Onrus oor teologie-opleiding nié verdagmakery

Kyk ook:

Die volgende debat het begin deur Fanie Snyman se brief (kyk Fanie Snyman moeg vir verdagmakery).

************

Onrus oor teologie-opleiding nié verdagmakery | Netwerk24

Deur Prof. Johan Janse van Rensburg, Bloemfontein

21 Junie 2019

Dr. Michiel Strauss van Kaapstad se brief “Gereformeerde tradisie is nié dooie tradisionalisme” (18.06) het betrekking.

Kan dit wees? Die debat oor teologiese fakulteite is langer as 20 jaar aan die gang, maar dr. Strauss glo nog steeds (soos dié wat op Moreletapark kommentaar gelewer het) dat daar niks verkeerd is nie.

Hy gebruik sy akademiese CV om ons te oortuig dat hy weet waarvan hy praat. Ek verkies egter om my nie op my akademiese CV te roem nie, maar om eerder op die feite te konsentreer.

Dit is juis interessant dat dr. Strauss nie reageer op die twee voorbeelde wat ek in my brief, “Daar ís probleme met teologiese opleiding” (13.06), gebruik het nie. Dit is immers feite wat bewys dat daar ’n duidelike onderskeid tussen ’n gereformeerde teologie en akademiese vryheid is.

Die begrip “vrysinnig”, wat dr. Strauss blykbaar pla, verwys net na denke wat anders as die standaard is (in dié geval gereformeerd). Ek verkies doelbewus dié term en nie die begrip “liberaal” nie.

Dr. Strauss is teleurgesteld in my brief, maar hy het nie eens die moeite gedoen om by my navraag te doen nie. Ons was immers in die verlede akademiese kollegas.

Eintlik is dit ’n tipiese reaksie.

Ek het verlede jaar in die Vrystaatse sinode ook gesê daar is fout met die teologiese opleiding. Die dekaan en die hele kuratorium was teenwoordig. Niemand het egter op die vergadering of daarna navraag gedoen of beswaar gemaak nie.

Dit spreek vanself dat koerantkolomme nie die geskikte ruimte is om alles te openbaar nie.

Indien iemand in kerklike en/of akademiese kringe belangstel, is ek heeltemal tot ’n oop gesprek bereid. Dan moet ons egter bereid wees om na die feite te kyk.

Die onrus in die kerk oor teologiese opleiding gaan nie weggaan deur dit as verdagmakery af te maak nie.

Oor: “Daar is probleme met teologiese opleiding”: Baie dankie prof. Johan dat u die probleme waarmee die NG Kerk en haar lidmate worstel so duidelik uiteensit. Hoe lank gaan dit die leiers nog neem om te erken dat hulle nie meer gereformeerde teologie verkondig nie en reeds ver hiervan afgedwaal het?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui