Die glybaan na ongeloof

Kyk ook:

Hier volg ’n brief van iemand aan Hennie Mouton, skrywer van Skepping vs Evolusie – Onversoenbaar!.

Hi Hennie

Ek is die afgelope 3 dae besig om jou boek oor evolusie te lees. Ek wil graag vir jou dankie sê vir hierdie boek. Die boek is vir my ’n baie sterk geloofsversterking. Ek het groot waardering vir jou respek en omgang met die Bybel as die Woord van God. Iets wat my natuurlik ook opgeval het was jou kritiek op die kweekskole wat gou daarop is om enige nuwe teorie oor die Bybel te aanvaar bv. dat die Bybel tydens die Babiloniese ballingskap ontstaan het. Toe ek op kweekskool was is dit presies wat ek geleer is. Ons was nooit geleer om die professore se teorieë te bevraagteken nie. [Daniel: Dit is ook die probleem op skole en universiteite – studente word nie geleer om dinge te bevraagteken nie; hulle moet bloot leer wat aan hulle gegee word om te leer, nl evolusie.]

Toe ek my meesters in Kerkgeskiedenis gedoen het moes ek maar met skok ontdek dat ek nooit gereformeerd opgelei is om met die Woord van God om te gaan nie. Die historiese kritiek sowel as vorm kritiek (hierdie metodes kom van Bultmann wat die hele Bybel as ’n mite beskou het) is vir ons gegee as die metodes waarmee ons die Bybel moet benader. Tydens my lees van die kerkgeskiedenis het ek op Abraham Kuyper afgekom wat hierdie metodes as Skrifaanranding beskryf het. Hy het ook gesê dat as hy die Bybel lees is dit nie Moses of Johannes wat tot hom spreek nie maar die Here self. Dit was sy antwoord aan die kritici wat die outeurskap van die Bybel bevraagteken.

Die hartseer is dat ek by twee universiteite teologie gestudeer het en by albei is hierdie benaderings gevolg. Ek het onlangs met ’n predikant wat in die 70’s opgelei is gepraat en hy het vir my gesê dat dit gebeur het in 1980 toe die kweekskole besluit het om deel van die universiteite te word en so fakulteite geword het. So moes hulle begin om aan wetenskaplike navorsing te voldoen. Die gevolg is dat ons vandag sit met predikante wat vir 3 dekades opgelei is om nie gereformeerd met die Bybel om te gaan nie. Die liberale standpunte wat nou uitkom is maar net ’n tydbom wat gewag het om te bars. Die kweekskole, die NG kerk en gemeentes pluk nou die vrugte van die teologiese opleiding.

[My onderstreping]

********************

Let daarop dat kweekskole dit nie nodig ag om beide Bultmann en Kuyper se benadering aan studente voor te hou nie, maar slegs die skewe/verdraaide benadering van Bultmann. Gelukkig het die persoon hierbo nie sy geloof verloor nie, maar hierdie het my laat dink aan iemand wat wel sy geloof verloor het in ’n kweekskool, Dit was Charles Templeton. Die artikel The slippery slide to unbelieve beskryf hoe dit gebeur het. Templeton, was ’n evangelis saam met Billy Graham en het baie mense toegespreek. In daardie tyd het kerkbywoning met 17% verhoog. Templeton het egter geen teologiese opleiding gehad nie en het by Princeton gaan studeer. Princeton het evolusie met die Bybel versoen en Templeton het so sy geloof verloor. Hy het later die boek “Farewell to God” – My reasons for rejecting the Christian faith – geskryf.

Net na “In his autobiography, Farewell to God, Charles Templeton lists his ‘reasons for rejecting the Christian faith’.” in die artikel gee Templeton die redes hoekom hy besluit het om nie meer in God te glo nie. Daar is egter baie goeie antwoorde vir al sy vrae, as hy oop sou wees vir skeppingsleer (kreasionisme) en nie net geglo het dat evolusie bewysde wetenskap is nie.

Kyk ook

[Creation Magazine Live, http://creation.com/creation-magazine-live-episode-7, Episode 7: Did God use evolution to create?, 24:30] (Ek het hierdie video’s alreeds afgelaai van die internet. Laat weet my as jy dit wil hê.)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui