakulteite. Hier volg ’n lys van artikels wat deel was van hierdie debat:

Nader kuratorium oor klagtes

Hy redeneer dat as lidmate probleme met dwaling in die teologiese fakulteit het, hulle die toesighoudende liggaam (kuratorium) moet nader.

Dit is so goed jy sê: “Misdaad in Suid-Afrika? Dit is nie ’n probleem nie. As jy probleme met misdaad het, gaan net na jou naaste polisiekantoor. Volg net die regte sisteme en strukture.”

Ons almal weet dat dit nie sal help nie. Net so sal dit nie help om na die kuratoriums toe te gaan nie. Die kuratoriums is maar alte bewus van al die teologiese kwessies in die NG Kerk (kyk Lys van pleitskrifte aan NG Kerk leierskap), maar niks word daaraan gedoen nie, want die lede van die kuratoriums se teologie is hoogs waarskynlik self skeef.

Kontak dosente persoonlik

Snyman verstaan nie waarom daar nie persoonlik met dosente, waarmee die gemeente ongelukkig is, gepraat word nie.

Dit is so goed jy sê dat ons met die ANC in gesprek moet gaan oor die misdaad, korrupsie en grondhervorming sonder kompensasie. Die ANC weet wat die regte ding is om te doen. Hulle het daarteen besluit. Niks gaan hulle van opinie laat verander nie.

Of dit is so goed jy sê ek en George Claassen (of Richard Dawkins) moet gaan koffie drink en ons verskille bespreek. Wat op aarde sou die sin van so ’n gesprek wees? Daar is nie ’n kans dat een van die partye hulle standpunte sal verander nie.

Ek was persoonlik al in baie debatte met mense (kyk Lys van debatte). In nie een van die debatte het enige van die partye ’n sentimeter geskuif in hulle siening nie.

’n Persoonlike gesprek met hierdie dosente sal hoegenaamd nie ’n duit se verskil maak nie. Hulle het al hulle sieninge openlik bekend gemaak en daar was reeds heelwat gesprekke en selfs publieke debatte met baie van hierdie dosente. Daar het ook ’n boek verskyn (Die Trojaanse Perd in die NG Kerk) waarin beswaardes lidmate wou inlig wat in die NG Kerk aan die gang is.

Om ’n idee te gee hoe moeilik dit is om dwaalleraars aan te tree, kan Ben du Toit genoem word: Wynand Louw het hom aangekla en daar het niks daarvan gekom nie.

Die probleem is dat Snyman en kie hoegenaamd nie dink dat hulle dwaal nie. Inteendeel, volgens hom is dit húlle wat die Bybel op verantwoordelike manier lees, nie die behoudendes nie. Dit laat my dink aan Andries van Aarde wat Albert Geyser verdedig in RSG gesprek oor kettery en dwaalleer. Geyser se teologie was uiters liberaal. Hoe Andries egter vir Geyser verdedig is om te sê dat Geyser dan nooit self geglo het dat hy gedwaal het nie. Asof dit ’n argument is.

Snyman bluf en hy weet dit.

Kom ooreen om te verskil

Snyman mag redeneer dat ons nooit almal sal saamstem oor alles nie en dat ons ruimte moet maak vir mekaar. Kom ons kom ooreen om te verskil (“agree to disagree”). Jammer, maar dit is nie ’n opsie nie. Die verskille is wesenlik en tas die gereformeerde teologie en skrifgesag in wese aan. As jy die Bybel soos liberales “anders interpreteer”, dan het die Bybel geen gesag meer nie en ook geen waarde nie. Die resultaat is dat sondes, wat die Bybel as afskuwelik beskryf, in die kerk ingebring word.

Dwaling in die teologiese fakulteite

Hier volg ’n paar voorbeelde wat wys hoe die teologiese fakulteite lankal die spoor byster geraak het:

In 2005 spreek Jan Grey en Hennie Stander hulle bekommernisse uit oor die dwaalteologie wat by teologiese fakulteite geleer word. Kyk Kerklike ‘dwaalleer’ vir ál meer studente, teoloë onaanvaarbaar.

Opstandingsdebakel: Ferdie Mulder, ’n teologiese student van UP het proff Dirk Human, Jurie le Roux en Julian Müller gekonfronteer oor hulle sieninge oor Jesus se opstanding. In kort het dit gelei tot Ferdie Mulder se lewenslange skorsing by UP se teologiese fakulteit (ongeveer 2006), en genoemde professore het skotvry daarvan afgekom sonder dat dit vir hulle nodig was om hulle standpunt oor Jesus se opstanding te erken. Ten spyte daarvan dat die kuratorium bewus was van alles het hulle nie ’n vinger verroer nie. Vir meer hieroor, lees gerus Ferdie se boek, Opgestaan of lees opmerkings van Jan Louw, Coert Welman, Eckard Briedenhann of Chris Visser. Kyk ook getuienisse van studente:

In 2007 reik emeriti en afgetrede dosente van UP teologiese fakulteit ’n geloofstandpunt uit na aanleiding van teologiese strominge binne die NG Kerk (waarskynlik spesifiek die teologiese fakulteit ná die gebeure rondom Ferdie Mulder).

In 2010 laat die UP teologiese fakulteit toe dat die ateïs, George Claassen die fakulteit toespreek, maar kort daarna weier hulle dat ’n skeppingsleerder hulle toespreek (kyk UP Teologiese Fakulteit – Claassen in, Harwood uit).

In 2015 gee al drie die teologiese fakulteite baie duidelik hulle steun aan die progay sentiment (kyk NG teologiese skole progay).

Die progays in die NG kerk (Fanie ingesluit) het nou al vyf petisies  geteken om hulle steun aan homoseksualiteit te gee. Baie dosente van die teologiese fakulteite het hierdie petisies onderteken. Snyman beskuldig Moreletapark van verdagmakery, maar hy is self skuldig aan verdagmakery teen Chris van Wyk (kyk NG teoloë reageer).

Fanie Snyman glo nie dat Jesaja 53 na Jesus verwys nie en ontken die drie-eenheid in Genesis 1. Dit laat ’n mens wonder oor die res van sy teologiese sieninge. Tog is niks aan hom gedoen tydens sy loopbaan by Kovsies nie.

In 2011 word die woord “God” uit Kovsies se leuse gehaal. Nêrens hoor ’n mens dat die teologiese fakulteit daaroor kapsie gemaak het nie. In 2017 word die fakulteit se naam verander van “Faculty of Theology” na “Faculty of Theology and Religion” om ander gelowe meer te betrek. Fanie Snyman is baie opgewonde daaroor en sê daaroor: “This change signals openness in approach to other religions … The new name and restructuring of departments will lead to a new synergy that will have an impact on our teaching and research in the faculty. Exciting times lie ahead for the Faculty of Theology and Religion!” Ek sal baie graag wou hoor wat sy opinie is oor die hemel en hel en wie daarheen gaan.

In 2012 stel UP teologiese fakulteit vir André Bartlett aan. In 2017 vereer hulle hom as een van die eeu se verskilmakers.

In 2018 het Jan Louw ’n voorlegging aan die Vrystaatse kuratorium (!!!) gemaak. Niks het daarvan gekom nie.

Ook in 2018 het die teologiese fakulteit van Stellenbosch ’n “liefde is liefde” demonstrasie 

In 2016 is prof Hendrik Bosman, waarnemende dekaan van die teologie-fakulteit aan die Universiteit Stellenbosch een van die 11 wat ’n hofsaak teen die NG Kerk begin het (kyk Gay-huwelike: NGK-lidmate dreig met hof).

Op 5 Mei 2019 en 16 Junie 2019 het onderskeidelik Louis Jonker en Peter Nagel deelgeneem aan gesprekke RSG. Daarin skep beide ’n sterk persepsie dat dit ook moontlik is dat Moslems gered kan word. Ek sal verbaas wees as die kuratorium hierdie saak met hulle bespreek het.

Daar is te veel voorbeelde om op te noem. Hier is egter ’n paar name van dosente by die NG Kerk se teologiese fakulteite – kyk maar self wat hulle sieninge is:

Ten spyte van hierdie mense se soms gruwelike dwalings, wat universalisme insluit, het die kuratoriums nog niks daaraan gedoen nie. Maar Fanie stel voor dat lidmate hulle klagtes by die kuratoriums gaan lig. Dit sal sinneloos wees.

Nou hoor ek al die argument: Die persoonlike siening van dosente het niks te make met wat in die klas geleer word nie. Twak!!! Dit is juis die rede hoekom geen regdenkende Christelike gemeente ’n ateïs as ’n predikant sal aanstel nie (alhoewel dit soms gebeur – kyk Wie is Klaas Hendrikse? en Tuft University).

Professor Johan Janse van Rensburg het die volgende dag die artikel Daar ís probleme met teologiese opleiding geskryf. In kort sê hy dat daar alreeds baie gesprekke was, maar niks het gehelp nie.

Ek het verdere kommentaar en skakels in die artikel geplaas.

**************

Morelexit: Hy is moeg vir die verdagmakery

Deur Jana Marx

12 Junie 2019 06:02

Hy is moeg vir die verdagmakery van teologiese fakulteite, sê prof. Fanie Snyman, uittredende dekaan van die fakulteit teologie aan die Universiteit van die Vrystaat.

Snyman het gereageer op die verklaring deur die NG kerk Moreletapark in Pretoria oor #Morelexit.

In die verklaring word onder meer redes verstrek waarom Moreletapark moontlik uit die NG Kerkverband (NGK) wil tree. Dit sluit in besware teen die groter NGK se Skrifgetrouheid en Skrifgesag – “liberale en humanistiese besluite” wat die kerk glo neem – en “liberale tendense in teologiese opleiding”.

Volgens die verklaring “heers (daar) wye kommer” oor die “liberale tendense” by die drie fakulteite. Moreletapark wonder dan of die kommer gegrond is, “en of die leierskap van die kerk daadwerklik besig is om daaraan aandag te skenk”.

Snyman, wat ook aan die NGK verbonde is, het by navraag gesê teologiese opleiding is “hoog op die agenda” van die NGK se prioriteite.

“Elke teologie-fakulteit waar daar NGK-studente opgelei word, het ’n toesighoudende liggaam (kuratorium) wat genader kan word. Daar is ook ’n algemene kuratorium waarvan verteenwoordigers van die kerk en die verskillende teologiese fakulteite deel vorm. By elke sinodesitting van die verskillende streeksinodes dien verslae van die verskillende fakulteite. Ek is ook oortuig daarvan dat dekane van die fakulteite toeganklik sou wees vir ’n gesprek,” sê Snyman.

Snyman verstaan nie waarom daar nie persoonlik met dosente, waarmee die gemeente ongelukkig is, gepraat word nie.

“Ek vind die breë beskuldiging van ‘liberale teologie’ ongelukkig. Wat presies word daarmee bedoel? En wat is die alternatief vir ‘liberale teologie’ wat die gemeente graag sou wou sien moet gebeur? My indruk is dat die term gebruik word as ’n vae, verdagmakende term sonder om in meer besonderhede uit te spel wat bedoel word.”

Snyman sê om al drie fakulteite oor daardie kam te skeer, plaas as’t ware “al die dosente wat ook NG lidmate is, onder verdenking”.

Hy is ook nie oortuig dat daar ’n “wye kommer” heers nie. “Die teendeel is eerder waar,” sê Snyman.

“Tydens my termyn as dekaan het die leierskap van die NGK elk van die drie fakulteite (Universiteite van die Vrystaat, Pretoria en Stellenbosch) besoek en met dosente gepraat. Die leierskap van die kerk gee dus deeglik aandag aan teologiese opleiding wat vir voornemende predikante van die NG Kerk gebied word.”

Netwerk24 het Snyman se vrae en stellings aan Pieter Breytenbach, die gemeente se bedryfshoof, gestel, maar die gemeente wou nie kommentaar lewer nie.

“Die enigste ding wat ek wél kan sê, is ons is steeds in die proses is om ’n pad binne-in die kerk te stap . So, daar is nog verskeie goed wat ons besig is om te doen en wat ons nog vorentoe gaan doen, waaroor ons nog ’n besluit gaan neem.”

Sinodeleiers reageer op die verklaring

Dr. James Kirkpatrick sê een vraag wat hy aan Moreletapark sou wou vra, is: “As julle ’n probleem het met Skrifgebruik, sê wát daarvan is nie houdbaar nie? Eerder as om ’n té breë verdagmaking te gebruik, noem die goed op die naam.”

Hoewel Kirkpatrick die assessor van die Noordelike Sinode is, lewer hy in persoonlike hoedanigheid kommentaar.

Kirkpatrick verduidelik deeglike besinning oor Skrifgesag kom al van 1986.

“Die NGK het die afgelope 35 jaar herhaaldelik oor Skrif en Skrifgebruik nagedink. Daar was in 1998, 2002 en 2004 verslae. Die jongste was in 2015. Waarom sal Moreletapark nou, in 2019, eers wakker word?

“Ek begin wonder of hul teologie hulle nie inhaal nie. Hulle het lank hul finansiële voorspoed aan die Here se seën toegeskryf. Hulle kry die laaste paar jaar maar finansieel swaar. Kan dit wees dat hulle nou voel die Here straf hulle (omdat hulle deel is van die NGK)?”

Ds. André Bartlett, voorsitter van die Hoëveld Sinode, meen die spanning gaan die breër NGK skade aandoen.

Wat die grief oor teologiese opleiding betref, wys Bartlett daarop dat die Oostelike Sinode deel vorm van die kuratorium wat by die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Teologie betrokke is.

“As iemand iets aan besware op daardie vlak kan doen, is dit hulle! Ons moet nederig en respekvol wees oor dit waarop ons aanspraak maak. Waar dit gaan oor meningsverskille, is daar nog al die jare vir Moreletapark ruimte gemaak.”

‘Wees konsekwent’

Dr. André van Niekerk, voorheen ’n dosent in Christelike etiek aan Unisa, meen die verklaring “toon ’n gebrek aan die kuns van die verantwoordelike verstaan van ou tekste (hermeneutiek)”.

Hy sê Moreletapark sal konsekwent moet wees in sy Skrifbeskouing.

“Jy kry die tipiese modernistiese waarheid, waar alles letterlik is en alles vir altyd waar is.”

Volgens Van Niekerk is dít Moreletapark se waarheidsbegrip. Hy meen dit help nie Moreletapark dink fundamentalisties oor sekere Skrifgedeeltes, maar glo dan nie ook “die aarde staan op vier pilare nie, is in ses dae van 24 uur elk geskep of die vrou moet in die kerk swyg”.

[Kommentaar: Hierdie bly ’n gunsteling argument, maar daar is meer probleme met hierdie argument as wat dit help. Daar is reëls wanneer die Bybel gelees word. Een van die reëls is om die genre van die gedeelte in gedagte te hou. Dus, lees die Bybel soos dit bedoel was. Vir meer hieroor, kyk Verkondig die Bybel dat die aarde plat is?. As jy nie hierdie reëls wil volg nie, dan het die Bybel nutteloos geword, want dan kan jy daaruit neem net wat jy wil.]

Daarteenoor is daar “die post-moderne waarheid, waar elkeen besluit wat vir hom waar is”. “ ’n Bybelse waarheidsbegrip is egter ’n verhoudingswaarheid,” sê Van Niekerk.

Die reaksies is gestel aan Moreletapark, wat nie kommentaar wou lewer nie.

1 thought on “Fanie Snyman moeg vir verdagmakery”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui