Resensie van Ferdie Mulder se Opgestaan deur Coert Welman

Kyk ook:

Voorwoord

Laat ek sommer nog voor ons die wegspringblokke verlaat prontuit erken dat ek geen teoloog is nie. Die fakulteit aan die UP waar ek my studies voltooi het is ’n hele entjie wes van die Teologiegebou en glad nie deel van die geesteswetenskappe nie. Die naaste wat ek aan formele teologiese opleiding kom is 11 jaar se kategese en belydenisaflegging in ’n gemeente van die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika. Ek is al lang jare nie meer ’n Dopper nie, alhoewel ek steeds enorme respek het vir die GKSA en steeds ’n behoudende geloofsiening handhaaf. Ek het my lidmaatskap opgesê en by Doxa Deo se Brooklynkampus aangesluit in my studentejare. Hierdie resensie is bloot geskryf as mede-Christen en iemand wat baie besorg is oor die dwalinge wat betref die geleidelike en voortbeurende ontkenning van Jesus se letterlike opstanding en goddelikheid wat besig is om pos te vat in kerke wêreldwyd, maar meer spesifiek in die NG Kerk wat steeds tot ’n groot mate die rol van bastion van die Christendom vir Afrikaans-sprekende gelowiges vervul.

Inleiding

Opgestaan deur Ferdie Mulder is ’n baie dapper boek om te skryf vir verskeie redes.

’n Eerste persepsie wat mag bestaan is dat hierdie boek beskou kan word as ’n verontskuldiging deur iemand wat skuldig bevind is aan oneerlikheid en dit boonop nog ’n lang ruk na die gebeure afgespeel het. So amper om ou wonde oop te krap en ’n oneerlikheidsbevinding te probeer verdedig. ’n Tweede persepsie is dat dit ’n laaste desperate poging van ’n vernederde student is om gesiene professore se name swart te smeer. Ons sal later terugkom na hierdie persepsies.

Ek was geheel en al in die duister oor die drama wat homself afgespeel het by die UP in die jare 2001-2006 wat in hierdie boek beskryf word. Op daardie stadium was nuus iets wat News24 se voorblad gehaal het wanneer ek 8 uur die oggend vinnig na opskrifte geloer het. Intussen verneem ek dat daar wel ’n voorblad berig oor die Opgestaan saak was, maar dit het in Kaapse koerant, Die Burger, verskyn. In retrospek is ek baie jammer dat ek hiervan onbewus was, want dit is ’n saak wat baie gebed benodig het.

Hoekom ’n resensie?

Wat wel my nuuskierigheid geprikkel het toe ek die eerste keer van die boek bewus geraak het, is dat ’n vriend van my destyds in 1997 en 1998 ’n soortgelyke ontnugtering as Ferdie gekry het tydens sy teologiese studies aan die UP. Sy geloof het ’n baie ernstige knak gekry en hy het aan die einde van sy tweede jaar sy teologiese studies gestaak om eerder regte te gaan studeer omdat hy sy aptyt geheel en al vir God en Sy Woord verloor het. Hy het die opmerking gemaak dat, aangesien alles wat ons weet van ons geloof en die hemel vals is, hy maar gaan oorskakel na die Regte om sodoende ’n goeie plek in die hel te onderhandel, met die aanname dat die hel wel bestaan. Dank die Vader dat daardie knak nie permanent was nie en dat hierdie vriend deesdae ’n pragtige en onbeskaamde ambassadeur is vir Christus. Ek wou dus die paadjie sien wat Ferdie deurtrap het en hoe dit ooreenstem en verskil van die paadjie wat my vriend gestap het.

Die nodigheid vir ’n resensie het ook by my opgekom as ’n sigbare vorm van ondersteuning teen ’n vloedgolf van negatiewe kritiek jeens Ferdie vanaf die liberale bende wat met rasse skrede besig is om die NG Kerk oor te neem. ’n Resensie vanuit die pen van ’n gewone Christen sonder formele teologiese opleiding behoort hopelik ook ’n idee te verskaf van wat ten minste sommige gewone mense op straat jeens al hierdie dinge voel.

Die boek

Opgestaan was voorwaar nie ’n gemaklike boek om te lees nie, ten spyte van die relatief gemaklike skryfstyl. Die inhoud is gewigtig en ek kan werklik nie sien hoe enigiemand sal kan wegstap van die boek met ’n gevoel van gemak nie. Ek vermoed die party, asook hulle meelopers en eensgesindes aan die kant van die aanklag teen Ferdie behoort hierdie boek net so ongemaklik te vind om te lees as vir die gewone kerkganger en UP student of alumnus, aangesien Ferdie se kant van die storie al die jare stilgehou was en dat die boek kwessies oopkrap wat heel gerieflik verberg was.

Die leiding en bystand wat Ferdie van die Heilige Gees ontvang het tydens hierdie debakel, asook tydens die skryf van hierdie boek is duidelik te bespeur. Die vergewensgesindheid waarmee Opgestaan geskryf is, is geheel en al bomenslik. As ek die gevoelens van verontregting, wanhoop, hartseer en bakleierigheid in ag neem wat ek gevoel het na ek die verhaal gelees het, kan ek myself net indink hoe die boek daarna sou uitsien as ek dit vanuit persoonlike ervaring moes geskryf het. En ek lees hierdie boonop nog mosterd-na-die-maal!

Wat is Opgestaan nie?

Laat ons die twee persepsies hierbo vermeld ondersoek. Is Opgestaan ’n verontskuldiging van ’n oneerlikheidsaanklag? Allermins! Deurentyd erken Ferdie die foute wat hy begaan het en wys hy hoe hy dinge anders en beter van sy eie kant af kon hanteer het. Dit is iets wat erg tekort skiet by die professore en hul eensgesindes se skrywes tydens en na die tyd. Al wat daar te bespeur is, is verontwaardiging en foutloosheid. Die Engelse term “self-righteous chest-thumping” is dalk meer gepas. Ferdie staan egter onwrikbaar dog nederig by sy kernstandpunte en dit is baie duidelik dat hy weer dieselfde oorhoofse pad sou stap as hy tyd kon terugdraai.

Is Opgestaan ’n laaste desperate poging deur ’n vernederde student om gesiene professore se name swart te smeer? Geensins. Ferdie skryf deurentyd saaklik en professioneel. Hy plaas die feite op die tafel. Let wel: feite en nie interpretasie van feite nie. Daar is interpretasie van gebeure wat aangetref word, maar wanneer dit kom by die onderskeie professore is dit feite. Interpretasie van die feite word aan die leser oorgelaat. Toegegee, my interpretasie is nie besonders vleiend nie, maar dit daar gelaat.

Wat is Opgestaan?

Opgestaan is ’n baie nodige vertelling van ’n bitter swart tyd in die geskiedenis van die NG Kerk en dit is ’n kant van die storie wat nog nooit geopenbaar is nie. Eensydige verslaggewing in die media, asook amptelike universiteits- en kerkverklarings het ten beste ’n halwe storie vertel. Dit was eenvoudig nie die volle storie en nog minder die volle waarheid nie.

Wat het op die ou einde oorgebly van hierdie debakel?

Iets wat ek opgemerk het op ander fora is dat al wat van die Ferdie Mulder-saga oorgebly het na die stof gaan lê het, is dat dit ’n student was wat skuldig bevind is aan oneerlikheid. Dit is duidelik te siene in die reaksie op Kerkbode se Facebook-blad in Desember 2011 (http://www.facebook.com/kerkbode/posts/287098284674807). Iemand het Mulder se naam opgebring en Jean Oosthuizen (nuusredakteur by Kerkbode en ook webmeester van Kletskerk) het met die Kerkbode-gebruikersnaam die volgende reaksie gehad oor die NG kuratorium ondersoek teen Mulder (spelling sy eie):

Kerkbode Ferdie het onder andere ’n dokument wat hy wou gebruik om dosente van dwaalleer aan te kla gedokter deur studente se name daarop aan te bring sonder dat hulle die dokument ooit onder oë gehad het. Hy het ook die oorspronklike dokument wat wel deur ’n aantal studente onderteken was na die tyd aangepas. Al die studente (behalwe een) wat die dokument onderteken het, het hulle later daarvan gedistansiseër. Ferdie se dissiplinêre verhoor het plaasgevind onder voorsitterskap van ’n onafhanklike regter en hy is bygestaan deur ’n senior advokaat.”

As die leser dalk sou belangstel om die spesifieke plasing te lees, volg die skakel hierbo en tik die volgende in die soekhokkie: “28 Desember 2011 om 04:08 NM”.

’n Baie duidelike geval van die “wenner” wat die geskiedenis skryf om hom te pas. Oosthuizen noem byvoorbeeld glad nie die volgende nie:

  • Die verstellings aan die verklaring was op aanbeveling van ’n Tuks professor.
  • ‘n Klomp studente was deur die kuratorium gedreig.
  • Ferdie het voor die ondersoek begin het, om verskoning gevra vir tegniese foute.

Maar die grootste afwesigheid in Oosthuizen se opmerking is die toesmeer van uitsprake deur sommige teoloë. So verneem mens inter alia dat die Bybel ’n “gekonkel” van mense is; dat Jesus nooit maagdelik verwerk was nie; en dat Jesus se liggaam gesteel was en herbegrawe is ens. Vir enigiemand wat die boek goed gelees het behoort Oosthuizen se opmerkings maar ’n klein gedeelte van die volle prentjie te wees.

Mens sou die vraag kon vra of hierdie episode homself anders sou afgespeel het indien Ferdie behoorlike regsadvies ingewin het met die opstel en publikasie van die studenteverklaring en dit geheel en al regstegnies hanteer het, aangesien dit duidelik is vanuit die opsomming van die gebeure dat dit op die ou einde neergekom het op bloot ’n paar regstegniese aspekte. Daaroor kan mens maar bloot spekuleer.

Skuldigbevinding en vonnis

Ek wil graag die skuldigbevinding en opgelegte vonnis van die Tuks verhoor (waar klagtes deur die NG dosente en dekaan gelê was) bespreek. Ferdie Mulder is skuldig bevind aan oneerlikheid. Lees egter presies hoe tegnies die universiteits bevinding was en hoeveel feite geïgnoreer is! Die logiese vonnis vir oneerlikheid sou ’n skorsing gewees het van alle verdere studies aan die Universiteit van Pretoria. ’n Oneerlike student kan mos nie geduld word op kampus nie. Tog is Ferdie slegs geskors van enige verdere studies aan die Fakulteit Teologie. Dit slaan mens dronk.

Sou mens baie sinies hierna kyk is dit baie maklik om tot die gevolgtrekking te kom dat daar ’n vooropgestelde uitslag moes gewees het. Belangrike en uiters relevante bewyse is geweier, en sinodale besluite en verklarings is geïgnoreer wat dus die indruk wek dat die klaers en kommissie toegelaat is om die verhoor te beheer. Ten spyte daarvan is die uiteindelike vonnis bitter lig in die broek. Amper ’n “na regte is jy nie skuldig nie, maar ons moes jou skuldig bevind, dus hier is die ligste moontlike straf wat die ‘powers that be’ gelukkig sal maak”. Die straf spreek doodeenvoudig nie tot die oortreding nie en dit is wat die wrang smaak in mond los.

Ten slotte

Opgestaan deur Ferdie Mulder is ’n boek wat baie anders daarna kon uitgesien het. Dit kon verbitterd en nydig gewees het. Maar dit is nie. Dit sluit selfs af met ’n boodskap van hoop, wat, as ek doodeerlik moet wees, ek nie deel nie. Opgestaan is ’n boek wat baie maklik leesbaar geskryf is en wat ’n baie ontstellende, hartseer en onnodige verhaal baie saaklik vertel. Dit is ’n moet vir elke persoon wat glo dat Jesus letterlik uit die graf opgestaan het, wat besorgd is oor die NG Kerk en veral ook ’n boek wat elke voornemende teologiestudent moet lees.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui