Kerklike ‘dwaalleer’ vir ál meer studente, teoloë onaanvaarbaar

Kyk ook:

Alreeds so vroeg as 2005 het dr. Jan Grey en prof. Hennie Stander besef dat die NG Kerk se teologiese fakulteite op die verkeerde pad is. Intussen het die volgende gebeur:

  • Julian Müller en Jurie le Roux van UP teologiese fakulteit bevraagteken Jesus se opstanding.
  • Ferdie Mulder is geskors uit die teologiese fakulteit van Pretoria (kyk Opgestaan)
  • George Claassen, ’n ateïs, het in 2010 die teologiese fakulteit UP se opedag geopen, maar wou nie Mark Harwood, ’n skeppingsleerder toelaat om die studente toe te spreek nie (kyk UP Teologiese Fakulteit – Claassen in, Harwood uit)
  • Die kuratorium van Stellenbosch het aan die Algemene Sinode van Oktober 2015 gevra dat selibaatheid as voorwaarde vir gay leraars geskrap word (kyk Laat NG kerkrade oor gays besluit).
  • Die dekaan van die Vrystaatse fakulteit, wat tradisioneel as die mees “behoudende” van die drie beskou word, prof. Fanie Snyman, het by navraag gesê: “Ek steun Stellenbosch se beskrywingspunt volledig en is daarvan oortuig dat die oorgrote meerderheid van ons dosente ook die beskrywingspunt steun. Dit is net onhoudbaar dat selibaatheid as vereiste bygevoeg word vir afgestudeerde teologie-studente met ’n homoseksuele oriëntasie en wat graag predikante in die NG Kerk wil word.” (kyk Lakmoestoets vir NG Kerk)
  • Prof Dirk Human van die Universiteit van Pretoria het by die Algemene Sinode 2015 gesê: “Ek dink nie dat die sewe tekste (wat oor homoseksualiteit handel) iets sê oor selfdegeslagverhoudings soos ons dit ken nie.”

In Ferdie Mulder se boek Opgestaan vertel prof. Stander ’n verhaal wat in sy kantoor by Tukkies afgespeel het:

Voor my sit ’n derdejaar student. Wanneer hy begin praat, sien ek sy oë swem in trane: ‘Professor, ek wil met u praat. Ek worstel met my geloof. Hoe kry u dit nog reg om in Jesus te glo?’ Ek kan nie onthou hoeveel teologie studente in die afgelope twee jaar in my kantoor kom sit het met dieselfde vraag nie. Later begin hy onbeskaamd snik en sê: ‘Professor, ek voel soos ’n verraaier. Tuis in my ouerhuis glo ek saam met my ouers en is ek aktief betrokke in ons gemeente, maar wanneer ek hier by die universiteit kom, word baie van die dinge waarin ek glo, in die klas met minagting afgelag. Skielik dink ek aan dit wat iemand op ’n keer vir my gesê het: “Die teoloë leef met die geld van gelowiges, maar hulle ondergrawe die geloof van dieselfde gelowiges.

***********

Kerklike ‘dwaalleer’ vir ál meer studente, teoloë onaanvaarbaar

Aparte kweekskool beplan

MARLENE MALAN Kaapstad, 22 Mei 2005

Samesprekings het reeds ver gevorder om ’n aparte of vrye teologiese seminarium, apart van die kweekskole van die Universiteit van Pretoria, van Stellenbosch en van die Vrystaat, te begin “weens die dwaalleer waaraan studente by van die fakulteite onderwerp word”.

Verskeie teoloë met wie Rapport die afgelope week gepraat het, het erken dié gedagte is besig om momentum te kry nadat sekere teologiese studente laat blyk het hulle voel hulle nie meer tuis in dié fakulteite nie.

‘n Afvaardiging vertrek later vanjaar na Amerika om navorsing by ’n teologiese seminarium in Pasadena, Kalifornië, te doen.

Dié instelling het sowat 27 000 teologiese studente, het dr. Jan Grey, leraar van die NG gemeente Pretoria-Oosterlig, aan Rapport gesê.

Grey sê studente dwarsoor die land het begin kla “oor die dwaalteologie waarna hulle by die kuratorium moet luister. Dié liberalisme, wat die Skrifgesag ernstig in twyfel trek, het begin deursuur na die kuratoriums.”

Volgens hom kos net die teologiese fakulteit van die UP die staat sowat R14 miljoen per jaar, waarvan die kerk sowat R1,3 miljoen gee.

“Dis dus te verstane dat gewilde standpunte gehandhaaf word om die goeie gesindheid van die staat te behou. Maar ek dink dis nodig dat die gemeentes, predikante en gewone lidmate van die NG Kerk weet wat teologieprofessore vir teologiestudente leer. Gemeentes moet druk op kuratoriums begin uitoefen om iets drasties aan dié onhoudbare situasie te doen.”

En oor die huidige situasie van spanning tussen die sogenaamde liberale standpunt teenoor die behoudende of meer evangelies gereformeerde benadering sê prof. Hennie Stander van die departement Antieke tale en professor in Grieks aan die Universiteit van Pretoria: “As die NG Kerk voortgaan om te steier onder die druk van gewilde standpunte en in grys gebiede bly rondploeter, gaan hy ’n duur prys betaal. Dié kerk sal moet begin om ’n sterker standpunt oor bepaalde sake in te neem. Daar is ’n algemene beskouing dat die NG Kerk nie meer fut het nie.

“Die topstruktuur van die NG Kerk moet ophou ontken dat daar diepe ongelukkigheid by lidmate en studente is. Dis nie waar dat die groot middelbaan van 80% lidmate en teoloë tevrede is nie. Kerkleiers besef nie hoe diep die ongemak loop nie — óf hulle ontken dit. Hulle het voeling met die grondvlakdenke verloor. Hulle sal tot besinning moet kom om kerkeenheid te handhaaf.”

Grey sê van die waarhede wat ernstig aangetas word — ook in teologiese fakulteite, is veral dié van die maagdelike geboorte, die fisieke opstanding van Jesus en homoseksualiteit. “As die Skrif, wat uitdruklik is oor dié sake, langer verdag gemaak word, sal die kerk bly kwyn.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui