Jesus bring nuwe perspektiewe op gender

Kyk ook:

Nina Müller van Velden is verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy het amper de laaste progay petisie geteken (kyk Lys van petisies deur progays).

Hieronder sê sy dat Jesus die gendergrense oorskry in Johannes 12:1-8 en Johannes 13:1-17. Dit is om die minste te sê, verregaande. Dit is duidelik dat sy desperaat is om ’n punt uit die Bybel te regverdig. Haar professore het haar egter daarvoor beloon met ’n doktorsgraad…

Kommentaar word in [rooibruin blokhakies] aangedui.

**************

Jesus bring nuwe perspektiewe op gender

9 April 2018 Jacobie M Helena

Dr Nina Müller van Velden het onlangs haar doktorsgraad suksesvol by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf. Die titel van haar proefskrif is: “When the lines are blurred: A gender-critical reading of the narratives of John 12:1-8 and John 13:1-17.” JACOBIE M HELENA het met haar daaroor gesels.

“Die radikale optrede van Jesus in sy eerste-eeuse konteks kan binne ons geloofsgemeenskappe ons eie persepsies van gender en dit wat ons as vanselfsprekend aanvaar uitdaag en ons uitnooi om te droom oor ’n ander werklikheid,” sê Nina.

Die manier waarmee Jesus met die karakters in die Johannes-evangelie omgegaan het, spesifiek met die fokus op die gender-dinamika in die verhale, het haar gemotiveer om oor die temas van voete-was en maaltye in die Evangelie van Johannes navorsing te doen.

Oor die genderdubbelsinnigheid in Johannes, sê Nina: “Ons sien in Johannes 12 hoe Maria, ’n ongetroude vrou, Jesus se voete met baie duur olie salf en met haar hare afdroog. Jesus het hierdie gebaar met oordrewe gemaklikheid ontvang. Die toneel sou in die antieke konteks as ’n baie erotiese toneel beskou word en tog het Jesus dit tot só ’n mate aanvaar dat hy vir Judas gekonfronteer het toe Judas teenkanting daaroor gebied het. [Judas het ’n probleem daarmee gehad dat sy so baie geld in die proses gemors het, nie omdat dit kwansuis eroties was nie. As erotika ’n probleem was, sou dit so in die Bybel gestaan het. Ek is egter nie seker wat Nina hier impliseer nie. Sê sy hiermee dat Jesus nie ’n probleem met hierdie “erotiese” aksie gehad het nie? Beteken dit dus dat Jesus nie ’n probleem het met erotika tussen ongetroude mense nie? Indien wel, is dit ’n leuen – kyk Matteus 5:27-29.]

“In Johannes 13, sien ons weer hoe Jesus, met die was van sy dissipels se voete, die gendergrense oorskry deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem. Die gebaar was ten diepste ’n oorskryding van die norme van die tyd aangesien slawe as genderloos gesien is en gebruiklik seksueel uitgebuit is. Dit was vir my baie interessant om te ontdek dat Jesus nie net die oorskryding van bepaalde gendergrense toelaat nie, maar dat Hy dit ook self uitbeeld. [Dit is absoluut verregaande om hierdie as gendergrense te sien. Dit lyk eerder of Nina baie desperaat is om ’n punt uit die Bybel te regverdig. Haar professore dink egter dat dit geldig is.]

”Verder in Johannes 13 sê Jesus vir sy dissipels dat hulle ook soos Hy moet doen. Uit ’n genderhoek beskou, sê Jesus basies vir hulle dat hulle die strukture en die rolle, waarbinne hulle as manlike Joodse persone leef, by die spreekwoordelike venster moet uitgooi. Jesus sê hiermee vir hulle in sy koninkryk werk dinge totaal en al anders.

[Ek sien nie hoe Johannes 12 en 13 enigsins die gendergrense wil oorskry nie.]

“lnteressant genoeg neem Jesus met dubbelsinnigheid genderrolle aan, laat dit toe en reageer daarop vanuit sy eie posisie van manlike gesag in sy konteks. Maar hierdie mag en aansien wat Hy teenoor sy vriende en sy dissipels het, wend Hy op lewegewende maniere aan. Jesus, as eerste-eeuse rabbi, klim nie noodwendig uit die sisteem nie, maar Hy gebruik die mag wat die sisteem vir Hom gee, op maniere wat vir mense ruimte gee.”

Die ontdekking van Jesus se optrede het vir Nina ’n waardevolle les geleer. “Dit was vir my ’n treffende oomblik toe ek besef dat ’n mens altyd met sisteme van mag, wat baie deur genderpatrone beïnvloed word, te doen gaan hê. Maar binne hierdie sisteme is daar ander maniere om goed te doen. Dit hóéf nie op ’n manier te wees wat mense uitsluit nie, maar dit kan juis op maniere wees wat mense insluit. Ons sien baie keer Jesus se optrede as totaal en al anders, maar ons kyk graag mis dat Jesus ook byvoorbeeld die bestaande patriargale sisteem gebruik het om sy roeping op aarde uit te leef. Dit kan ons bemoedig dat ons nie eers strukture en sisteme heeltemal hoef af te breek om ’n verskil te maak nie, maar dat ons binne afbrekende sisteme steeds lewegewende verandering kan bewerkstellig.”

Nina is opgewonde oor die lewegewende rol van insluiting en verandering wat die NG Kerk rakende gender-geregt igheid in Suid-Afrika kan speel.

“Ons as NG Kerk het ’n baie waardevolle rol te speel in ’n stukkende land waar die misbruik van genderverhoudinge en gendermag aan die orde van die dag is. Ons het die geleentheid om dit te verander eerder as om dit in stand te hou met ons teologiese nadenke soos wat ek beleef dit meestal nog die geval is. Verandering sal beteken dat ons veilige teologiese ruimtes moet skep waar ons mekaar kan hoor en steeds oor kwessies kan verskil. Eerder as wat ons maar net ’n Bybelse sousie oor die opinies wat ons reeds het gooi, kan Bybelverhale soos Johannes 12 en 13 ons tot nuwe insigte lei,” se Nina.

Nina vertel van die opgewondenheid wat sy by lidmate ervaar het wanneer sy met hulle oor haar navorsingsprojek gepraat het.

“Ek het agtergekom mense is regtig geïnteresseerd om die Bybel op ander maniere te lees en te hoor. Ek sal graag wil hê dat my navorsing tot huidige gesprekke van gender, seksualiteit en die Bybel in die kerk moet bydra en die geleentheid vir lidmate bied om dieper te reflekteer oor hoe bekende verhale soos Johannes 12 en 13 in ons eie konteks nuwe betekenis kan kry. Wanneer ’n mens die geleentheid kry om te besef watter radikale verskil daar in die uitleef van gender in die antieke tyd en vandag se konteks is, word daar nuwe moontlikhede geopenbaar van hóé radikaal Jesus óók oor gendergrense opgetree het,” sê Nina opgewonde.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui