Anonieme getuienis van UP teologiese student

Kyk ook:

Hier volg ’n anonieme getuienis van iemand wat teologie by die Universiteit van Pretoria gestudeer het. Hy was ’n tydgenoot van Ferdie Mulder.

***************

Ek deel graag dele van my getuienis van my ondervinding met die liberale teologie by die Universiteit van Pretoria in die vroeg 2000’s. Ek wil egter anoniem bly om verskeie redes waarvan die belangrikste is omdat ek baie hieroor gebid het, en nie vrede het om mense op die naam aan te vat nie. Ek moes deur ’n proses van vergifnis gaan, en ek kan nie terug op hierdie pad sonder om iets van die vergifnis te misken nie.

Maar tog voel ek om my getuienis in kort te deel, aangesien die liberale teologie een van die dinge in die NG Kerk is wat mense wegvat van ons Koning Jesus af.

Nie alles negatief nie

Die Here het my in die tyd wat ek by die fakulteit was baie dinge geleer. Baie dinge uit die mond van behoudende teoloë, en baie dinge uit die mond van liberale teoloë. En dit wat ek uit die liberale teologie geleer het, was om nie net alles te aanvaar nie, maar om vrae te vra en dinge te ondersoek.

Nog ’n ding is (as ’n mens dit positief kan noem) is: studente wat deur hierdie vuur van studie gekom het en wie se geloof die toets deurstaan het (as ek so die Bybel mag aanhaal) is vir die Kerk van Jesus baie meer werd as studente wat net eensydig behoudende teologie geleer het.

Eerste ontnugtering

In my eerste jaar het ons Ou Testament by ’n sekere Doktor (nou Professor) gehad. Hy het met ons oor konteks gepraat, en dit het my gepla hoe hy verduidelik het dat die Ou Testament niks met Jesus te doen gehad het nie. Ek het aanklank by ’n ander Professor in Ou Testament gevind, soos baie ander studente, aangesien hy so ’n sagte en meelewende mens was. Ek het met hom daaroor gaan praat, en hy het aan my verduidelik hoe die mense van die Nuwe Testament, insluitende Jesus, een aspek van die rykdom van die Ou Testament geneem het, en buite konteks verkeerdelik ’n hele nuwe Godsdiens gebou het.

Bronne van hulp

In my tydperk van studie het ek na baie bronne van hulp gesoek om my deur die vallei van Liberale opleiding te neem. Ek het die voorreg gehad om die Universiteit Duitsland te besoek. Daar was ek ook in Tübigen wat bekend staan as een van die mees liberale teologiese fakulteite. Mense wat die Here liefhet, het my geneem na ’n tipe van koshuis: Albrecht-Bengel Haus. Hierdie koshuis was daar vir teologiese ondersteuning aan teologie studente om hulle die behoudende alternatief op die liberale teologie te gee. En ek dink hierin lê deel van die antwoord op die liberale probleem. Ek het gedurende my studies aan die kuratorium hierdie tipe ondersteuning genoem. Hulle het hulle eie ondersteunings stelsel geskep waar studente individueel met dominees kon skakel om oor probleme en vrae te praat. Hierdie het om twee redes nie gewerk nie. Eerstens was meeste van die dominees self liberaal (aangesien hulle deur ’n liberale kuratorium gekies is), en tweedens was besoeke in meeste gevalle ’n jaarlikse formaliteit wat geen begeleiding kon wees nie.

Ek is bewus van talle briewe wat aan die kuratorium geskryf is om te kla oor die eensydige liberale teologie, maar ek is nie bewus van een antwoord daarop nie.

Ek het bevriend geraak met ander studente wat baie sterk teenoor die liberale teologie gestaan het. Ons het verskeie oorde van hulp probeer. Een daarvan was om dominees van buite af te kry om iets te probeer doen. Maar dit het byna niks gehelp nie.

Ons het op ’n keer met ’n professor in Kerkgeskiedenis gepraat en dit het vir my gevoel of hy die eerste persoon is wat ons klagte ernstig opneem. Ek onthou sy verontwaardiging en ontnugtering daardie dag. Hy is onlangs by die fakulteit weg doelbewus om ’n “statement te maak” (sy eie woorde). Ek weet hy het vanuit sy posisie baie probeer, maar het seker ook gesien hy kan nie meer daarmee saam gaan nie.

Ons het eenkeer selfs na die media gegaan (GROOT FOUT) om na buite te wys dat daar iets fout is, maar ons is totaal buite konteks aangehaal.

Die persepsie van ons wat ontevrede was, was duidelik een van verkrampte konserwatiewe fundamentaliste, en dit is nie wat ons was nie. Ook in die fakulteit het dit gaandeweg vir my begin voel of, indien ek geglo het en iets oor geloof gesê het, dit as on-akademies en onintelligent afgemaak is. Dit was duidelik dat geloof en liberale teologie nie saamgaan nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui