Verkondig die Bybel dat die aarde plat is?

Hennie Mouton som hierdie kwessie baie mooi op in sy boek Skepping vs Evolusie – Onversoenbaar!, bl 59-60, wat gratis afgelaai kan word. Ek het hoofsaaklik van daar geleen of direk aangehaal.

Die idee dat alle vroeër mense in die geskiedenis in ’n plat aarde geglo het, is foutief. Die historikus Jeffrey Burton Russell (1934-*) het die plat aarde mite meer as 20 jaar gelede deeglik weerlê in sy studie Inventing the Flat Earth.

Die vier hoeke van die hemel in Jeremia 49:36, die vier hoeke van die aarde, soos beskryf word in Jesaja 11:12, Openbaring 7:1 en Openbaring 20:8, en die vier hoeke van die land in Esegiël 7:2, is netso min ’n letterlike beskrywing as Jesus se verwysing na die vier winde van die aarde in Matteus 24:31 en Markus 13:27.

Hier volg die dele in die Bybel wat gebruik word om te redeneer dat die Bybel ’n plat aarde verkondig:

  • 1 Samuel 2: (8)Hy laat die geringes uit die stof opstaan, Hy hef die armes op van die ashoop af om hulle by vername mense te laat sit; Hy skenk hulle ’n ereplek. Aan die Here behoort die pilare van die aarde; Hy het die aarde daarop gegrondves.
  • Psalm 104: (5)U vestig die aarde op sy fondamente sodat dit nooit sal bewe nie.
  • Jeremia 49: (36)Ek laat die vier winde losbreek teen Elam, die winde uit die vier hoeke van die hemelruim, Ek verjaag hulle al die windrigtings in; daar sal nie ’n nasie wees nie of van Elam se vlugtelinge sal daar beland.
  • Jesaja 11: (12)Die Here sal ’n vaandel oprig onder die nasies en sal die ballinge van Israel bymekaarmaak, die verstrooides van Juda laat saamkom van die uithoeke van die aarde af.
  • Openbaring 7: (1)Daarna het ek vier engele by die vier hoeke van die aarde sien staan. Hulle het die vier winde van die aarde vasgehou, sodat daar geen wind op die land en op die see en teen enige boom sou waai nie.
  • Openbaring 20: (8)Dan sal hy gaan om die nasies wat tussen die vier uithoeke van die aarde is, die Gog en Magog, te verlei, en om hulle byeen te bring vir die oorlog. Hulle is so baie soos die sand van die see.
  • Esegiël 7: (2)En jy, mensekind, so spreek die Here HERE tot die land van Israel: Einde! Die einde het gekom oor die vier hoeke van die land. (1953 vertaling)
  • Matteus 24: (31)En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.
  • Markus 13: (27)En dan sal Hy sy engele uitstuur, en Hy sal sy uitverkorenes uit die vier windstreke versamel, van die einde van die aarde af tot by die einde van die hemel.

Die “vier hoeke” of “vier windrigtings” beteken bloot “van orals” of “orals op” of “beskou alles” en probeer duidelik nie die vorm van die hemel, die aarde of die land Israel weergee nie. Bogenoemde kan byvoorbeeld hoegenaamd nie in terme van beskrywings van werklikhede met Genesis 1 tot 11 vergelyk word waar werklike gebeure, name, ouderdomme ensovoorts weergegee word nie. Daar is in ieder geval ’n paar verwysings in die Bybel na die rondheid van die aarde:

  • Job 26: (10)Hy plaas die horison op die see, ’n grens tussen lig en donker.
  • Spreuke 8: (27)Ek was daar toe Hy die hemelgewelf opgerig het, toe Hy die horison oor die see afgemerk het
  • Jesaja 40: (22)God het sy troon bokant die hemelkoepel…
  • Job 26: (7)ook nog genoem dat die aarde in die leë ruimte hang: “God sprei die hemel uit oor die leë ruimte, Hy laat die aarde hang waar niks is nie.”

Alhoewel bogenoemde verwysings ook moontlik simbolies is, wonder mens nogal oor die objektiwiteit van die Bybelkritici wat nooit na hierdie verse verwys nie. Die historikus Jeffrey Russell het aangetoon dat die kerk nooit aan ’n plat aarde geglo het, of gedink het dat dít die implikasie van die vier hoeke van die aarde is nie. Slegs ’n paar eksentrieke karakters, yl versprei oor die laaste 20 eeue, het dit verkondig.

Bybel as wetenskaplike handboek

Sekerlik is die Bybel nie in die eerste plek ’n wetenskaplike handboek nie – daar bestaan nie ’n indeks waarin mens ’n spesifieke wetenskaplike onderwerp kan opsoek, en dan alles daaroor mooi bymekaar beskryf kan vind nie. Maar skeppingsleerders glo dat die wetenskaplike en geskiedkundige gegewens in die Bybel waar is. Wat sou die sin vir die alwetende God gewees het om foutiewe wetenskaplike inligting in die Bybel te laat aanteken het? Hoekom sou die Here ’n fiktiewe verhaal van Adam en Eva gebruik om die begrip van die oorsprong van die mens se sonde oor te dra, en eeue later sy eniggebore Seun werklik laat sterf het vir die sondes waarvan die oorsprong slegs simbolies is? Skeppingsleerders glo dat die eenvoudige antwoord is dat Adam en Eva en wat daarop volg, werklik gebeur het.

Die Bybel bevat verskillende genres

Moet alles in die Bybel dus letterlik verstaan word? Nee. Die Bybel bevat byvoorbeeld die volgende genres:

  • Wet: Levitikus en Deuteronomium. Hierdie boeke is egter ook geskiedenis én het ten doel om God se karakter aan ons te openbaar.
  • Geskiedenis: Genesis, Eksodus, Numeri, Josua, Rigters, Rut, 1 en 2 Samuel, 1 en 2 Konings, 1 en 2 Kronieke, Esra, Nehemia, Ester, Jona en Handelinge.
  • Wysheid: Job, Spreuke en Prediker. Spreuke en Prediker is suiwer wysheid, terwyl Job egter ook geskiedenis is.
  • Poësie: Psalms en Klaagliedere. Daar is egter selfs in die Psalms geskiedenis opgeteken – bv Ps 78 bevat ’n opsomming van die geskiedenis van die uittog uit Egipte.
  • Evangelie: Matteus tot Johannes. Die Evangelies is eintlik ook geskiedenis omdat dit Jesus se geskiedenis op aarde weergee.
  • Briewe: Romeine tot Judas.
  • Profesieë: Jesaja, Jeremia, Esegiël, Daniël, Hosea, Joël, Amos, Obadja, Miga, Nahum, Habakkuk, Sefanja, Haggai, Sagaria en Maleagi. ’n Mens moet egter onthou dat hierdie boeke soms selfs meer geskiedenis bevat as net profesieë.
  • Apokaliptiek (handel oor die wederkoms): Dele van Daniël en Openbaring.
  • Gelykenisse: Vervat in die Evangelies, Matteus tot Johannes.
  • Romans: Die Bybel bevat selfs romans soos Hooglied.

Dus moet die Bybel verstaan word soos dit geskryf is. Lees:

  • metafore as metafore;
  • poësie as poësie;
  • letterlike geskiedenis as letterlike geskiedenis ensovoorts.

In die Bybel word daar oorlog gemaak met swaarde, spiese en skilde. Is dit dus hoe ons vandag ook oorlog moet maak?

In die Bybelse tyd het mense weefstoele gebruik, druiwe met hulle voete gepers en koring met die hand uitgeslaan. Moet ons steeds slegs van hierdie tegnologieë gebruik maak?

In die Bybel (2 Samuel 13) word vertel hoe Amnon vir Tamar verkrag het en hoe Absalom wraak geneem het en Amnon vermoor het. Dawid het nie vir Absalom behoorlik hieroor gestraf nie. Is dit hoe ons ook vandag sulke situasies moet hanteer?

Is daar iemand wat beweer dat Jesus se gelykenisse van byvoorbeeld die saaier (Mat 13:3) of die gelykenis van die 5 verstandige en 5 onverstandige meisies (Mat 25:1) letterlik gelees moet word? Het Jesus na werklike mense verwys toe Hy hierdie gelykenisse vertel het?

Die antwoord op al bogenoemde vrae is natuurlik “nee”. Hoekom redeneer mense dan dat die Bybel ’n plat aarde verkondig?

In Nataniël se gedig Moederaarde, sê hy:

Sy vryf haar moeë bene.
Sy’t ’n lang pad geloop.
Sy wonder oor haar kinders.
Dis haar heel laaste hoop.
Sy vou haar hande saam
Soos ’n eensaam gebed
O, wanneer gaan ons leer
Sy’s al wat ons het

Moet ons redeneer dat Nataniël voorwetenskaplik is? Nee. Dit is gewoon net beeldspraak.

Vandag is daar steeds mense wat aan ’n plat aarde glo. Die ironie is dat hulle leier, Daniel Shenton, ook aan evolusie glo (kyk Flat earth leader is an evolutionist!)

Islam

Moslems het egter ’n probleem omdat die Koran sê dat die son in ’n modderpoel ondergaan. Vir meer hieroor, kyk Qur’an Error: Does the Sun Set in a Muddy Spring? (Surah 18:86)

Kyk ook

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui