Raad aan NG studente ná André Bartlett aanstelling by Tuks

Kyk ook:

Raad aan NG studente na André Bartlett aanstelling by die sentrum vir bedieningsontwikkeling by die Universiteit van Pretoria – 3 Februarie 2012

(Van www.opgestaan.com gekopieer)

Jody Nel se berig “Andre Bartlett na Tuks se kweekskool” van 27/1/12 in Beeld het my die begeerte gegee om hierdie briefie vir jou te skryf. In die berig skryf sy dat Dr André Bartlett onlangs aangestel is as hoof van die sentrum vir bedieningsontwikkeling by die Universiteit van Pretoria. Klaarblyklik sal al die teologie studente wat predikante in die NG Kerk wil word voortaan deur sy hande gaan.

Wat ervaring en kennis betref, is Dr Bartlett natuurlik ’n swaargewig – daardie krediet gee mens hom graag. Sy persoonlikheid behoort ook aantreklik vir sommige jong studente te wees. Op Facebook lees mens egter van die verontwaardiging en teleurstelling van sommige Christene oor hierdie aanstelling. Dalk stel jy belang om te weet hoekom dit die geval is? Dr Bartlett is ’n prominente teoloog in die NG Kerk wat die afgelope aantal jare ’n noue vriendskap met Prof Julian Müller het, ook ten tye van die leerdwaling ondersoek in 2006 waarby ek betrokke was. Dr Bartlett het Prof Müller bygestaan tydens die ondersoek en gereeld buite orde begin praat en ook voor die uitspraak sy opinie in die media gaan uitspreek. Beide Dr Bartlett en Prof Müller het met hand en tand baklei dat geen getuienis van Prof Adrio König (wat krities belangrike vrae aan Prof Müller oor Jesus se liggaamlike opstanding gestel het) toegelaat mag word tydens die ondersoek nie. Hulle het toe die kommissie se arm gedraai gekry (waartydens die bandopnemer afgeskakel was). Hierdie gebeure word in detail in my boek Opgestaan uiteengesit.

Op akademiese vlak is daar natuurlik ruimte vir die verskeidenheid van interpretasies in die teologie en wetenskappe – dit kan en mag tog nie anders by ’n universiteit nie. Die afgelope aantal jare is daar interessant genoeg ook besonder positiewe ontwikkelinge in die teologie aan die gang, veral in Europa en Noord-Amerika. Ou liberale paradigmas wat dekades lank die geloofwaardigheid van die Evangelie ondermyn het word al hoe meer beskou as uitgedien en gebou op nie-standhoudende filosofiese voor-veronderstellings.

Ongelukkig het die jare 2001-2006 onteenseglike bewys gelewer van die opbloei van ou liberale paradigmas by veral Tukkies. Hierin het Prof Müller en Dr Bartlett ’n leidende rol gespeel. Ekself het in 2007 om gewetensredes bedank uit die NG Kerk omdat ek saam met ’n groterwordende groep gelowiges tot die oortuiging gekom het dat die rigting waarin teoloë soos Prof Müller en Dr Bartlett die kerk stuur, soos ons dit beleef die hart van die Evangelie ontsettende skade berokken. Met respek, dit is hulle goeie reg om met my en ander te verskil wat dit betref, en natuurlik is daar ook mooi dinge wat mens by hulle kan leer. Ek was egter studente voorsitter van die NG studente vereniging in 2004/5 by Tukkies (en het natuurlik self ook foute begaan!) en het eerstehands gesien hoe sommiges uiteindelik totaal hoop verloor het vir die toekoms, ander opgeskop het, ander klone van dosente geword het en so meer.

Ek is bevoorreg om in Cambridge, Engeland en Europa besig te wees met navorsing. ’n Paar wenke indien jy dalk belang stel:

  1. Moenie ’n lui student wees nie. Lees altyd weier as jou voorgeskrewe werk!
  2. Werk kliphard in Grieks en Hebreeus – op die lang duur sal jy nie spyt wees nie!
  3. Moenie alles vir soetkoek opeet wat as die “nuwe konsensus”, “nuut” of “kreatief” voorgehou word nie. Hiermee saam: onthou, daar is vriendelike en aangename mense wat dinge glo en leer wat jy weet Jesus nie gelukkig maak nie.
  4. Onthou: baie wêreldklas teoloë glo met integriteit in ’n Jesus wat nie net mooi wyshede geleer het nie, maar ook maagdelik verwek is, gekruisig is vir ons sondes en opgestaan het teen die dood toe hy letterlik uit die graf opgewek is. Gaan soek hierdie wêreldklas teoloë se boeke as dit nie voorgeskryf word nie.
  5. Soek daardie geestelike leiers op wat jou gaan aanspoor om regtig naby die Here te lewe en vrugbaar te wees in Sy Koninkryk.
  6. Die heel belangrikste: onthou jou daaglikste persoonlike stiltetyd met die Here. Dít het menige studente al deur moeilike tye gedra.
  7. Soms kos dit guts om alleen vir die Here op te staan.

Vriendelike groete

Ferdie Mulder
BTh (met lof); MTh (Tukkies); M.A. (Durham, Engeland); PhD Promovendus (Nederland).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui